Johann Symington is Dinsdag ná ’n lang siekbed aan hartversaking oorlede. Sy jongste dogter, Suna Symington, het die nuus aan Kerkbode bevestig.
Vir meer as ’n dekade het Johann ook ’n rubriek vir rooi rose geskryf. Hy was bekend vir sy werk as predikant, skrywer en TV-aanbieder, asook vir sy jare as redakteur van Kerkbode.
Suna onthou haar pa as ’n “merkwaardige wyse mens” wat altyd die mooi in die wêreld raakgesien het.
“Hy het ons geleer om die mooi in kuns, musiek en in die lewe raak te sien. Hy was fenomenaal,” het sy gesê.
Johann is in 1973 as predikant gelegitimeer en het daarna verskeie NG gemeentes bedien, onder meer in Colesberg, Parys en Johannesburg. In 2004 het hy die NG Kerk se kommunikasie-direkteur geword, voordat hy vier jaar later die media verlaat het.
Ná sy aftrede in 2013 het hy en sy vrou, Hennie, ’n nuwe hoofstuk in Japan begin. Hulle het ses jaar daar gewoon, waar Johann sy bediening as senior predikant van die Tokyo Union Church, ’n internasionale Engelstalige gemeente in Tokio, voortgesit het.
Dit was tydens hierdie jare dat Jacqueline Leuvennink, joernalis van rooi rose, hom in Japan besoek het. Johann het destyds met haar oor sy lewe, bediening en die egpaar se nuwe tuiste in Tokio gesels. Lees die onderhoud hier.
Johann en Hennie het drie kinders gehad: Pieter-Jan, wat in die VSA woon, en Suna en Claire, wat in Suid-Afrika woon. Hennie is in Maart vanjaar oorlede. Die egpaar het die laaste paar jaar in die Kokanje-aftreeoord in Modimolle, Limpopo, gewoon.
Volgens Kerkbode sal ’n roudiens gehou word, maar besonderhede is nog nie bekend nie.
