Deur Rachel Jonker
rooi rose het nou ’n video-podsending, Op die bladsy met rooi rose.
In hierdie video-podsending gesels Nadia Beukes elke maand met die voorbladster of met ’n ander bekende of joernalis oor hul onderhoud en oor die tydskrif se inhoud.
Die gas vir die eerste episode van Op die bladsy met rooi rose was Marciel Hopkins-Lourens.
Sy het gesels oor hoe sy vroue wil bemagtig en inspireer. Sy wil hulle wys dat dit moontlik is om hul drome na te jaag, en sy deel oefenprogramme op haar webwerf wat daarop gemik is om vroue langer jonk te hou.
Volgens Marciel oefen ’n mens nie net om nou goed te voel en goed te lyk nie, maar ook om so lank as moontlik gesond en onafhanklik te kan leef.
View this post on Instagram
Marciel het gesels oor hoe sy deesdae vrede gemaak het daarmee dat sy nie vir alles kan instem nie.
Dit was egter nie altyd so nie: Sy het in haar twintigerjare haar daaraan gewy om haar loopbaandoelwitte te bereik en haar man belowe om in haar dertigerjare die lewe rustiger te vat.
Noudat sy ’n ma is, het dit vir haar makliker geword om vir mense “nee” te sê. Sy lei nie meer aan FOMO (fear of missing out) nie en is baie intensioneel daaroor om vir haarself tyd in te ruim.
Om met ’n tydskrif te gaan sit, is vir Marciel ’n kosbare stukkie stiltetyd waarin sy kan herlaai en met inspirasie weer verder kan gaan.
Die wêreld is vreeslik vol afleidings; ons word byvoorbeeld die hele tyd met kennisgewings op ons skerms gebombardeer. Met ’n tydskrif is dit anders.
Nie net is die inligting in rooi rose opbouend nie, maar Marciel dink ook dat dit jou gemoed goeddoen om soveel mooi te sien.
Sy vertel ook dat haar voorbladsessie met Willem Botha ’n droom is wat waar geword het. Hy het haar al vantevore afgeneem, maar hierdie keer was dit die eerste keer wat hy haar ook grimeer het.
@rooirose_ Hier is ‘n kykie agter die skerms van ons Augustus-uitgawe se voorbladfotosessie met Marciel Hopkins-Lourens ✨🌼 rooi rose se jongste uitgawe is nóú op die rakke 🛒 Foto’s:@willem_botha Hare en grimering: Willem Botha Beauty Klere: @carike_nel_designs ♬ original sound – rooi rose
Marciel sê Willem is iemand wat opreg en met deernis met mense omgaan. Hy het self diep stories om te deel.
In hierdie uitgawe is daar ook ’n artikel waarin Willem praat oor sommige van die foto–sessies wat hom baie na aan die hart lê.
Kyk hier na die eerste episode van Op die Bladsy met rooi rose, of luister daarna op Spotify of IonoFM.
Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Augustus-uitgawe móét lees!
