Rooibostee-en-jogurt-koek. Deur Vickie de Beer. Foto’s deur CRPHOTOGRAPHIC.
Genoeg vir 1 middelslag-koek van 20 cm met 3 lae.
Bestanddele
- 300 g botter
- 300 ml rooibostee
- 356 g bruismeel
- 420 g strooisuiker
- knypie sout
- 1 ml (¼ t) wonderpeper
- 1 takkie roosmaryn, gekap
- 3 eiers, geklop
- 150 g tuisgemaakte jogurt (*sien onder)
Room
- 400 g ricotta
- 400 g mascarpone
- 60 ml (¼ k) versiersuiker
- gerasperde skil van 1 lemoen
Tooisel
(Die tooisels is opsioneel, maar dit maak die koek ekstra spesiaal)
- 1 vars heuningkoek
- 60 ml (¼ k) heuning
- 1 lemoen, in ringe gesny
- 45 ml botter
Metode
- Verhit die oond tot 170 °C. Voer 3 x 20 cm-losboom-koekpanne met bakpapier uit en smeer met botter.
- Smelt die botter in die verhitte rooibostee en hou eenkant.
- Sif die bruismeel, strooisuiker, sout, wonderpeper en roosmaryn saam.
- Klits die botter-en-rooibos-mengsel met ’n elektriese menger of handklitser by die meelmengsel.
- Voeg die eiers een vir een by terwyl jy deurentyd klits. Voeg die jogurt by en klits saam tot goed gemeng.
- Verdeel die koekbeslag tussen die koekpanne.
- Bak vir 30 – 35 min. of tot ’n toetspen skoon uitkom.
Room
- Meng die ricottakaas, mascarpone, versiersuiker en lemoenskil liggies saam – moenie te veel meng nie.
- Smeer die versiersel oor elke koeklaag. Stapel die koeklae op ’n koekstander of dienbord opmekaar en voltooi met ’n laag ricottaversiersel.
- Karamelliseer die lemoenringe aan albei kante in die gesmelte botter. Laat afkoel.
- Versier die koek met die lemoenskywe en vars heuningkoek en gooi die heuning oor.
*Maak jou eie jogurt
Genoeg vir sowat 1 liter
- Verhit 2 liter (8 k) volroommelk in ’n groot kastrol oor matige hitte. Laat die melk liggies prut en ’n vel vorm.
- Trek van die hitte af en laat afkoel totdat jy jou vinger kan indruk sonder om te brand.
- Meng 250 ml van die louwarm melk en 125 ml (½ k) volroomjogurt in ’n bakkie.
- Gooi die melk-en-jogurt-mengsel terug in die kastrol. Roer eenmaal.
- Gooi die mengsel in gesteriliseerde flesse of in een groot fles en seël dig.
- Sit die flesse in ’n kastrol vol warm water en laat die jogurt vir 18 uur daarin “broei”.
- Haal uit die kastrol en hou in die yskas

