Thelma is hierdie week se Sondagaand-fliek op M-Net (DStv-kanaal 1010), wat om 20:05 op 21 September begin voordat dit vanaf Maandag 22 September op Showmax gestroom word.
In die aksiekomedie vertolk die Oscar-benoemde June Squibb die rol van ’n vurige 93-jarige ouma, wat deur ’n telefoonswendelaar bedrieg word. Sy word deur ’n bejaarde vriend (Shaft-baanbreker Richard Roundtree) en sy gemotoriseerde bromponie vergesel op ‘n verraderlike soeke deur Los Angeles om terug te eis wat van haar geneem is.
Met ’n 98% gradering was Thelma Rotten Tomatoes se vyfde beste geresenseerde komediefliek van 2024. The Australian noem dit “Mission: Impossible op mobiliteitsbromponies, met ’n klankbaan wat daarby pas … Vol humor, en glad nie hartseer nie.”

Thelma het hierdie 95-jarige ster, onder meer, die Beste Aktrise-toekenning in ’n aksiefliek by die 2025 Critics Choice Super Awards besorg. Dit was die eerste hoofrol in haar 70-jaar lange loopbaan, wat ’n Oscar-benoeming vir Ondersteunende Aktrise vir Nebraska insluit.

Die skrywer Josh Margolin, wat sy debuut as regisseur van die speelfilm met Thelma maak, is deur ’n werklike ervaring geïnspireer.
“My ouma weier om te sterf,” skryf hy in Thelma se produksienotas. “Sy het pas 103 jaar oud geword en het die Groot Depressie, die Tweede Wêreldoorlog, haar man se dood, ’n dubbele mastektomie, dikdermkanker, ’n klepvervanging, en die teenwoordigheid van ’n (goedaardige) breingewas oorleef. Toe sy ’n paar jaar gelede deur telefoonbedrieërs verkul is (en amper duisende dollars vir my sogenaamde ‘borgtog’ gestuur het), het dit my oortuiging dat sy op een of ander manier onfeilbaar was beïnvloed. En dis daardie oortuiging wat my ’n soort onnodige troos dwarsdeur my eie angstige bestaan gebied het.
“Die onvermydelikheid om haar te verloor, het vir my toenemend werklik geword, en so ook haar hardnekkige volharding om aan haar sin van self vas te klou, terwyl haar liggaam en gees hardnekkig stadiger word,” voeg hy by. “Ek het Thelma vanuit hierdie plek van afsluiting geskryf. Ek wou haar stryd (vir wat oor is van haar outonomie) ondersoek, net soos ek na my eie begin kyk het. Sy was nog altyd groter as die lewe vir my, en ek het verplig gevoel om haar storie te dramatiseer met ’n genre wat haar kragtige gees kan vasvang en haar deursettingsvermoë en vasberadenheid vier – en dis aksie.”
June vertolk die onwaarskynlike aksieheld met deursettingsvermoë en vasberadenheid, wat demonstreer dat Thelma meer as in staat is om sake te behartig – ten spyte van wat haar dogter Gail, skoonseun, Alan, of kleinseun, Danny, dalk mag glo.
Die 2025 Emmy-benoemde Parker Posey (Victoria Ratliff in The White Lotus S3) speel Gail, met Clark Gregg (ook bekend as Marvel se Agent Phil Coulson) as Alan en Fred Hechinger (Quinn in The White Lotus S1) as Danny. Die sterrolverdeling sluit ook die Golden Globe-benoemde Malcolm McDowell en die veelvuldige Emmy-benoemde Nicole Byer in.
Josh Margolin beskryf Thelma as “ ’n kinkel op die klassieke ‘een laaste werk’-fliek.”
“Wat my betref, is dit net so opwindend en vreesaanjaend om my ouma op ’n hoë matras te sien klim soos om Tom Cruise met ’n motorfiets van ’n krans af te ry. Net op ’n heel ander manier,” sê hy. “Die storie is ’n epiese reis op ’n fyner skaal, want vir haar bied die klein dingetjies groot gevare. Ek wil hê die gehoor moet hierdie uitdagings in hul mae kan voel, sonder om die krag wat dit verg om deur die wêreld te beweeg, ligtelik op te neem. Die fliek krimp die gewone style van die aksiegenre tot ’n baie menslike skaal af en gebruik dit om veroudering, broosheid en angs te verken.”
Hy is vol lof vir sy ster. “Ek kan my nie indink dat iemand dit sou doen behalwe June nie. Ek is so gelukkig dat ek saam met haar kon werk,” sê hy. “Op 95-jarige ouderdom het sy haar alles gegee en gelyke hoeveelhede weerloosheid en veerkragtigheid gebring (sowel as om die meerderheid van haar eie toertjies te doen). Thelma fokus en vier haar sowel as ander wat hulself weerspieël sien in hierdie tipe aksieheld wat ons so selde sien.”

Thelma het tot dusver 11 toekennings gewen en is vir Beste Komedie by die 2025 Critics Choice Awards benoem.
June Squibb gaan binnekort ook die hoofrol in Scarlett Johansson se komende regisseursdebuut, Eleanor The Great, vertolk.
KYK | THELMA se amptelike lokprent





