Dis moontlik om jou huwelik te red

Dis moontlik om jou huwelik te red deur Anet Schoeman. Foto: Everton Vila vir Unsplash

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dis altyd die moeite werd om ’n huwelik te probeer red, sê Kobus van der Merwe van Imago-verhoudingsterapie in Pretoria.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar ’n bos blomme, of ’n oppervlakkige gesprek is bloot ’n pleister op ’n dieper seer. Hy sê mense wat die krisis suksesvol aanpak, skep groei in die verhouding en kan agterna 300 – 400 persent gelukkiger in die verhouding wees en ’n sterk gevoel van intimiteit ervaar.

Lees ook: Skep so meer intimiteit in jou verhouding

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Die groot probleem is dat mense nie die vaardighede het om die krisis op te los nie. Selfs mense wat met verslawings, of dreigemente van selfmoord en egskeidings worstel, kan dit te bowe kom wanneer hulle gaan sit en met die regte leiding met mekaar in gesprek tree.”

Hy meen dat mense wat nie binne ses weke die krisis met openlike gesprekke afgeweer het nie, liefs ’n berader moet gaan spreek.

Foto: Priscilla Du Preez vir Unsplash

Ons verwag vandag meer van ’n verhouding as vorige geslagte, sê Gail Wrogeman, ’n gesinsterapeut van Johannesburg. Destyds was die doel van ’n huwelik meestal status, kinders en sekuriteit.

“Rolle het verander en nou vra mense buiten liefde ook vriendskap en pret en dat hulle saam in die verhouding groei. Hulle bevraagteken die verbintenis wanneer dit nie vervulling bring nie. Baie kinders kom uit enkelouer-huishoudings waar hulle nie twee rolmodelle het vir die skep van ’n gelukkige verhouding nie. Dis later vir hulle soms verwarrend om te weet wat hul rol in ’n volwasse verhouding is.”

Huwelike was eeue gelede dikwels blote “saketransaksies” waardeur naburige plase saamgevoeg is, of waar een familie se rykdom die ander uit ’n verknorsing gehelp het. Om ter wille van die liefde te trou was toe eintlik ondenkbaar. Daar was ander strukture wat beheer oor mense se geluk gehad het, soos die kerk of die landheer.

Nou is ons in beheer van ons geluk en keuse van lewensmaats, maar ons het nie noodwendig die kennis om die huwelik te laat slaag nie. In die vorige bedeling was verliefdheid  iets wat in ’n skelm verhouding gebeur het en dit was nie nodig om so ’n verhouding in sy volheid te vestig en aan die gang te hou nie. Deesdae beskou ons liefde as die wegspringblokke vir ’n huwelik en kies ons heel ander lewensmaats.

Kobus verduidelik dat verliefdheid nie bewustelik gekies word nie. “Dis jou onbewuste wat jou knieë skielik lam maak wanneer jy verlief raak. Jy het met ’n heel ander dinamiek te make wanneer jy met die onbewuste werk. Die onbewuste stel nie daarin belang om iemand te kies wat jou gelukkig gaan maak nie. Volgens die Imago-benadering is dit eerder iemand wat jou gaan help om die volle uitdrukking van jouself moontlik te maak.”

Lees ook: Wat jy moet weet voordat jy trou

’n Gejaagde lewe

Die praktiese aspekte van die lewe plaas heelwat spanning op paartjies: kinders moet by skole, buitemuurse bedrywighede en maters afgelaai word; daar is kosmaak, skoonmaak en huishou … As albei werk, moet hierdie take verdeel word, anders bou wrokkigheid op.

Twee geslagte gelede het paartjies mekaar nodig gehad om op ’n praktiese en finansiële vlak te oorleef, sê Gail. “Dit het hulle bymekaar gehou. Eietydse generasies het veel meer geleenthede om ’n vervulde huwelik te hê, maar ook veel meer geleenthede om mekaar te verlaat. Die vraag is nie óf julle uitmekaar gaan groei nie, dis eerder wánneer dit gaan gebeur. Dis belangrik om dinge saam te doen en ervarings te deel. Daar is ’n fyn balans tussen alles alleen doen en die huwelik interessant hou, en die deel van dinge sodat julle iets gemeen het.”

Lees ook: Swaai uit vir hierdie verhoudingslaggate

Foto: José Martín Ramírez Carrasco vir Unsplash

Verhoudings verg werk

Soms kan ’n goeie, openlike gesprek die lug suiwer en dit moontlik maak om jou behoeftes aan jou maat te verduidelik. Wanneer dit nie werk nie, moet julle die hulp van ’n fasiliteerder inroep, soos ’n berader wat die gesprek lei om ’n vrugbare uitkoms te verseker. Gail sê paartjies verkeer soms onder die wanindruk dat ’n huwelik ’n sprokie moet wees waarin almal altyd gelukkig is.

“Verhoudings is iets waaraan jy konstant moet werk om seker te maak dat dit gesond bly, maar ook kan aanpas by die veranderende behoeftes van ’n vennootskap tussen twee mense.

“Dis belangrik om voor die tyd seker te maak dat julle dieselfde verwagtings van die verhouding het. Soms stel ons te hoë eise aan ’n verhouding en verwag dat ’n geliefde op alle vlakke in ons behoeftes moet voorsien, terwyl vriende en familie hierdie rolle ewe goed kan vervul.”

Lees ook: Word weer hartsmaats

Verskillende benaderings vir terapie

Huweliksberaders onderskei hoofsaaklik tussen twee benaderings tot verhoudingsterapie. In die individuele benadering word ’n verhouding gesien as die toevallige botsing tussen twee individue en jy jou eers op ’n geestelike vlak gesond moet maak voor jy ’n verhouding kan red.

Die tweede benadering is die Jung-gegronde benadering wat glo dat dit ’n bedoelde botsing vol betekenis is wanneer twee mense bymekaar uitkom. Imago-verhoudingsterapie hang die laaste benadering aan en glo dat jy gesond word juis omdat jy binne ’n verhouding is.

Lees ook: 3 maniere om jou “ou” geliefde in ’n nuwe lig te sien

Hoe kies jy ’n huweliksberader?

Hoewel daar heelwat boeke op die rak is om mense met probleme in hul verhouding te help, sê Kobus dat verhoudings soos klavierspeel en sport is. “Jy kan stapels boeke oor die onderwerp lees, maar jy gaan nooit klavier of tennis kan speel as jy dit nie werklik gaan oefen en toepas nie. Die beste manier om verhoudings te heel, is om werkwinkels by te woon en met albei partye in die verhouding te werk.”

Moenie tou opgooi wanneer jy nie dadelik die regte berader opspoor nie, sê Gail. “Hou aan soek tot jy een kry by wie julle aanklank vind.”

Sy waarsku dat die verantwoordelikheid vir berading nie net op die vrou se skouers moet rus nie. ’n Verhoudingsterapeut vertel dat paartjies haar soveel keer kom spreek maar dat die een vierhonderd persent in die berading inkoop en die ander een teësinnig deelneem. Terapeute is in sulke omstandighede selde suksesvol.

Lees ook: 5 dinge wat niemand jou vertel voordat jy trou nie

Foto: TienDat Nguyen vir Unsplash

Mans soek ook vervulling

“Maar moenie die hedendaagse begeerte na persoonlike groei onderskat nie,” sê Gail. “In baie gevalle is mans net so gretig om ’n meer vervullende verhouding te hê. Dis belangrik om ’n oplossing te kry wat vir die behoeftes van die mans sowel as dié van die vroue voorsiening maak, want dit kan verskil. ’n Tweede kans kan die geleentheid wees vir die vestiging van ’n dieper en vervulde verhouding en ’n veel gelukkiger huwelik.”

Kobus sê wanneer jy by ’n berader uitstap en jy is kwater en magteloser as voor die sessie, is jy by die verkeerde berader.

“Systap beraders wat jou met religieuse verwagtinge skuldig laat voel.”

Lees ook: Sou jy weer met haar trou?

Maar hy/sy het my verneuk

Volgens Gail ontwikkel ’n affair nooit in isolasie nie. Dinge begin gewoonlik skeefloop wanneer mense nie ten volle in hul eie verhouding aanwesig is nie.

“Vroue is geneig om in hulself te keer en mans soek vertroosting buite die huwelik. Dit kan wees dat die vrou nie emosioneel beskikbaar vir haar man is nie omdat sy al haar emosies in die kinders of familie belê. Op dié wyse word die kinders die vrou se ‘affair’.”

Lees ook: Vir goeie raad oor gelukkige verhoudings en seksuele gesondheid, loer hier

Die onsigbare egskeiding

Kobus noem dit ’n onsigbare egskeiding wanneer paartjies op ’n emosionele en intieme vlak tou opgooi om die verhouding te probeer red. Die huwelik word bloot funksioneel en sonder enige emosionele vervulling.

Hy beskryf die verloop van ’n verhouding as ’n proses.

“Mense raak verlief en wanneer hulle die verhouding met ’n troue of kinders bevestig, verander die dinamiek van verliefdheid in ’n magstryd. Dis wanneer die endorfienwolkie van verliefdheid, waaronder ons glo dat ons dieselfde dink en doen, verdwyn. Nou kom jou brein skielik agter dat jy steeds ’n unieke persoon is en eers daarna begin die groei namate die paartjies moet skaaf om mekaar se uniekheid te akkommodeer. Hierdie magstryd is pynlik wanneer jy nie die vaardighede het om daarby aan te pas nie.

“Wanneer daar nie groei is nie, skakel die magstryd oor in ’n oorlewingsfase waarin mense ter wille van oorlewing op ’n emosionele vlak uit die verhouding tree. Dit maak hulle weerloos ten opsigte van skelm verhoudings en verslawings wat hulle gebruik om die pyn in die verhouding te verlig.”

Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat?

Wat kan jy doen?

Maak so gou moontlik werk daarvan. Neem ’n besluit dat julle ’n oplossing gaan soek wat julle in staat sal stel om weer op die huwelik en mekaar te fokus.

Dit help ook nie jy vergewe en vergeet die hele kwessie ná ’n misstap wanneer jy nie die oorsaak van die probleem behoorlik ondersoek het nie. Dit kan die ideale geleentheid wees om mekaar se behoeftes werklik te leer ken en te groei, of jy kan met ontkenning alles onder die mat vee en op dieselfde wankelrige fondament voortbou. Tot die volgende krisis …

Praat daaroor en kry professionele hulp as dit moet. Sien dit eerder as ’n noodkreet om die huwelik te laat werk as ’n doodskreet om dit te beëindig.

Volgens die Imago-benadering is dit juis die verskille tussen mense wat groei bewerkstellig en ’n verhouding tot sy volheid sal laat gedy. Kobus sê dat die 15%-20% harde werk wat ’n verhouding vereis, jou ryklik gaan beloon met ’n huwelik wat soveel meer is. Maar dis belangrik dat pare in dialoog leef en leer om mekaar se werklikheid te besoek: plaas jou in die ander een se skoene sodat jy nie altyd die prentjie net van jou kant af sien nie. “As meer mense die kuns van werklik luister en praat bemeester, sal veel minder mense terapie nodig hê,” sê hy.

Terapeute waarsku ook dat die redes vir die onmin in die verhouding jou na die volgende verhouding gaan agtervolg as jy nie die oorsaak ondersoek en werk daarvan maak nie. Dis alleen dán wanneer jy ’n volwasse verhouding sal kan ervaar.

Lees ook: Hoe om beter oor seks te praat

En toe gebeur dit met jou …

“Ons is nou die eerste keer eerlik met mekaar,” sê Linda* ná sy en haar man ’n jaar lank uitmekaar was voor hulle weer met berading hul huwelik van 35 jaar kon red. ’n Onbenullige argument was die laaste strooi, en jare se onuitgespreekte wrokkighede het na die oppervlak geborrel.

“Ek het eers ’n berader gaan spreek om uit te werk wat ek uit die verhouding wil hê, en daarna het ons saam sessies gehad. Ons volwasse seun het ook van die sessies bygewoon omdat hy woedeuitbarstings oor van die kwessies in die huwelik gekry het. Ek en my man is albei baie nugter en vir die eerste keer práát ons werklik met mekaar en vee nie net die probleme onder die mat in nie. Ons het iemand nodig gehad om ons deur die proses te lei en te help om mekaar weer te vertrou en ou wonde te heel. Ons seun het ook baat daarby gevind en sy huwelik en persoonlike verhoudings is op ’n nuwe pad.”

Melanie* vertel dat haar man haar ná ’n huwelik van tien jaar vertel het dat hy reeds die afgelope sewe jaar ’n verhouding met ’n kollega het en haar wil verlaat. Sy was histeries en diep seergemaak, maar het ook besef dat sy haarself nooit op alle vlakke in die verhouding beskikbaar gestel het nie. “Ek wou altyd die geborgenheid van ’n huwelik hê, maar toe die kinders kom, was dit vir my die vervulling. Ek het al my tyd en emosies op hulle uitgestort en my man het tweede in my hart gekom. Van buite het ons na ’n lieflike gesin gelyk, maar dit was leeg. Toe ek skielik besef dat ek hom kan verloor, het ek alles in die stryd gewerp om die huwelik te red. Ons het ’n berader gaan spreek en ek het stadig maar seker geleer om op ’n emosionele vlak openlik met my man te wees en hom op alle vlakke in my hart toe te laat. Dis twintig jaar later en ons is steeds gelukkig bymekaar – in ’n veel beter huwelik as wat ons voor die krisis was.”

Lees ook: Gaan jou huwelik ’n baba oorleef?

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.