kategorieë: Ons menseBekendes

Ontmoet Elsa Joubert, skrywer van die verhaal van Poppie Nongena

Ontmoet Elsa Joubert, skrywer van die verhaal van Poppie Nongena : Beeld van ’n vrou: Elsa Joubert deur Ilse Salzwedel *Hierdie artikel is oorspronklik gepubliseer in die Maart 2018-uitgawe van rooi rose. Verwerk deur Catherine Schenck. Foto’s: Melanie Cleary

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ontmoet Elsa Joubert

Min skrywers publiseer nog op die ouderdom van 95, maar dis presies wat Elsa Joubert in 2018 gedoen het met Spertyd, die derde deel van haar outobiografiese drieluik. Dis voorafgegaan deur ’n Wonderlike Geweld (2005) en Reisiger (2009), en nes in haar romans, skryf sy net so onthutsend eerlik en reguit soos altyd. Hierdie keer is die onderwerp oudword en die dood, dinge waaraan die mensdom nie graag herinner wil word nie, en nog minder iets waaroor ons sommer praat.

Nie dat die reguitpraat óf haar dapperheid haar aanhangers verras nie. Want Elsabé Antoinette Murray Joubert het van jongs af altyd die gebaande weë uitgedaag. Eers was daar haar besluit om joernalis te word – destyds het min vroue joernalistiek as ’n loopbaan gekies. Toe haar besluit om (jong) vrou-alleen in Afrika te gaan reis. Dit was 1948, en soos baie van haar tydgenote wou sy Europa gaan verken. Maar sy wou nie net die posboot Europa toe haal nie. Eers wou sy gaan kyk hoe lyk Kenia, en waar ontspring die Nyl.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek het in die Paarl in ’n Afrikanerhuis grootgeword. My agtergrond en opvoeding was Europees. Die geskiedenis en die letterkunde van die Weste was my agtergrond. Ek wou mense wat anders as ek was, leer ken,” het sy in 2002 in ’n LitNet-onderhoud met Amanda Botha verduidelik.

Lees ook: Agter die skerms van Poppie Nongena

Anna-Mart van der Merwe vertolk die rol van Elsa Joubert en Clementine Mosimane vertolk die rol van Poppie Nongena in die gelyknamige film

Elsa Joubert se reise as bron vir haar skryfwerk

Daardie eerste reis in Afrika het die saadjie gesaai vir talle latere reise en sewe reisboeke. Haar eerste reisboek, Water en Woestyn, het in 1957 verskyn, en die laaste een in 1997. Haar boeke het haar reise in Afrika en Europa gedokumenteer. Haar boek oor Angola, Die Afrikaan (1974), het indirek gelei tot Die Swerfjare van Poppie Nongena, ’n skokkend eerlike boek oor die onderdrukking van swart mense in Suid-Afrika.

Juis omdat sy kort tevore ’n boek oor Angola gepubliseer het, het ’n vrouetydskrif haar en ’n fotograaf in 1974 na die destydse Suidwes-Afrika gestuur om te gaan verslag doen oor die lang konvooie voertuie met Angolese vlugtelinge wat die land binnegestroom het. Elsa se opdrag was om te skryf oor wat beskou is as ’n “nuwe verskynsel” in Afrika: wit vlugtelinge, het sy in 2004 in ’n LitNet-artikel geskryf.

“Ek het gestaar na die bakkies, die lorries, die motors oorlopens toe vol met warm, wanhopige, bedremmelde mense, grootmense, oumense, mistos, San huiswerkers, kinders, troeteldiere, honde, katte, voëls, voertuie hoog gepak met matrasse, komberse, meubels, potte, panne: alles wat ingeboender kon word in die halsoorkop-vlug uit die dorpe van die suidelike Huambo- en Mossamedes-provinsies.”

Ontmoet Elsa Joubert, skrywer van die verhaal van Poppie Nongena

Sy kon nie glo wat sy sien nie. Vir haar boek het sy Angola vyf weke lank deurkruis, en van oorlog was daar nie sprake nie. “Was ek dan blind gewees? Maar by groepie ná groepie vlugtelinge vertel die mense my: ons het nie geweet nie. Ek het ook maar net geweet wat die regering gewys het.”

Dis toe dat sy iets belangriks besef het: “Ook in ons land weet ons mense nie. Selfs dié van ons wat op eie manier apartheid teëgaan en verafsku, weet nie diep nie. Op die diepste vlak is die swart en bruin mense se lyding, om ons, elke dag, vir ons nie bekend nie.” En dis hierdie onkunde, wat lei tot “nie-begrip en vervreemding”, wat Elsa wou takel en afbreek.

“Ek had baie lande in Afrika reeds met my reisboeke verken: Kenia, Uganda, Soedan, Madagaskar, Mosambiek, Angola. Maar daar by Tsumeb het dit hard en duidelik tot my gespreek: nou moet my oë oopgaan, ek moet my eie land se mense in volkome eerlikheid leer ken. Apartheid het ons van mekaar weggehou, ek moes ten spyte van apartheid die grense afbreek.”

Met wat sy beskryf as “die ewig-geldige paspoort” van ’n joernalis het sy Suid-Afrika se swart woonbuurte, plakkerskampe en tuislande deurkruis. Van Nyanga, Langa en Crossroads tot Soweto, Transkei en KwaNdebele. Sy het in hofsale gesit, met maatskaplike werkers, tradisionele genesers en amptenare in paskantore gepraat om ’n prentjie te kry van hoe swartmense onder apartheid leef. “En ek is nie langer mislei deur die fasade nie. Ek sou met ’n nuwe soort reisboek begin.”

Lees ook: Ontmoet die rolverdeling van Poppie Nongena

Ontmoet Elsa Joubert, skrywer van die verhaal van Poppie Nongena

Die swerfjare van Poppie Nongena

Oor presies hoe hierdie boek sou lyk, was sy nog onseker.

Toe kom stort haar huishulp een oggend ná Kersfees 1976 haar hart uit oor wat Elsa beskryf as ’n “nag van verskrikking in die lokasie”, en skielik het die finale legkaart van haar boek vir Elsa in plek geval. Sy sou die storie vertel deur die oë van ’n vrou, wat sy vir die doeleindes van die verhaal Poppie Nongena sou noem. (Haar huishulp het verkies dat haar regte naam nie gebruik word nie.)

Vir mense wat dit as ’n “gelukskoot” beskryf het dat Poppie vir Elsa haar verhaal vertel het, het Elsa ’n besliste antwoord: “Dit was ’n geseënde toevalligheid. Maar nie net ’n gelukskoot nie. Ek was gereed vir haar storie en omdat ek die agtergrond had, kon ek begryp. Sy hoef niks te verduidelik het nie; die pennie het onmiddellik in die gleuf geval.”

Sy en Poppie het drie oggende per week die telefoon van die mikkie gehaal en ’n uur of langer gesels. Elsa het die gesprekke opgeneem. Sy beskryf dit as ’n “wonderlike toegif en binding” dat hulle albei in Afrikaans, hul gedeelde moedertaal, kon gesels. “Die gesprekke was van hart tot hart omdat daar geen taalversperring was nie.”

Anna-Mart van der Merwe as Antoinette Swanepoel en Clementine Mosimane as Poppie Nongena in Poppie Nongena

Poppie het haar verhaal broksgewys vir Elsa vertel, wat dit dan uitgetik en op die twee beddens in haar gastekamer uitgelê het. “Ek het die stukkies wat bymekaar hoort, bymekaar gesit, min of meer die tydsverloop deur herkenbare anekdotes uitsorteer, die volgende dae die vrae in bepaalde rigtings gestuur, nog besonderhede, nog motivering, nog menslikheid probeer bekom.” Mettertyd het Elsa besef: Poppie het, nes sy, ’n Afrikaanse lewe gehad, en van haar uitdrukkings het selfs op Hollandse wortels gedui.

Geleidelik het Elsa die legkaart van Poppie se storie begin bymekaarsit. “Ek was gegru deur wat die Stellenbosse professore later sou noem “die strukturele geweld” waaronder sy moes lewe: ’n ysterharde, onvermurfbare struktuur wat haar daaglikse kom en gaan, haar kinders, haar huislike lewe, haar man se werk, beheer het. Waarvan ek, as huisvrou, wat daagliks met huishulp, met tuinhulp in aanraking is, geen snars van geweet het nie. Ek is gedryf om die boek so vinnig ek kon klaar te skryf.”

Dié boek, wat in 13 tale vertaal is, is met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys bekroon (maar nie met die gesogte Hertzogprys nie – ’n mens kan maar net raai oor die invloed van die destydse Broederbond op hierdie besluit).

Elsa het Poppie se verhaal ook saam met Sandra Kotzé in ’n toneelstuk verwerk. Dis van 1982 tot 1984 internasionaal opgevoer by die Edinburg-fees en in New York, Londen, San Francisco, Australië en Kanada. Die stuk is bekroon met die Laurence Olivier-toekenning vir toneelspel in Londen se Weseinde, asook die Obi-toekenning vir die beste draaiboek in die Off-Broadway Theatre in New York.

Lees ook: Die kragtige boodskap van die Poppie Nongena-rolprent

Clementine Mosimane as Poppie Nongena in die gelyknamige film
Ontmoet Elsa Joubert, skrywer van die verhaal van Poppie Nongena

Ná Poppie Nongena

Ná die sukses van Poppie het Afrikaanse lesers, skrywers én letterkundiges behoorlik van Elsa kennis geneem. Al het sy, soos haar goeie vriend Jan Rabie en ook Etienne Leroux kort voor 1960 en in die jare sestig verskeie boeke gepubliseer – onder meer die bekroonde roman Ons wag op die Kaptein (1963) – is sy nooit as ’n Sestiger erken nie. Haar werk is ook nooit in hul blad opgeneem nie, en sy is nie genooi om aan hul besprekings deel te neem nie.

“Ek was ’n ma met drie jong kinders. Voor dié tyd, as ’n skrywer, was ek seker maar soos ’n Sondagskrywer. Waar my regtige plek gekom het, was met die Afrikaanse Skrywersgilde. Dit het my laat voel ek is nou deel van die skrywerskorps van Afrikaans.”

Maar twintig boeke later (waaronder sewe hoog aangeskrewe romans) is daar geen twyfel nie: Elsa Joubert is een van die grootste skrywers wat ons land en ons taal opgelewer het. Dit word beaam deur die twaalf plaaslike letterkundige pryse, insluitend die Hertzogprys vir Die reise van Isobelle (1995), wat aan haar toegeken is. Tel daarby talle ander toekennings en die British Royal Society of Literature se Winifred Holtby-prys, twee eredoktorsgrade en die Orde van Ikhamanga in silwer (2004), en jy weet: Afrikaans, haar geliefde taal, sou sonder die bydrae van Elsa Joubert veel armer gewees het.

Aanvullende bron: litnet.co.za

Lees ook: Poppie Nongena slaan 12 pryse los by die Silwerskermfees

Rolanda Marais as Antoinette se suster, Magriet, en Clementine Mosimane as Poppie Nongena

Poppie Nongena se verhaal is nou ’n fliek

Die swerfjare van Poppie Nongena is nou ook verwerk vir die silwerskerm! Die film Poppie Nongena sal op 31 Januarie 2020 landswyd in fliekteaters begin draai.

Bekroonde aktrise Clementine Mosimane vertolk die rol van Poppie Nongena en Anna-Mart van der Merwe vertolk die rol van Antoinette Swanepoel, Poppie se werknemer. Daarby bestaan die res van die rolverdeling uit plaaslike sterre: Chris Gxalaba (Stone, Poppie se man), Rolanda Marais (Magriet, Antoinette se suster), Nomsa Nene (Lena, Poppie se ma), Dawid Minnaar (Jan, Antoinette se man) – om net ’n paar te noem.

Poppie Nongena vertel die aangrypende verhaal van ’n Afrikaanssprekende Xhosa-vrou wie se lewe om haar gesin draai terwyl sy probeer om stabiliteit te vind in ʼn era van ondraaglike onrus in Suid-Afrika. Dit speel in ’n tyd af waarin swart vroue deur boetes, arrestasies en gedwonge verskuiwings gedwing is om hul tuistes te verlaat om in afgeleë gebiede, die sogenaamde swart tuislande, ’n nuwe lewe te gaan begin.

Wanneer Stone, Poppie se man, te siek word om te werk, beskou die owerhede haar skielik as ’n onwettige burger in haar eie land. Sy voer ’n desperate stryd om wettiglik te mag bly, al beteken dit sy moet van huis na huis trek en gedurig aansoek doen vir permitte en verdere uitstel. Poppie werp alles in die stryd om nie van haar kinders geskei te word nie. Maar uiteindelik word sy vasgevang in die spervuur van haar kinders se behoeftes, haar man se siekte, ’n gemeenskap se woede en onderdrukkende wette. In 1976 – net toe die onluste uitbreek – word Poppie uiteindelik gedwing om die stryd gewonne te gee.

Die veelbekroonde dramaturg en regisseur Christiaan Olwagen het die regie behartig, en Vicci Turpin was verantwoordelik vir die kinematografie. Olwagen was die regisseur van drie vorige rolprente (Die Seemeeu, Johnny is nie dood nie en Kanarie). Die draaiboek is deur Olwagen en die bekroonde dramaturg Saartjie Botha verwerk.

Lees ook: Anna-Mart van der Merwe en Rolanda Marais is op ons Januarie 2020-voorblad! Kom kuier agter die skerms met dié twee sterre

Kyk hier na die Poppie Nongena-span oor Elsa Joubert, Poppie Nongena en wat die verhaal vir hulle beteken.

Kyk hier na die lokprent van Poppie Nongena

Hierdie film begin op 31 Januarie 2020 in plaaslike fliekteaters draai. Kry sommer dadelik jou kaartjies.

Ontmoet Elsa Joubert, skrywer van die verhaal van Poppie Nongena

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

5 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.