kategorieë: Bekendes

Julianna Margulies: ‘The Good Wife’

Julianna Margulies is op ’n stil manier aantreklik. Vir ons onderhoud dra sy ’n swart Reed Krakoff-romp en moulose top wat haar skraal arms beklemtoon, sexy sandale en H. Stern-diamantoorbelle. Haar swart hare val in groot, los krulle oor haar skouers. Sy is die verpersoonliking van elegansie maar lyk tog effens stout. Sy straal selfvertroue uit en is duidelik in beheer en bekwaam. En verwag dat ’n mens dit sal raaksien. The Good Wife het nuwe lewe in Julianna se loopbaan geblaas. Nadat sy ER verlaat het, waarin sy George Clooney se karakter se meisie was, het sy in ’n paar flieks gespeel – sonder veel sukses. Maar haar vertolking van Alicia Florrick in The Good Wife het die benoemings laat instroom. Gehore was van die begin af mal oor Alicia wat alles reg doen, maar nogtans deur haar man (Chris North) verneuk word. Eers toe sy haarself herontdek, word sy weer vir haar man begeerlik, maar óók vir haar kollega en mentor, Will (Josh Charles). Die reeks het heelwat sterk vroulike karakters, romanse en fokus op die uitdaging van vroue om ’n loopbaan en gesin te balanseer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Jy lyk ongelooflik – veral met ’n klein seuntjie by die huis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dis gaaf van jou, maar hy is nou ses en slaap gelukkig goed. Jy het my die eerste keer ontmoet toe hy 14 maande oud was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wat gaan alles in die vyfde seisoen gebeur?

Will is nog in die prentjie, maar nou sit hy en Alicia vas. Sy het hom en die prokureurspraktyk verlaat omdat sy haar eie praktyk wil begin. Ek dink sy is ook daar weg omdat dit vir haar moeilik was om die heeltyd naby hom te wees, want sy is steeds lief vir hom. Hy voel seergemaak en kwaad en dink sy het hom verraai. Hulle baklei soos kat en hond. Hulle is albei slim prokureurs en gebruik elke truuk in die boek om mekaar in te doen. Dis oorlog. Hulle veroorsaak ook ander mense se ondergang, en ek dink Alicia het meer afgebyt as wat sy kan kou. Sy hardloop heeltyd rond om dinge te laat werk. Sy is so besig dat sy nie juis tyd het vir ‘n liefdeslewe nie, want al wat sy wil doen, is om haar te vestig en vir mense te wys sy het nie ‘n fout gemaak nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat dink jy kan vroue by Alicia leer?

Heelwat vroue het al vir my gesê hulle het soveel by haar geleer. Ek het ook ‘n ding of twee geleer! Ek is mal oor haar stiltes. Ek dink nie daar is genoeg daarvan in die wêreld nie. Ek praat voor ek dink en laat my emosies my lei. Sy kies haar woorde versigtig en ek hou daarvan. Vroue kry ook baie wenke by haar oor hoe om in die korporatiewe wêreld aan te trek. Dis moeilik om ‘n vrou in ‘n manswêreld te wees, jy wil vroulik lyk en voel, maar jy kan nie sexy wees nie. Jy wil sterk, maar nie feekserig oorkom nie. Dis moeilik. Ons draaiboekskrywers het ‘n karakter geskep wat haar in moeilike omstandighede waardig gedra.

Wat verras jou van die soort hofsake waarmee sy te doen kry?

Ek dink dis fassinerend. Ek leer so baie. In haar eerste saak was ‘n doodsvonnis ter sprake en daar was so baie aspekte waarvan ek nie bewus was nie. Die hofsake is ingewikkeld. Ek wonder dikwels wat ek in so ‘n situasie sou doen. Al die sake het elemente wat iets in jouself konfronteer – wat wonderlik is.

Aan die begin van die reeks was Alicia ‘n tuisbly-ma en haar man het ’n affair gehad. Nou is sy ’n werkende ma en haar man is weer verlief op haar. Wat wil mans nou eintlik hê?

Dis ‘n interessante vraag! Ek dink sy was aan die begin soos ’n huisvrou uit die jare vyftig. Sy het alles reg gedoen en haar wêreld het inmekaargetuimel. Die groot les is dat sy deur haar werk agtergekom het wie sy regtig is – as ’n vrou en ’n werkende ma. Sy besef sy het haar lewe vir ’n man tot stilstand laat kom. Dis nie dat sy nie daarvan gehou het om ’n tuisbly-ma te wees nie, maar deur haar werk het sy soveel meer oor haarself geleer en ontdek, wat sy nie kon doen terwyl sy getroud was nie.

Dit het gelyk of hy haar nie waardeer nie.

Haar man is wispelturig. Wat hulle bymekaarhou, is dat hulle dieselfde idees en ideale het. Hulle werk goed saam. Albei is slim, en albei hou van politiek en die reg. Hulle respekteer mekaar en daar is kameraderie tussen hulle. Haar mag en posisie is vir hom aantreklik. Sy sou ook nie saam met hom gewees het as hy nie ‘n alfa-man was nie. Hulle is baie besig en soms word die verhouding op die agtergrond geskuif.

Het jy dit al oorweeg om ’n tuisbly-ma te wees?

Nee, ek wou nog nooit een wees nie. Ek dink ek is ’n beter ma omdat ek werk. Ek is mal daaroor om ‘n ma te wees en ek sal enigiets vir my kind doen. Maar dis goed vir ons albei dat ek elke dag gaan werk, al is dit nie altyd maklik nie. Toe hy jonger was, het ek soms eers halftwee soggens by die huis gekom en moes weer halfsewe op stel wees. Jy gee sekere dinge op, maar as jy na die groter prentjie kyk, sal ek niks verander nie. Elke oomblik wat ek saam met hom deurbring, is gehaltetyd. Ek dink ook dis hoekom ek gewag het voordat ek ’n ma geword het. En ook hoekom ek gewag het voor ek getrou het. Ek sou nooit kon doen wat Alicia gedoen het nie. Sy was een van die topstudente in haar klas en ná twee jaar by ‘n toppraktyk het sy haar werk gelos en getrou. Ek sou vir my man gesê het hy moet ‘n ander vrou soek! Ek kry soveel uit my werk. Ek is mal oor my werk, dit maak van my ’n beter mens.

Wat beteken dit om ’n goeie vrou te wees?

Dit verskil van mens tot mens. Wat my ’n goeie vrou maak, verskil van wat Alicia ’n goeie vrou maak. In die eerste seisoen vertel sy in ‘n toneel hoe sy haar ou lewe mis, die tye toe sy drie-uur smiddae vir haar ‘n glas wyn geskink het terwyl sy wag dat die kinders by die huis kom. Dit het my laat dink: as jy drie-uur die middag moet begin drink om deur die dag te kom was sy nie so perfek nie. Ek dink ’n goeie vrou is iemand wat geduldig en verdraagsaam is, maar terselfdertyd maak sy seker dat sy nie elke keer laaste kom nie. Mense wat hulself heeltyd laaste plaas, sal nie die pas kan volhou nie. Dis nie ’n goeie vrou nie. Dis belangrik om daardie balans te kry tussen wat vir jou goed is en wat vir jou gesin goed is.

En hoe doen ’n mens dit?

Dis nie maklik nie. Soms word dinge vir my ook te veel en is ek regtig uitgeput. Maar jy wil niemand teleurstel nie. Ek is mal oor my karakter en ek wil haar nie te na kom omdat ek moeg is nie. Maar ek dink nie o, ek het sakke onder my oë, wat gaan ek doen! nie. My karakter is ook moeg, want prokureurs werk lang ure, so dan dink ek dis oukei as ek moeg is, want my karakter is ook moeg. Jy moet hierdie dinge vir jou laat werk. Maar wanneer ek my kind halfsewe soggens sien, wil ek nie wys ek is moeg nie. Hy verdien dit nie. Ek weet ek kan my woorde gedurende middagete leer en ek kan vir twintig minute ‘n uiltjie knip terwyl hulle die beligting opstel. ’n Power nap van twintig minute kan jou lewe red!

Hoe sien jy jou kinderjare noudat jy ’n ma is?

Ek dink jy identifiseer altyd met jou ma of jou pa, die mense wat jou grootgemaak het. Dis goed ek het gewag tot ek veertig was voor ek ’n kind gehad het, want dit het my tyd gegee om deur baie kwessies te werk. Ek het wonderlike, liefdevolle ouers gehad, maar my kinderjare was deurmekaar, my ouers is geskei toe ek ‘n jaar oud was. Ons het eers in Frankryk gebly, toe in Engeland, toe in New York en later weer terug Engeland toe. Ek het nooit standvastigheid gehad nie, en ek was nooit saam met albei ouers in dieselfde land nie. Ek het besluit wanneer ek het ’n kind het, sal ek reis, maar ons sal dit as ‘n gesin saam doen. Hy sal bestendigheid hê, sy vriende en skool sal op een plek bly sodat hy daarop kan staatmaak. Dis vir my belangrik. Die silwer randjie van my omstandighede was dat dit my baie ondervinding gegee het wat ek as akteur kan gebruik. Dit het my op my loopbaan voorberei. Eendag sal my kind dalk wonder hoekom ons nooit in Parys gebly het nie, dalk sal hy my selfs verkwalik, maar die gras is altyd groener aan die ander kant. Jy doen maar net jou bes.

Het jy en jou man dieselfde ideale?

Die truuk is om die regte man te kies. Jy moet iemand kies wat op dieselfde bladsy as jy is. As ek nie iemand gekry het wat dieselfde ideale as ek gehad het nie, sou ek nie getrou het nie.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 day Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.