Deur Ilette Coetzer
Nataniël het gesê: Lewe eenvoudig. Hoe minder goeters jy het, hoe minder worries het jy … en hoe lekkerder slaap jy!
Iemand wat saam met hom stem, is Becca Ehrlich. Sy is ’n pastoorsvrou met drie meestersgrade en ’n doktorsgraad in teologie. Sy het verlede jaar as deel van ’n eksperiment, dieselfde rok vir 100 dae gedra. Elke dag … Die doel hiervan was om aan haarself te bewys dat ’n mens baie minder nodig het as wat jy dink. Baie van ons het tydens die Covid-pandemie tot dieselfde slotsom gekom.
Becca sê een van die belangrikste lesse wat sy geleer het, was dat ons baie minder “dinge” nodig het. Sy het in die drie maande gekyk wat werk vir haar en wat nie. Sy het ook besef dat gehalte belangrik is, en dit geld nie net vir jou klerekas nie, maar ook vir die res van jou huis. Deur jou lewe te vereenvoudig, is daar skielik meer plek vir dit wat regtig saak maak. Sy het ervaar dat sy byvoorbeeld meer tyd en energie gehad het om aan haar gesin en beroep te bestee.
Wat is fout met wanorde of klotter?
Nie almal word dieselfde deur wanorde geraak nie. Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn van Kimberley, sê dis belangrik om werklik aandag te gee aan hoe jy in jou huis voel. “As jou omgewing jou gespanne maak, moet jy dalk oorweeg om van sekere goed in jou huis ontslae te raak.” Irene sê wanorde het nie altyd ’n ooglopende impak op jou lewe nie, maar kan soms wel ’n negatiewe uitwerking op jou geestelike welstand hê en lei tot:
- Verhoogde stresvlakke.
- Verlies aan fokus.
- Die gewoonte om goed uit te stel.
- Probleme met verhoudings.
- Impulsiwiteit.
- Laer lewensgehalte.
Waarom lyk my huis so?
Sommige mense sal ’n deurmekaar of oorvol huis sommer aan luiheid toeskryf, maar Irene sê daar is meestal ’n onderliggende rede vir klotter wat mense keer om op te ruim.
Die chaos is oorweldigend. Irene sê dis fisiek en geestelik uitputtend om klotter in jou huis te beperk, en dikwels baie makliker om alles net dieselfde te hou.
Die spesifieke besitting herinner jou aan iets belangrik. Dink byvoorbeeld aan daardie broek in jou kas wat nie meer pas nie, maar tog hou jy dit vir eendag.
Sentimentele waarde. Sommige goed is maar net moeilik om van ontslae te raak, veral iets wat jy by iemand geërf of gekry het. Of jy dit gebruik of nie, en of jy nou daarvan hou of nie.
Besittings, of dit nou gebruik word of nie, kan ook ’n gevoel van sekuriteit en veiligheid gee, en dit maak dit moeilik om uit te gooi.
Waar begin ek?
Leo Babauta het gesê: Identifiseer die noodsaaklike en elimineer die res.
Begin klein. Dit is nie vir almal ewe maklik om iets uit jou huis weg te gee nie. Hier is ’n paar praktiese voorbeelde:
-
- Klere wat nie meer pas nie.
- Ongemaklike skoene.
- Vaar in jou koskaste in. Kyk na vervaldatums van souse en blikkieskos. Raak van speserye wat jy nie meer gebruik nie ontslae. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel blikkieskos in jou koskas nie meer eetbaar is nie.
- Ekstras. Jy het dalk vier eierspane en 15 houtlepels.
- Koffiebekers wat getjip is, of dié wat glad nie meer by enige ander stel pas nie.
- Gebreekte goedere. Gooi weg! ’n Plastieksnyplank wat meer as sy deel gedoen het, hoort nie meer in jou kombuis nie!
- Snuisterye wat nie meer regtig betekenis het nie.
- Korporatiewe geskenke wat jy oor die jare bymekaar gemaak het.
- Elkeen van ons het so ’n laai. Alles wat nie dadelik ’n plek kry nie, word dáárin geprop. Het jy dit regtig nog nodig?
- Kyk krities na jou boekrak. Ouetehuise sal enige leesstof verwelkom.
Skep nuwe gewoontes
Die moeilikste stap in die proses is gewoonlik die eerste tree. En om jou leefstyl werklik te vereenvoudig moet jy nuwe gewoontes skep. Rommel het ’n manier om jou stadig te bekruip, en binne ’n oogwink, verval jy weer in ou gewoontes. Begin om jou denke oor skoon ruimtes te verander.
- Was skottelgoed ná etes
’n Mens is nie altyd lus om ná ’n heerlike ete op te ruim nie, maar dit neem baie minder tyd om borde, messe en vurke ná ete te was, as die volgende dag wanneer dit oornag in die wasbak gestaan het. Dis ook nie lekker om ’n nuwe dag met ’nl wasbak vol vuil vetterige skottelgoed te begin nie.
- Maak elke dag jou bed op nadat jy opgestaan het
Wanorde het ’n manier om nog chaos te lok. Sodra jou bed netjies is, lyk jou kamer 70% persent aan die kant. Jy sal ook minder geneig wees om klere op die grond te los as jou bed netjies opgemaak is.
- Begin met jou kombuis se oppervlakte
Die kombuis is in meeste huise ’n pakplek vir als en nog wat. Sodra dit aanvaarbaar is om goed daar te los, word meer goed opgestapel. Orde skep ’n kalm gemoed wat na die res van die huis oorspoel.
- Bêre saans huisware wat rondlê
Wanneer jy minder besit, is dit makliker om jou huis aan die kant te hou. Wees krities en kyk of jy alles in jou kaste nodig het. Hoeveel van ons het wit olifante wat rondstaan en nie werklik iets vir jou beteken nie?
- Probeer om take wat een of twee minute neem, dadelik af te handel
Klotter is dikwels die gevolg van sloerdery. Soms is ’n mens net nie lus om ’n besluit te neem nie, en van uitstel kom afstel. Selfs klein takies word net te veel om klaar te maak. Probeer om dit wat minder as twee minute neem, af te handel en dadelik te doen. Tel die handdoeke op, spoel gou daardie teekoppie uit, gooi die asblikke uit. Dit is eintlik maar net ’n gewoonte wat aangeleer moet word.
- Beperk ruimtes wat oorvol is
Dit gebeur in amper al die kamers. Daar is ’n kas of rak wat volgeprop word. Of dit nou jou rak vir plastiekware of die medisynekassie is. Linnekaste kan ook tot barstens toe gepak word. Wanneer laas het jy van daardie handdoeke gebruik? Het van die medikasie nog nie verval nie?
- Kry ’n plek vir elke ding
’n Plek vir alles en alles op sy plek. Dit klink amper soos ’n cliché, maar dit is een van die basiese reëls vir ’n huis sonder klotter. Daar is deesdae soveel spesialiteitswinkels met houers in elke grootte beskikbaar. Probeer ook om besittings weg te bêre daar waar hulle gebruik word. As dit te gekompliseerd raak, gaan jy minder gemotiveerd wees om goed wat rondlê onmiddellik weg te pak. En terwyl jy dit doen, dink of jy dit nog werklik gebruik. Dit help nie dat jou kaste oorvol wonderlike gadgets is wat nooit gebruik word nie. Het jy byvoorbeeld steeds ’n wafelmasjien agter in jou kas wat die afgelope tien jaar nooit gebruik is nie? Moet jy dit regtig steeds bêre? Dieselfde geld vir kombuistoestelle, soos ’n menger. Hoe gereeld bak jy koek? Moet die menger regtig bo-op die toonbank staan en stof vergaar? Sorteer tussen dit wat jy gereeld, selde of nooit meer gebruik nie.
- Minder papier
Begin in die gewoonte kom om belangrike dokumente te skandeer. Lêers met munisipale rekeninge of ander dokumente neem baie plek op om te stoor. Dieselfde geld vir ou foto’s. Maak ’n plan met dié wat jy wil behou, en raak ontslae van duplikate en foto’s waarvan die gehalte swak is. Kyk ook weer deur jou kontakte en mense wat jy op sosiale media volg. Jy sal verbaas wees hoeveel mense nie meer in jou lewe is nie!
Dis ’n aanhoudende proses
Selfs die mees georganiseerde huis het die vermoë om rommel op te gaar. Maak gereeld tyd om ontslae te raak van dinge wat jy nie meer gebruik of nodig het nie.
Die lewe gaan oor meer as dit wat jy het
Mense word konstant deur advertensies gebombardeer wat jou laat glo dat jy nie sonder die jongste lipstiffie, parfuum of motor kan leef nie. Dit gaan jou lewe op soveel vlakke verbeter! Maar dit is al oor en oor bewys dat “dinge” mense nie gelukkig maak nie, maar tyd wat jy met ander bestee, wel.
Oor klotter
Moenie plek vir meer goeters maak nie. Maak plek vir meer lewe – Courtney Carver
Wanneer jy omring deur klotter leef, is dit onmoontlik om duidelikheid te hê oor wat jy in die lewe doen. – Karen Kingston
Jy sal nooit jou lewe verander tot jy nie iets verander wat jy elke dag doen nie. Die geheim tot sukses word in jou daaglikse roetine gevind. – John C. Maxwell