kategorieë: In die nuus

Pasop vir kuberskelms!

Die 2013 Symantec Norton-verslag oor kubermisdaad raam dat 73% van Suid-Afrikaanse internetgebruikers al die slagoffers was van kubermisdaad in een of ander vorm

Peter Jay, ’n prokureur van Pretoria wat al baie kubermisdadigers in die hof moes verdedig, het in ’n ANN7-program oor “dating scams” (sien skakel) vertel dat skuiwergate in ons wetgewing van Suid-Afrika ’n gunstelingbestemming vir kubermisdadigers maak. Volgens hom is die kanse vir ’n eerste oortreder om hier tronk toe te gaan, baie skraal. Boonop het ons nie uitleweringsooreenkomste met alle lande nie, wat beteken baie kuberskelms van oorsee kom skuil hier. Hy glo ook dat nie eers 10% van alle kubermisdaadsake in Suid-Afrika uiteindelik in howe beland nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Elke mens wil ’n held wees en wil graag iemand help. Dis juis sulke mense wat maklik slagoffers word,” meen hy. Sy jarelange ervaring toon ook dat dit dikwels slim mense in hoë posisies is wat agter witboordjiemisdade sit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ek het al dokters, tandartse en professore verdedig.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Arrogansie is ’n kenmerk by al hierdie misdadigers. Hoewel dit nie net Nigeriers is wat agter alles sit nie, is dit ’n bekende feit dat hulle wêreldleiers is op die gebied van aanlynmisdade. Die bekende 419 scam (waar mense met hartseerstories via e-pos pleit vir finansiële hulp) en baie phishing-slenters het juis in Nigerië ontstaan. Peter sê Nigeriërs dink aan hulself as ’n superieure ras.

“Hulle is meedoënloos as dit by hierdie soort misdaad kom. Baie van hulle het ook al vir my gesê hulle voel nie hulle doen iets verkeerd nie, want hulle het niemand gedwing om vir hulle geld oor te betaal nie. Hulle voel dat as mense so dom wil wees om vir hulle slenters te val, is dit die slagoffer se probleem.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Nog ’n probleem, volgens Peter, is dat daar medewerkers binne banke is wat oorbetalings fasiliteer, en dat daar baie Suid-Afrikaners is wat hierdie sindikate help. Hy glo een manier waarop kubermisdaad hokgeslaan kan word, is deur banke wat oorbetalings hanteer, tot verantwoording te roep deur vervolging.

Die heel beste manier om jouself teen kubermisdadigers te beskerm, is steeds om kontak met hulle soos die pes te vermy. Moenie verdagte e-posse oopmaak nie, moenie vriendskapsversoeke van vreemdelinge aanvaar nie en hou jou persoonlike inligting op die internet baie vaag.

Maar watter soort vrou val – ten spyte van so baie waarskuwings – steeds vir kuberboewe? Hier is Nellie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Alberton wat baie as deskundige in hofsake optree, se antwoorde op ons vrae:

Hoekom eet sommige vroue alles wat hulle hoor vir soetkoek op? Party hou selfs aan om geld oor te betaal nadat hulle reeds besef het hulle is bedrieg …

Slagoffers is meestal eensame, ouer vroue. Hulle mag selfs getroud wees, maar voel afgeskeep deur hul mans. Die geleenthede om mense te ontmoet raak al hoe minder, en hulle wend hulle dikwels tot afspraakwebwerwe en facebook. Onthou ook: die scammer vra nie sommer dadelik met eerste kontak vir geld of gunste nie. Hy vestig eers ’n mate van vertroue en “groom” die vrou om vir sy hartseerstories te val. Van die vroue is naïef, wat vererger word as sy misbruik of verwaarloos voel in haar eie verhoudings. Ander is verveeld met hul lewe en op soek na nuwe avonture. Dit gee die skelm klaar ’n voet in die deur. Onthou ook dat hierdie boewe pragtige beelde van hulself skep – hulle verklap definitief nie aanlyn watter vuilgoed hulle werklik is nie. Hulle skep vals identiteite, dikwels die van aantreklike mans met goeie beroepe en ’n hoë lewensstandaard. Daar is dus nie ooglopende alarms wat die vrou kan waarsku nie.

Hulle maak ook ’n aanslag op die romantiese storieboek-sy van jou persoonlikheid: jy kan die prinses word van die prins wat jou lewe gaan verander. Almal begeer immers ’n sprokieseinde! Hulle is deur die bank glad met die mond en kan enige wolhaarstorie baie oortuigend oordra. Profielfoto’s word ook met sorg gekies. ’n Man in uniform maak dikwels ’n vrou se hart sag, want nie net is hy ’n beskermer nie, maar hy het ook bepaalde waardes en hou van orde en reëls. ’n Vrou se sesde sintuig praat dikwels baie hard met haar, maar sy ignoreer dit omdat sy glo hierdie keer het sy die pot goud onder die reënboog gevind.

Hoekom moet vroue twee maal dink oor internetromanses?

Papier is geduldig en enige persoon kan jou ’n rat voor die oë draai as hy wil. Daar is niks daarmee fout om afspraakwebwerwe te besoek nie, maar onthou altyd dat jy ’n mens nooit werklik ken voordat jy op ’n paar afsprake en in verskillende situasie met hom was nie. Jy kan niemand se integriteit bepaal of dink jy ken hom na ’n paar aanlyngesprekke nie. ’n Mens word selfs in lewende lywe soms geflous. Internetromanses is ook dikwels vir albei partye net ’n kans om te flirt sonder dat dit noodwendig op ’n verhouding uitloop – ’n tipe van fantasie wat jy kan uitleef sonder om enige gevolge te dra.

Het jy raad vir lesers om te keer dat hulle slagoffers word?

• Luister na jou intuïsie. As daardie stemmetjie in jou kop net nie wil stil word nie, luister!
• Die kuberboef sal in ’n relatiewe kort tydjie reeds sterk emosies uitspreek. Enigiets wat jou ongemaklik laat voel, behoort vir jou rooi ligte te laat aangaan.
• Wees ook realisties. Hoekom sal iemand van oorsee nou juis met jou ’n verhouding wil aanknoop? Hoekom oor so afstand heen?
• Dikwels stem skurke se oggend- en aandpraatjies nie ooreen nie, of die inligting wat hulle met jou deel in boodskappe bots met die inligting op hulle profiel. Let ook op na swak taalgebruik: dis ’n besliste teken dat alles nie pluis is nie.
• Sodra hulle geld of goed van jou wil hê, hardloop! Unfriend, block, delete, maar moenie reageer nie. Vra jouself altyd: as my voordeurklokkie lui en daar staan ’n man met dieselfde versoek, sal ek aan sy versoek toegee? En waarom nie? Wat maak my internetvriend anders? Hoekom vertrou ek hom meer as enige ander wildvreemde man?
• Indien jy besluit om die persoon te ontmoet, moet dit altyd in jou omgewing wees, en tussen ander mense (soos  in ’n restaurant). Vertel ook jou vriende en familie waar jy is. Nooit by jou of sy huis nie!
• Moenie jou persoonlike inligting sommer net uitgee nie, en veral nie bankbesonderhede of kredietkaartbesonderhede nie.
• Kyk mooi na die inligting wat jy oor jouself op jou profiel gee. Iets soos “looking for a partner” klink baie meer desperaat as “looking for someone to communicate with.” Deel liewers te min inligting as te veel.

Beskerm ook jou dogter

’n Vriendin van my dogter is op facebook deur sogenaamde “agente” gekontak vir ’n internasionale modelagentskap (nogal Afrikaanse mense). Hulle het haar eers vreeslik gevlei, en toe gesê sy moet ’n Afrikaanse vrou kontak op Whatsapp. Dié was net so gaaf, en het vir allerhande foto’s gevra – sommer per Whatsapp. Ook vir video’s waar sy dans, en selfs vir foto’s in swemklere. Eers ’n paar dae later het sy gevra vir ’n R500-oorbetaling per cashsend (wat beteken die geld is onopspoorbaar sodra dit oorbetaal is), vir die neem van ’n foto-portefeulje. Toe ek hiervan te hore kom, het ek met ’n internetsoektog vasgestel dis ’n ou slenter waarvoor baie al geval het. Die sogenaamde telefoonnommer by hul kantore was inderwaarheid die van Sandtonse prokureurs wat vertel het dat hulle al honderde oproepe moes hanteer van woedende “modelle” wat hulle foto-portefeuljes soek. Die agentskap het ook nog nooit Suid-Afrikaanse kantore gehad nie.

Onthou: géén modelagentskap sal net via Whatsapp en die internet werk nie. As hulle nie kantore in ’n ordentlike gebou het en werk met gevestigde modelle nie, is hulle waarskynlik bedrieërs. Moet ook nooit oorbetalings vir foto’s maak voordat jy dit nie in jou hand hou nie. En moenie enige foto’s van jou – veral nie in swemklere of onderklere of suggestiewe posisies – vir vreemdelinge stuur nie. Dit kan selfs op pornografiese webwerwe gebruik word sonder dat jy dit weet.

Kyk hier na onderhoude met slagoffers van kubermisdadigers: www.ann7.com/

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.