kategorieë: Inspirasie

Ontgin jou kreatiwiteit binne vier weke

WEEK 1
Vroemôreskryfsels

Vroemôreskryfsels is ’n kragtige hulpmiddel om jou op jou skeppende energie in te stem. Wat jy nodig het, is ’n A4-eksamenblok en die wilskrag om jou oë soggens ’n halfuur vroeër oop te maak. So vaak-vaak vat jy ’n skryfding en skryf drie bladsye vol in lopende skrif: net wat by jou opkom, sonder om jou aan sin, sinsbou of spelling te steur. As jy aan niks kan dink om te skryf nie, is dit wat jy skryf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Skeur dan die bladsye uit, steek hulle in ’n koevert en bêre dit op ’n veilige plek. Niemand mag dit lees jy ook nie! Vroemôreskryfsels is ’n goeie vorm van “breindreinering”. Jou vrese, kommer en skuldgevoelens word na die papier verplaas en maak plek vir jou kreatiwiteit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Vroemôreskryfsels is ook ’n slim manier om die kritiek van Die Sensor, jou logiese of linkerbrein, te systop. Die Sensor hou van alles wat bekend en veilig is. Hy’s die kritiese beterweter wat jou beste kortverhaal se skete uitwys, of jou oortuig dat jou treffende vrugterangskikking net ’n gelukskoot was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Omdat daar geen verkeerde manier is om vroemôreskryfsels te skryf nie, is Die Sensor se “ingeligte” mening oorbodig, maar hy sal jou steeds wil ondermyn. Kies ’n kortpad: knip ’n nare strokiesprentkarakter uit, noem hom Die Sensor, hou hom byderhand en snoer sy mond sodra hy dit oopmaak.

Begin môreoggend met jou vroemôreskryfsels. Dis baie belangrik om hulle vir g’n mens te wys en nooit ’n oggend oor te slaan nie. Die skryfsels kry die logiese brein uit die pad en gee die regter, of kunstenaarsbrein, die vryheid om te speel. Hulle leer jou in die oomblik leef. Uiteindelik gee hulle jou verrassende insigte in jou siel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Kunstenaarsafsprake

’n Kunstenaarsafspraak is tyd wat jy opsy sit om jou kreatiewe bewussyn, die kunstenaar in jou, te voed. Dié kunstenaar is ’n kind en floreer op lekker uitstappies en jou volle aandag. Die kunstenaar is ook ’n minnaar, ’n kunstenaarsafspraak is net vir (julle) twee.

Om jou kreatiwiteit te laat blom, is weeklikse kunstenaarsafsprake noodsaaklik, verkieslik so twee uur op ’n keer. As jy glo dat jy heeltemal te besig is om tweeuur per week op jouself te “mors”, herken jy seker Die Sensor se stem en teen dié tyd weet jy hoe om hom stil te kry.

Op ’n kunstenaarsafspraak neem jy jou kunstenaar na ’n plek waarvan julle albei hou en waar julle mekaar se geselskap onbevange kan geniet. Dit hoef nie veel te kos nie: ’n besoek aan ’n akwarium, ’n gesnuffel in ’n tweedehandse winkel, ’n dryf-sessie in ’n swembad of ’n staptog in ’n buurt vol onverwagse geure en kleure …

Opvoedkundig is uit. Plesierig is in. Om teen jou kunstenaarsafsprake te skop, is normaal, en nie net omdat dit dalk vreemd voel om jou behoeftes voor die eise van jou werk, gesin, die skool en die hele reënboognasie te stel nie. Om skielik van aangesig tot aangesig met jouself te kom en te hoor wat jy werklik dink, kan angswekkend wees.

Erken die vrees, maar laat die vrug van ’n oop verhouding met jou kreatiewe bewussyn jou lok. Hoe anders gaan jy jou eie andersheid leer ken en die vrymoedigheid kry om jou unieke stempel af te druk? Uiteindelik gaan almal voordeel trek uit ’n gelukkiger, kreatiewer jy.

WEEK 2

Dis steeds voorwaarts met die vroemôreskryfsels en jou weeklikse kunstenaarsafspraak. Dié week moet jy Die Sensor ’n keer goed op sy plek sit en negatiewe gedagtes oor jou en jou kreatiwiteit deur positiewes vervang. Glo jy, jy kan nie kreatief wees nie omdat jy te oud is, nie kan spel nie, of net ’n gek von jouself sal maak? Wat is jou beeld van ’n eg kreatiewe mens? Iemand wat eksentriek aantrek, half eenkant leef en onverantwoordelik/arm/aan iets verslaaf is?

Sulke negatiewe oortuigings kan ’n wig tussen jou en jou skeppingskrag indryf. As jy heimlik bang is kreatiwiteit maak jou “vreemd”, sal jy liewer minder kreatief en sosiaal aanvaarbaar wil bly. Skryf gou die volgende tien keer neer: “Ek, … (jou naam en van), is ’n buitengewoon kreatiewe skrywer / skilder /binneversierder /kok/onderwyser.” Die Sensor sal onmiddellik op aandag spring: “Wie dink jy is jy om …. ?”

Skryf die protesgedagtes ook neer en daar het jy dit: die negatiewe oortuigings wat jou terughou. Doen ’n bietjie speurwerk. Waar kom dié oortuigings vandaan? Van ’n onderwyser, ’n ouer, ’n slegte ervaring op universiteit? Verander nou elke negatiewe oortuiging op jou Iysie na ’n positiewe stelling. “Ek het nie ’n greintjie talent nie” word “Ek is talentvol”. Sluit jou vroemôreskryfsels elke oggend met jou positiewe oortuigings af.

WEEK 3

Hopelik hou jy fluks vol met jou vroemôreskryfsels en kunstenaarsafsprake, maar dalk kry jy teëstand. Kla jou mense oor die tyd wat jy vir jouself toe-eien? Sê jou vriende jy’s laf, of selfs dat jy met vuur speel? Onthou, om anders te wees, maak jou kwetsbaar. Onbegrip en jaloesie steek maklik kop uit. Beskerm die kunstenaar in jou teen kritiek. Bly ordentlik maar ferm.

Jy’s op ’n ongemaklike skof van jou reis. Dalk is jy die een wat jou met selftwyfel saboteer, maar wees wakker as ’n kreatiewe geleentheid skielik opduik. Dalk soek jou baas kreatiewe voorstelle oor ’n saak wat buite jou posbeskrywing val – en stuur die memo ook aan jou. Miskien word jy gevra om blomme vir ’n glansgeleentheid te rangskik of ’n tydskrifartikel te skryf.

Sulke betekenisvolle toevallighede kom dikwels voor waar jou kreatiewe energie ingespan kan word. Wees bereid om kreatiewe uitdagings te aanvaar, al bewe jy.

WEEK 4

Teen dié tyd behoort jy al ’n verandering te ervaar. Is jy meer op jou eie gedagtes en gevoelens ingestel? Voel jy by tye sommer net dis lekker om te leef? Kom oplossings vir probleme makliker by jou op, of begin jou kreatiewe energie vloei? Kyk jy met nuwe oë na die alledaagse werklikheid?

Soms is die verandering op die oog af negatief. Dalk ontstel dit jou om doelbewus aan jou kinderdae te dink. Miskien voel jou vroemôreskryfsels sinloos, of is dit die ene klagtes en verwyte. Dalk besef jy nou dat jy ’n “doenmens” geword het wat sukkel om net te “wees”. Of jy vra jou af wanneer pret dan heeltemal uit jou lewe verdwyn het.

Positief of negatief, verandering wys dat jy groei. Vier dit wat lekker is, en verduur dit wat krap tot dit beter word. Vroemôreskryfsels, kunstenaarsafsprake en die ander oefeninge sal jou weer in voeling met jou kreatiwiteit bring, al gee jy twee tree vorentoe en een terug. As jy aanhou om elke oggend drie bladsye vol te skryf en elke dag net een gawe ding vir jouself doen, sal jy toenemend steun, vreugde en skeppingskrag ervaar.

Klink dit te goed om waar te wees? Toets dit met ’n oop hart en kop. Vra jou af of vier weke genoeg was, of net ’n stewige wegspringplek op pad na ’n skeppender jy. As jy brand om verder te groei en te ontdek, kan ‘The Artist’s Way’ deur Julia Cameron jou wegwyser wees.

Lees ook: Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met mode-ontwerper Salomie du Plooy

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.