Deur Margaret Gardiner.
Send Help, met Rachel McAdams en Dylan O’Brien, in die hoofrolle, is ’n fliek wat die goedkeuring van baie vroue sal wegdra. Dit gaan in wese oor ’n vrou, ongewaardeerd en oor die hoof gesien, wat ’n vyandige werkplek moet verduur en ’n skielike geleentheid kry om plekke met haar baas te ruil. Send Help draai rondom geregtigheid en wraak, met humor en afgryse. Dit het ondertone van die fliek Misery, maar daar is ’n hoofkarakter wat jy wil hê moet wen.

Rachel McAdams (Foto: Jesse Grant/Getty Images for 20th Century Studios)
Die hardwerkende, slim Linda Liddle (Rachel McAdams) is geoormerk vir die pos as die nuwe visepresident van haar maatskappy. Ongelukkig sterf die president en sy seun, Bradley Preston (Dylan O’Brien), neem oor en gee dié pos aan sy onbevoegde skoolvriend. Hy steel boonop Linda se idees. Bradley is arrogant en onbeskof, en Dylan speel die rol vir die aaklige, maar terselfdertyd sjarmante Bradley perfek. Dit is verstaanbaar dat Linda in die geheim verlief is op hom en sy hul interaksies verkeerd lees totdat sy gedrag nie meer verkeerd geïnterpreteer kan word nie. Dylan (Maze Runner) beskryf sy karakter gepas as “’n stuk gemors”. Op pad na ’n sakevergadering stort hul privaat vliegtuig in ’n afgeleë gebied van Thailand neer en net Linda en haar baas spoel op ’n verlate eiland uit.
Wat jy kry, is ’n sielkundige riller met ’n vroulike antiheld, ’n verskuiwende magsdinamika en lag-uit-jou-maag-uit-oomblikke van subtiele en blatante wraak. Dat Send Help geregisseer en vervaardig is deur Sam Raimi (Darkman, The Gift, Spider-Man Trilogy – met Tobey Maguire), behoort ’n waarskuwing te wees dat bloedvergieting betrokke is. Terwyl die gehoor saam met wie ek dit gesien het, gegil het, en ek agter my hande weggekruip het, is die uiterste sodanig dat dit my ook laat giggel en hardop laat juig het.
Die spanning neem geleidelik toe. Die ster, bekend vir haar soet rolle in The Notebook en About Time, “was mal oor die morele dubbelsinnigheid” wat die karakters ontlok, “en dat Linda se fantasie waar word”. “Die vrou wat lyk asof sy nooit gaan wen of die dolle gejaag na sukses onder die duim van patriargie gaan ontsnap nie, laat die sterre skielik in haar guns draai.”
“Die wêreld waarin sy geleef het, is deur haar baas se reëls bestuur. Wanneer die vliegtuig neerdaal, is dit ’n ander magsstruktuur. Sy skep ’n dinamiek wat op haar vaardighede gegrond is. Op die eiland is haar baas, ’n stadsjapie, heeltemal en teësinnig afhanklik van sy werknemer wat hy glad nie waardeer het nie,” merk Sam Raimi op. “Linda is soos die saad wat uiteindelik blom.” Sy is emosioneel sterk van karakter.

Sam Raimi, Rachel McAdams, Dylan O’Brien en Zainab Azizi (Foto: Jeff Spicer/Getty Images for The Walt Disney Company Limited)
Wil jy die viole speel vir ’n liefdesverhaal? Moenie eers probeer nie.
Wat ontvou, is ’n donker komedie waar die baas ontdek hoe bekwaam Linda werklik is. Hy is gegrief oor sy onvermoë om haar rond te beveel, en moet sy woede versag en ’n manier vind om te oorleef. Linda is ’n groot aanhanger van die TV-program Survivor en het aansoek gedoen om ’n deelnemer te wees, so sy het al die vaardighede wat nodig is om aan die lewe te bly, skuiling te bou en die vis wat gevang word in soesji te omskep. Sy gebruik wat sy op die eiland kan vind om iets so na aan ’n eilanddroomvakansie te skep. Maar dis nie net beelde van ’n smaakmaker nie; haar deursettingsvermoë kom na vore in ’n toneel met ’n skrikwekkende wildevark soos nog nooit tevore gesien nie.
“Linda is ’n ongelooflik sappige karakter,” sê Rachel en glimlag met kuiltjies in haar wange. Die 47-jarige aktrise is in Kanada gebore. “Dit was wonderlik om so ’n karakterboog te kon speel en haar deur so ’n transformasie te laat gaan. Dis waarskynlik die mees transformerende karakter wat ek nog gespeel het.”

Dylan O’Brien en Rachel McAdams (Foto: Jeff Spicer/Getty Images for The Walt Disney Company Limited)
Send Help speel op ons geheime fantasieë om ter ere herstel te word wanneer ons onregverdig behandel word. Die fliek werk omdat jy ook later vir Bradley begin jammer voel en hoop dat hy ’n beter mens kan word. Die fliek speel op baie vlakke af. Dis ’n komedie, gruwel, romanse en ’n moraliteitsdrama. Die wisseling tussen vriend en vyand kom tot ’n klimaks in ’n wilde geveg waarin daar geen reëls of perke is nie, en die gehoor na hul asem laat snak.
Die fliek is in Australië en Thailand verfilm en dit verdien regtig om saam met springmielies en ’n vriend in ’n teater gesien te word. As jy ’n slegte dag gehad het, is Send Help die perfekte teenmiddel.
KYK | Send Help se amptelike lokprent

Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Jessie Buckley betower in Hamnet en ’n Oscar wink


