Ses jaar gelede het ’n ma se selfoonvideo van haar dogter wat teen ’n rugbypaal vasry soos ’n veldbrand versprei en die woorde “my f*k, Marelize” het deel van die volksmond geword. Skielik het almal geweet wie die Horns van Windhoek was.
Vanjaar by die Silwerskermfees, wat van 20 tot 23 Augustus in Kampsbaai, Kaapstad gehou word, word My f*k, Marelize! vir die eerste keer vertoon, maar daar is goeie nuus vir elkeen wat nie kan wag om te sien hoe hierdie video tot ’n volwaardige speelfilm uitgebou is nie: My f*k, Marelize! is van 29 Augustus landwyd in Suid-Afrika asook in filmteaters in Namibië te sien.
“Dis ’n storie oor familie,” sê die regisseur Zandré Coetzer. “Hierdie is ’n fliek vir enigiemand wat weet hoe familie dinamiek ook familie dinamiet kan wees. Die storie is in sy wese eintlik so klein, maar dit tref so diep. Dis ’n storie oor die lewe.”
My f*k, Marelize! is ‘n roerende familiestorie oor Heidi, ’n wilskragtige ma wat haar kanker wegsteek vir haar familie, en haar dogter Marelize, ’n ongeluksvoël, wat moet leer fietsry om ’n au pair in Nederland te word.
In die rolverdeling is Zandélle Meyer as Marelize met Je-ani Swiegelaar en Neels Clasen as haar ouers, Heidi en Tiaan. Nichola Viviers is Marelize se kleinsus Wilmari.
“Nooit in ons wildste drome nie,” sê die ware Marelize Horn oor die feit dat hierdie kort video van haar op ’n fiets so ’n groot storie, en nou ’n fliek, geword het. “Mamma het die video met sussie en familie gedeel en ons het gedink dit was die einde. Maar oornag het dit soveel mense aangeraak. Ander mense het dit op Facebook en YouTube gesit en dit het gewys ander mense wou ook hierdie prettige oomblik deel. Dis eintlik nog steeds nie ’n realiteit nie. Met hoeveel mense gebeur so iets?”
Sy sê die fliek is vir ma Heidi belangrik juis omdat dit haar storie en pad met kanker vertel. “Haar storie is nie ’n maklike een nie. Sy het hard baklei en sy wou die lig aan die einde van die tonnel sien. Dit is die belangrikste. Ons wil graag hê mense moet weet die antwoord is die Here. Ons sou nie hierdie pad op ons eie kon stap nie. Mense moet besef jy is nooit alleen nie, maak nie saak hoe die wêreld daar buite lyk nie.”
In hulle badkamer hang daar ’n bordjie met die woorde ‘elke dag is nie goed nie, maar daar is goed in elke dag’.
“Die lewe het al met ons gemors en hierdie is van die waarste woorde vir ons familie,” sê Marelize. “Die fliek gaan oor mamma. Sy het die geleentheid om haar storie te vertel en iemand te help wat dit nodig het.”
Zandré en Brett Michael Innes, die draaiboekskrywer van My f*k, Marelize! en bekend vir die rolprente Sink (2015) en Fiela se kind (2019), het ’n hele paar keer by die Horn-gesin in Namibië gaan kuier.
“Hulle het hul huis en harte vir ons oopgemaak en dit het later gevoel of ons by familie kuier. Ek wou ’n film maak waarop hulle trots sal wees. Die Horns het my weer laat besef hoe belangrik dit is om aan familieverhoudings te werk en hoe bevoorreg mens is om ’n familie te hê. Ek wou dít graag vasvang. My hoop is dat wanneer mense die fliek klaar gekyk het, hulle hul familie sal bel om planne te maak om saam te kuier.”
My f*k, Marelize! is in Windhoek verfilm en deur Nagvlug Films en Nostalgia Productions van Suid-Afrika en Joe Vision Productions van Namibië vervaardig. Indigenous Film Distribution versprei die film.
Die film is moontlik gemaak deur kykNET, Multichoice Namibië en die NFVF (Nasionale Rolprent-en-videostigting).
KYK| My f*k, Marelize! se amptelike lokprent

My f*k, Marelize! begin op 29 Augustus landwyd en in Nambië in rolprentteaters wys.

Hiermee die lys van fliekteaters waar dit gaan wys in Suid-Afrika en Namibië:
Ster Kinekor
- Bay West – Port Elizabeth
- Blue Route Mall Tokai – Kaapstad
- Brooklyn Mall – Pretoria
- Cape Gate – Kaapstad
- Cradlestone Mall – Johannesburg
- Cresta Mall – Johannesburg
- The Grove – Windhoek
- Maerua Mall – Windhoek
- Garden Route – George
- Waterest – Pinetown
- Ilanga Mall – Mbombela
- Mall of the North – Polokwane
- V&A Waterfront – Kaapstad
- Mimosa Mall – Bloemfontein
- Mooi River – Potchefstroom
- Rosebank Nouveau – Johannesburg
- Somerset Mall – Somerset West
- Rustenburg – Rustenburg
- Eastgate – Johannesburg
- Irene – Pretoria
- The Grove Lynnwood – Pretoria
- Tygervalley – Kaapstad
- Vaal Mall – Vanderbiljl Park
Nu Metro
- Canal Walk – Kaapstad
- Menlyn – Pretoria
- Ballito Junction – Kwazulu-Natal
- Worcester – Wes-Kaap
- Boardwalk Casino – Port Elizabeth
- Loch Logan – Bloemfontein
- Woodlands – Pretoria
- Galleria – Amanzimtoti
- Clearwater Mall – Johannesburg
- The Pavillion – Durban
Onafhanklik
- Whale Coast Roadhouse – Hermanus
- Epic North Ridge – Bloemfontein
- Movies @ Montecasino – Johannesburg
- Movies @ Silverstar – Krugersdorp
- Grand West Casino – Kaapstad
Lees ook: Hirome wen Die brug: “Ek het geweet ek gaan deel, nog voordat ek geweet het ek gaan wen”




