kategorieë: Gesondheid

Psoriase: meer as net vel diep

Psoriase is ’n geneties oordraagbare velsiekte waarvoor daar nie genesing is nie. Maar met geduld, uithouvermoë en die regte behandeling kan die simptome doeltreffend behandel word, skryf Martie Bester uit eie ervaring.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Groeiende slange vervel gereeld. Hulle raak ontslae van die boonste laag van hul vel omdat dit periodiek deur ’n nuwe, gesonde laag vervang word. Maar dis nie net slange wat vervel nie. Diegene wat psoriase het, vervel ook gereeld, gewoonlik op ’n daaglikse basis en beslis nie uit vrye wil nie. Ons het nie veel keuse wanneer ons velle besluit om die pad te vat nie. Skubbe en wit vlokkies laat hul merk en waar die vel afgeskilfer het, bly ’n geniepsige rooi, somtyds bloederige, bewysstuk agter.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Lees ook: WEN velsorgprodukte van Lamelle se Nourish-reeks ter waarde van R 2025!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek het psoriase by my ma “geërf”. Dit is my genetiese lot en ek sukkel nog om daarmee vrede te maak. Ek is al meer as tien jaar lank ’n onsuksesvolle psoriase-voortvlugtende en hoewel ek vir sowat twee jaar ontsnap het, het my vel weer silwer soos visskubbe begin flikker. Psoriase het telkens sy teenwoordigheid met ’n skrikwekkende gejeuk aangekondig.

Toe my ma in haar vroeë dertigs ontdek het dat sy psoriase het, is arseen nog gebruik om die siekte te behandel. Omdat ’n mens desperaat is en deurmekaar raak van die pyn, moedeloosheid en ewige jeuk, het ’n homeopaat haar met arseen behandel. Haar psoriase het gevlug voor die gif – maar ’n paar jaar daarna het dit weer, soos van ouds, klaarblyklik oornag en met meer drif, teruggekeer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Psoriase is ’n genetiese toestand wat rooi en skubberige vlekke op die vel veroorsaak. Dit affekteer gewoonlik die kopvel, elmboë en knieë (waar die vel dikker is) maar kan oor die hele liggaam versprei. Die siekte kan enige tyd toeslaan, maar is meer geneig om volwassenes as kinders te affekteer. Die algemeen aanvaarde redes vir die oorsaak of verergering van psoriase is ’n infeksie, stres en medikasie, of ’n kombinasie van hierdie faktore.

Ek was 27 toe psoriase by my gediagnoseer is. Dit het as rooi kolletjies op my bene begin en ek het gedink dat muskiete hulle dalk gulsig aan my bloed versluk het. Maar drie weke ná die eerste vlekkie se verskyning was my lyf byna heeltemal oortrek met seer, skilferagtige vlekke so groot soos 10c-stukke wat dag en nag onophoudelik gejeuk het. Net my gesig het die plaag vrygespring. Ek was ongemaklik en verskriklik selfbewus en soggens het ek wakker geword met bloedvlekke op my nagklere soos ek die psoriase in my slaap probeer doodkrap het.

Twee jaar lank het ek geduldig rome aangesmeer en my stukkies gesonde vel het van al die kortisoon wit gevlek. En toe, een dag het ek opgestaan en ek kon eindelik sien dat die vyand begin wyk het en pienk sirkeltjies nuwe vel agtergelaat het. Ek was uitbundig bly, eindelik kon ek weer – letterlik – gemaklik voel in my vel, oor my vel. Maar die vreugde was van korte duur. Drie jaar later het psoriase weer aan my huid kom klop en hierdie keer hoofsaaklik my kopvel meedoënloos met skubbe begin peper.

Benewens die ongemak en die seer weens die onafwendbare gekrap, val die skubbe soos skilfers oor my klere en klou nog hardnekkig aan ander plekke op my liggaam. Ek hoop elke dag dat ’n wonderkuur ontwikkel sal word, maar net soos in die geval van artritis, wat verwant aan psoriase is, lyk die kanse op lewenslange herstel onseker. Sowat ses maande terug het artritis hom in my regterheup kom tuismaak en moes ek my leefstyl ingrypend verander om verligting van die simptome te kry.

Byna 2% van die bevolking sukkel met psoriase in verskillende vorms en grade van infeksie. Dr. Dagmar Whitaker, ’n spesialis-dermatoloog in Kaapstad en lid van die Suid-Afrikaanse Psoriaseforum, sê psoriase beïnvloed beslis die lewensgehalte van mense wat aan die siekte ly. Die sielkundige impak is veral beduidend. “Psoriase affekteer ook die gewrigte en kan tot psoriatiese artritis lei wat die gewrigte heeltemal kan verwoes. Hoë bloeddruk word ook met psoriase geassosieer.”

Maar is daar lig aan die einde van die tonnel? Kan ons ’n wonderkuur verwag. “Nee,” sê Dr. Whitaker beslis. “Psoriase kan nie genees word nie, maar ons kan dit behandel sodat die siekte se impak op mense se leefstyl verminder word.”

In Guy Kennaway se boek Sunbathing Naked and Other Miracle Cures lys hy ’n rits behandelings wat deur die jare voorgestel is vir psoriase – waaronder my ma se arseenbehandeling. Daaroor skryf Kennaway: “Arsenic: Britain, nineteenth and twentieth centuries – when they learnt to cut to the chase and just kill us for having dry skin.”

Dr. Whitaker stel darem nie gif voor nie. “Om die pyn en jeuk te verlig, kan rome wat vitamien D en A bevat, aangewend word. Jy kan ook rome wat kortisoon en teer bevat, gebruik. Sistematiese behandeling soos ligterapie of die tablette Neotigasone of Methotrexate, asook die inspuitings Enbrel en Revellex kan simptome verlig.”

Oor die jare het ek my dieet probeer aanpas, veral omdat daar wyd verkondig word dat veral suiker vermy moet word. Dr. Whitaker beveel aan dat alkohol heeltemal vermy moet word en ook rooivleis.

“Visolies soos omega-3 en -6 help, maar oor die algemeen is ’n gesonde leefwyse met genoeg oefening en ’n gesonde dieet nodig.”

En wat help vir die ewige jeukende kopvel? “Sjampoes wat teer en steroïede bevat, ontkalkingsrome wat salisielsuur en sulfer bevat en kortisoondruppels.”

Een van die grootste wanopvattings is dat psoriase aansteeklik is. Nee wat, ons vervel net op ons eie. En die psoriase-lyer moet aanvaar dat die toestand ongeneeslik is. Dr. Whitaker sê dat sy ’n hele paar pasiënte het wie se lewe verander het met fototerapie (ultraviolet-behandeling). “Voor die behandeling het hulle geïsoleer gevoel en nie fisieke kontak gehad nie omdat niemand aan hulle wou vat nie. In sommige gevalle het die pasiënte aan ernstige depressie gely en selfmoordneigings gehad. Ná sowat twee maande se behandeling het hul velle in so ’n mate herstel dat hulle ’n normale sosiale lewe kon hê – soms vir die eerste keer in hul lewe.”

Die belangrikste ding wat pasiënte moet onthou, is dat hulle geduldig moet wees, die rome en behandelings neem ’n ruk om te werk. En onthou, psoriase is ’n chroniese terugkerende siekte, dit gaan dalk weg, maar soos die kat, kom dit altyd weer terug.

Lees ook: Hier’s die regte volgorde waarin jy jou velsorgprodukte moet aanwend

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

22 hours Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 day Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 day Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.