“Elegansie is nie moontlik sonder parfuum nie. Dit is die onsigbare, onvergeetlike, ideale bykomstigheid,” het Coco Chanel gesê. En ons stem saam! ’n Parfuum is soveel meer as net ’n geur – dit is ’n weerspieëling van jou styl, jou gemoed en jou geheime selfvertroue.
Ons het by van ons voorbladsterre gaan aanklop om uit te vind watter geur hul gunsteling is – en hoekom juis dié een hul hart gesteel het.
Die antwoorde is net so uniek soos die vroue self:
Rolene Strauss
“Ek het twee gunstelinge. Nomad van Who Is Elijah (ongelukkig is dit nie in Suid-Afrika beskikbaar nie) en Eau des Jardins van Clarins. Beide is lig, skoon en vars!”
Natasha Vermaak
“Jo Malone se Scarlet Poppy! Dit was my trouparfuum. Jo Malone het ‘n paar jaar gelede vir my die parfuum gestuur en ek was dadelik mal oor die unieke reuk. Selfs na ek na hul winkel was om al hulle geure te ruik, was hierdie een steeds my gunsteling. Dis fun, vibrant, diep en net ‘n joyful reuk!”
Cindy Swanepoel
“Ek is lief vir Bvlgari Omnia Crystalline! Dis skoon, sag en nie overbearing nie. Ek vra altyd vir Craig om vir Kersfees en my verjaarsdag net parfuum te koop. Hy dink dis vervelig, maar ek dink nie ‘n mens kan ooit genoeg hê nie!”
Leah
“The One van Dolce & Gabbana! Dit was ‘n geskenk van Hennie en ek het dit op ons troudag gedra. Dis vars, skoon, elegant en nie soet nie.”
Kate Roothman
“My gunsteling is Tom Ford se Bitter Peach! Dit is só ’n lieflike geur omdat dit ‘n perfekte balans tussen soet en sensueel tref. Dit het ’n speelse, aanloklike karakter, maar ook ‘n warmte en diepte wat elegansie bring. Dis nie net ’n parfuum nie, dis ’n hele mood! Elke keer wanneer ek dit dra, voel ek selfversekerd, gewaagd, en ’n bietjie misterieus. Dis daardie tipe geur wat in die vertrek agterbly na jy weg is. Ek is mal daaroor!”
Marlee van der Merwe
“Ek is gek oor CHANEL se Coco Mademoiselle. Dit is ‘n tydlose parfum en ruik effens anders in elke seisoen. Ek is ook mal oor Michael Kors se Signature, maar ‘n mens kry hom nie sommer meer in die hande nie. Dit was my troudag-parfuum en het ‘n sterk geur van jasmyn.
Rolanda Marais
“Ek is mal oor Comme des Garçons se parfuums, veral Comme des Garçons 2. Dit is unisex en ongewoon. Dan hou ek ook baie van die plaaslike handelsmerk Apartment se parfuums. Die naam van elke parfuum is so uniek! Dit is ook geskik vir mans én vroue.”
Desire Gardner
“My gunsteling-parfuum is nog al die jare DKNY Orginal Women. Ek is ‘n gewoonte-dier, so as ek eers van iets hou, bly dit ‘n gunsteling. Ek dink ek het dit die eerste keer op skool geruik en was dadelik mal daaroor. Mense wat my goed ken, assosieer my met hierdie heerlike vars reuk. Die parfuum is vir my nostalgies en herinner my aan my jonger self en dis altyd lekker om aan jou jonger self herinner te word!”
Nadia Beukes
“Ek is nog altyd mal oor die die geur van Dior se J’adore en die storie agter die ontwikkeling en komposisie daarvan. J’adore wat “I love” beteken was ook die eerste geskenk wat my man, David vir my gegee het toe ons nog uitgegaan het. Hy was oorsee en het al die pad van Parys vir my ‘n bottel van hierdie Franse parfuum saamgebring. Dit was toe natuurlik ook die parfuum wat ek op my troudag gedra het.”
Leandie du Randt
“Bvlgari Allegra Biaciami. Mense se altyd vir my ek ruik ryk as ek dit aanhet! Dit laat my bold en selversekerd voel!”
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Julie-uitgawe móét lees!