Genoeg vir 40-50 koekies.
Bestanddele
- 450 g botter
- 450 g (450 ml) suiker
- 250 ml (1 k) gouestroop
- 2 eiers
- 900 g (6 k) koekmeel
- 20 ml (4 t) koeksoda
- ’n knypie sout
- 45 ml (3 e) droë gemmer
Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n bakplaat met kleefwerende kossproei.
- Smelt die botter en suiker in ’n kastrol. Trek van die hitte af. Voeg die stroop by en meng goed deur. Laat staan eenkant om effens af te koel.
- Klits die eiers liggies en klop by die bottermengsel in.
- Sif die koekmeel, koeksoda, sout en gemmer saam. Roer met ’n houtlepel by die bottermengsel in. Laat rus die deeg vir 15 min. in die yskas tot ferm.
- Skep klein eetlepels (sowat 15 ml) vol en rol in balletjies tussen jou handpalms. Sit die balletjies twee vingerbreedtes uit mekaar op die bakplaat en druk met ’n vurk plat.
- Bak vir 10-12 min. Laat vir 10 min. op die bakplaat afkoel tot die koekies hul vorm behou en pak dan op ’n afkoelrak. Sit met ’n glas yskoue melk voor!
