Deur: Elna Rossouw.
Foto’s & grimering: Willem Botha, Willem Botha Beauty
Stilering en klere: Diaan Daniels Couture
Hier’s een van ons gunsteling-onderhoude met haar:
In haar rooi rok en met ’n suiwer stem het Nadia Beukes teatergangers verlede jaar as The Sound of Music se barones op hul voete gehad. (Dit moet in haar DNS wees … haar pa is immers Rouel Beukes, die Suid-Afrikaanse operasanger.)
In die telenovela Diepe waters was sy vir die eerste keer ná vyf jaar terug op die kassie. Die kykers het haar geháát as die intimiderende Michelle en was verlig toe sy ná ’n skoot in die bors gesterf het.
Dit nadat sy pas weer in Binnelanders was om die rol van Anya te vertolk, ’n kankerpasiënt wat haar lewe moes herbou nadat sy letterlik van huis en haard ontslae geraak het.
Dit is alles uitdagende rolle wat haar veelsydigheid as sangeres en aktrise beklemtoon.

Ons ontmoet op ’n Woensdagoggend in die Centurion-teater se koffiewinkel. Ons sukkel om bymekaar uit te kom. Haar oudste seuntjie, Davey (7), is vanjaar skool toe; die vyfjarige Joshua is in graad RR, en nadat sy gewonder het wat sy vanjaar werkgewys met haar tyd (behalwe stemwerk en oorklanking) gaan doen, het haar jaar skielik vlam gevat. “Boonop staan ek voor ’n geleentheid waaroor ek net kon droom,” vertel sy met ’n geheimsinnige glimlag.
Haar hare is in ’n poniestert vasgebind; haar oë is ’n besonderse groen. Haar vel is glad en mooi. Sy lyk jonger as 43 jaar. Oor ’n cappuccino borrel sy van lewenslus, praat met passie oor haar gesin, en vertel met groot dankbaarheid van nuwe geleenthede wat oor haar pad gekom het.
“Ek is bevoorreg én geseënd om ’n man soos David de Villiers aan my sy te hê.” Dié man wat sy heel toevallig deur familievriende ontmoet het tydens die speelvlak van Liefling, die musiekblyspel wat in 2014 by die Monte Casino-teater opgevoer is. Kort ná dié kennismaking, het Nadia weer in die (plaas)pad geval om Boer soek ’ n vrou aan te bied. Sy vertel: “Dié werklikheidsreeks het my geleer om dapper te wees, en om ’n kans op die liefde te waag. Vir verskeie redes was ek in daardie stadium van my lewe baie versigtig en bang om my hart te vertrou, maar gelukkig het David my ook ’n kans gegee!”
Vandag is dit tien jaar ná die twee ontmoet het (hulle is in 2016 getroud).
“Huis ís my man en kinders – huis is nie ’n gebou nie. Ons het in ons getroude lewe seker al agt of nege keer getrek, en elke keer raak dit vir my makliker om van goed ontslae te raak. Dit is bevrydend om lig te kan lewe. As sakeman is David by eiendomsontwikkeling betrokke en as hy dink dit is tyd om ’n huis te swaai, dan pak ons op! Dit het nogal vir my tyd geneem om hieraan gewoond te raak – ek hou van struktuur − maar nou sou ek dit nie anders wou hê nie. Deur jouself van materiële goed of ‘stuff’ los te maak, leer ’n mens wat belangrik in die lewe is.
“Dis jou hartsmense, jou binnekring, wat jou voed en laat groei. Ek glo dis ’n voorreg om ’n ma te wees, maar ek weet ook ‘it takes a village to raise a child’. En hoe geseënd is ek nie om David, twee stelle oumas en oupas, ’n besonderse huishulp en ’n au pair te hê wat met die kinders kan help as dit nodig is nie. Ek sien elke dag die Here se hand in my lewe.”
Die besondere band tussen Nadia en haar gesin (“ons noem onsself die Diffies”), én haar ma, Eureke, straal uit dié artikel se foto’s waarna ons vinnig op haar selfoon kyk. “Dit help natuurlik dat ek en Willem (Botha) mekaar al jare lank ken en ook saam gesing en opgetree het. Hy’s ’n dierbare vriend en ken my regtig goed. Ek kan by hom ontspan al is dit voor die lens van ’n kamera.”

By ’n foto van haar ma talm sy. “Kyk hoe mooi is sy, en dit op 70! My ma is ’n stukkie goud. Sy is saggeaard en gelowig. Sy kan altyd die lig sien. Sy kan die wa deur die drif trek. Dis eienskappe wat ek haar beny. Sy leer my so baie van ma-wees.
“Ek kan nie een keer onthou dat sy gekla het as my pa weg was om op te tree nie. Sy het haar eie loopbaan as onderwyseres gehad, verkies om nie in die kollig te wees nie, en sê altyd: ‘Get up, dress up and show up’. En dis veral die show up wat my anker,” sê Nadia.

“Ek glo jy moet ‘show up’ – dáár wees vir jou kinders, jou man, jou huwelik. En as daar dan ’n rol oor jou pad kom, moet jy repeteer, voorberei en nie bang wees as die rol jou uitdaag nie. Dit is juis die rolle wat ’n mens uitdaag wat jou ook die geleentheid gee om te groei. Jy moet net hard werk, altyd jou heel beste gee en vertrou dat dinge sal uitwerk soos dit moet.
“My naam ‘Nadia’ beteken om hoop te hê. Watter blessing het my ouers nie oor my uitgespreek nie? Dit mag dalk esoteries klink, maar hoop lê nie vir my in die toekoms nie. Hoop is die grondslag van wat jy elke dag doen om ’n toekoms te bou. Jy moet elke dag wérk om jou drome te verwesenlik.”
“Om kinders groot te maak, is nie altyd maklik nie, veral nie seuntjies nie,” vertel Nadia laggend. “Hulle is woelig en rof, laf en lieflik! Gelukkig het David net soveel energie as dié twee, en saam doen hulle dinge wat sommer by voorbaat my tong laat uithang.
“Om die eise van ’n gesin en ons al twee se loopbane te balanseer, is ook nie maklik nie. Ons is in die rush hour van ons lewens; ons kan net ons heel beste doen, lief vir mekaar wees en ons lewe in die Here se hande plaas.”
En of dit nou ’n nuwe geleentheid vir David of haar is, vra hulle altyd eerste hoe dit hulle as gesin sal beïnvloed. “Maar David gee my ook vlerke om te vlieg. Tydens The Sound of Music was ek amper twee maande in die Kaap en hy was my grootste cheerleader.”
Haar grootste wens is dat haar kinders gelukkig moet wees. “Hulle moet hul eie mense wees; hul eie persoonlikhede ontwikkel; en altyd weet ek is aan hul kant. Ons is ’n span.”
Nadia glo ook daaraan om van kleins af oop gesprekke met hul kinders te hê. “Ons probeer skermtyd tot die minimum beperk (dit is nie altyd moontlik nie!) en lees graag saans saam stories.’ Ons vra vrae, probeer fyn luister, ’n bewustheid van mekaar skep en sê: ‘Dankie liewe Jesus vir …’”
As gesin probeer hulle ook naweke saam met die kinders wegbreek. Vakansietye op Heroldsbaai waar haar skoonouers ’n huis het, is ekstra spesiaal. Sy voeg blinkoog by hoe hulle vanjaar haar ouers se 70ste verjaardae op die eiland Krabi in Thailand gaan vier. “Ons het ’n jaar daaraan beplan! My broer en sy gesin (wat al lank in Australië woon) en wat ons vyf jaar gelede gesien het, ontmoet ons daar. Ek kan nie wag nie.”

Nadia se jaar is vol belofte. “Daar is natuurlik altyd die moontlikheid van nuwe rolle en geleenthede wat my opgewonde maak. Wie weet wat die jaar en die toekoms nog gaan inhou … ek droom groot. Ek sien uit na die nuwe seisoen in my lewe. Met die kinders op skool, kry ek meer tyd om op my loopbaan te fokus wat ook vir my lekker is.”
Voor ons groet, vra ek haar wat die woord “harmonie” vir haar beteken. Hoe vind sy harmonie in haar besige lewe?
Sy skaterlag: “Ek steek gegeurde kerse oral deur die huis aan!”
Op ’n ernstiger noot deel sy wat sy destyds as lid van die a cappella-groep Cutt Glass geleer het: “Jy het verskillende stemme en toonhoogtes nodig om ’n melodieuse geheel te skep. Harmonie is nie een stem nie, dit is note wat bymekaar pas. Om dít in ’n gesin te hê, moet ons vir almal plek maak en ruimte gee om hulle eie note te sing. Jy moet elkeen van jou gesin die kans gee om te kan saamsing. Julle moet mekaar begelei.”
’n Mens sien sommer Nadia Beukes is in die bloeityd van haar lewe.
Hierdie artikel het oorspronklik in ons Mei-uitgawe van 2025 verskyn.
Lees ook: ‘Wimpie’ snork voort in Suidooster – gaan hy die kykers verkeerd opvryf?

