kategorieë: Bekendes

Ryan Sandes wen wedloop in Kalifornië

16 ure, 19 minute en 39 sekondes. Dit is die tyd wat die Suid-Afrikaner Ryan Sandes die uitmergelende Western States 100 Miler in Kalifornië laat wen het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dié veldwedloop het in die Sierra Nevada-berge plaasgevind met hardlopers wat meer as 5 500 m geklim het en weer oor die 7 000 m gedaal het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die rekord vir die wedren is in 2012 deur Timothey Allan Olsen opgestel in ’n tyd van 14:46:44.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Kyk net hoe mooi is hierdie foto’s wat Ryan op Instagram gedeel het:

A post shared by Ryan (@ryansandes) on

rooi rose-joernalis, Ilse Salzwedel, het in Augustus verlede jaar (2016) met Ryan gesels oor sy liefde vir die sport en sy vrou, Vanessa Haywood. Ryan was ook ons #rooiwarmman vir die maand.

Lees die onderhoud hier:

Ryan Sandes was die eerste man ter wêreld wat vier moordende woestynwedlope gewen het. Hy was nog altyd baie mededingend.

“Ek het veral teen myself meegeding en wou die beste wees wat ek kon wees. Ek sit van kleins af baie druk op myself.”

Op skool by S.A.C.S in Kaapstad het hy geswem en waterpolo, krieket en rugby gespeel. Hy het vir die eerste keer aan die einde van 2007 sommer vir die pret saam met vriende aan die Knysna-marathon deelgeneem. Die volgende jaar het hy by ’n hardloopklub aangesluit en teen 2010 was hy die Four Deserts-kampioen en die eerste atleet tot nog toe wat eerste geëindig het in moordende wedlope deur vier woestyne (die Sahara, Gobi, Atacama en Antarktika, bekend as die laaste groot woestyn.)

Teen 2013 was hy die eerste ultra-atleet wat ’n wedloop op elke vasteland gewen het. In 2014 was hy die tweede beste atleet ter wêreld in uithou-veldwedlope (trail running), ’n uitdagende sportsoort met dikwels onbegaanbare roetes oor berge en deur oerwoude en woestyne. Hardloop is sy passie en ontspanning – ’n manier om aan die gejaagde moderne lewe te ontsnap.

“Ek kan heeltemal afskakel. Ek hoef aan niks te dink nie en boonop is jy in die natuur. Vir my is dit amper ’n vorm van meditasie. Om alleen deur ’n woestyn te hardloop, is byna surrealisties.”

Ryan is ’n ambassadeur vir die Laureus Sport for Good-stigting, en glo dat sport ’n lewe kan verander.

“Ek kan heeltemal afskakel. Ek hoef aan niks te dink nie en boonop is jy in die natuur. Vir my is dit amper ’n vorm van meditasie. Om alleen deur ’n woestyn te hardloop, is byna surrealisties.”

“In gebiede waar kinders blootgestel is aan bendes en dwelms, gee dit ’n ander uitweg, nuwe helde. En hoop.”

Vertel van jou kinderjare

Ek is in Kaapstad gebore en bly my lewe lank nog in Houtbaai. Ek het ’n jonger suster, Ashley. My ouers was albei sportief. Ma Francesca het gehardloop en geswem en stap steeds graag, ook in die berge. My pa, Chris, het ses Twee Oseane-marathons gehardloop toe ek nog klein was. Ons het langs die roete vir hom gaan waai en ná die tyd het ek met sy medalje om my nek om die tuin gehardloop. Ek was ook dol op die buitelug en branderplankry.

Hoekom het jy bourekenkunde gaan studeer?

My pa het sy eie boumaatskappy en is ook ’n eiendomsontwikkelaar. Dit het na die logiese ding gelyk om te doen. Ek het ná universiteit 18 maande lank vir hom gewerk en dit nogal geniet.

Hoe word jy toe ’n super-atleet?

Dit was net ná ek begin werk het. Ek dink die idee van ’n meer gestruktureerde lewe ná my sorgvrye kinderdae en universiteitsjare het my so ’n bietjie uitge-freak. Die gedagte dat ek elke dag van nege tot vyf tussen vier mure moet deurbring, was vreesaanjaend. Ek was op soek na avontuur en het al meer trail running begin doen. My ma en haar pa, my geliefde oupa Nic Stander, het altyd goed gedoen wat nie die norm was nie, sulke mallerige, avontuurlike goed.

“Die gedagte dat ek elke dag van nege tot vyf tussen vier mure moet deurbring, was vreesaanjaend”

Eendag was ek op die Internet op soek na nuwe plekke vir nuwe roetes toe die Four Desert-webwerf skielik oopmaak. Toe dink ek: hoekom nie? Ek het met my kredietkaart die inskrywingsgeld betaal en toe moes ek deurdruk. Dit was aan die einde van 2007, en in Maart 2008 het ek die wedloop deur die Gobi-woestyn gehardloop. Ek is ’n alles-of-niks soort mens.

Toe wen jy dit boonop. Hoe moeilik was dit?

Dit was ’n yslike skok vir my gestel! Jy hardloop 250 km in sewe dae, boonop met ’n rugsak op jou rug met alles wat jy nodig het, soos kos, klere, noodhulp en jou dag se waterrantsoen. Daardie eerste rugsak het by die 10 kg geweeg. Deesdae weeg dit net so 6,5 kg. Dit was seker die moeilikste ding wat ek in my lewe aangepak het. Toe ek terugkom, het ek besef dis wat ek permanent wil doen. Die lewe is kort, en jy moet jou passie uitleef. Daarna was die renne makliker, maar elkeen het maar sy eie uitdagings.

Soos?

Die Sahara is baie warm. Die Gobi en die Atakama in Chili is baie hoog bo seespieël. Die Antarktika-woestyn is weer baie koud. Dit was soms -20 °C maar met die windfaktor daarby was die aanvoelbare temperatuur -35 °C. Dit bring ’n nuwe uitdaging: jy moet so hardloop dat jy nie te veel sweet nie, want dan vries jou sweet en raak dit regtig erg koud.

Hoe belangrik is balans?

Baie! Jy moet jou lyf respekteer – jy kan jouself te veel druk en dan brand jy uit. Ek het in 2015 groot geskrik toe ek klierkoors opgedoen het, basies van te veel kompetisies en te hard oefen. Ek moes belangrike wedlope kanselleer om behoorlik te kon herstel, maar ek doen dit eerder as om oor drie jaar met verlangende oë na my hardloopskoene te kyk. Ek wil op sewentig nog kan hardloop.

Hoe baie hardloop jy tans?

Die sport het internasionaal baie uitgebrei en daar is nou ’n wêreldkampioenskapreeks vir topatlete wat uit altesame tien wedlope bestaan, maar net jou drie beste tye tel. So, ek doen genoeg om vir die reeks te kwalifiseer, maar kies die wedlope sorgvuldig. Die vryheid wat die sport my gee en my liefde vir hardloop is belangriker as my ego of die kompetisiefaktor.

“Ek wil op sewentig nog kan hardloop”

Hoe berei jy vir ’n groot wedloop voor? Eet jy spesiale kos?

Ek probeer die omstandighede naboots. Ek sal byvoorbeeld met ’n rugsak oefen, die soort kos eet wat ek in ’n wedloop sal eet en by dieselfde hoogte bo seespieël of dieselfde soort terrein probeer oefen. Ek hardloop so tussen 14 en 28 uur per week, en doen ook cross-training en kragoefeninge. Ek is nie superstreng op my dieet nie, maar verkies onverwerkte kos. Aan die ander kant is ek verslaaf aan sjokolade en dol op roomys en koffie! Maar ek glo in balans. Ek drink so twee of drie keer per week ’n glas goeie rooiwyn maar natuurlik nie terwyl ek vir ’n wedloop voorberei nie.

“Ek is verslaaf aan sjokolade en dol op roomys en koffie!”

Wat is jou volgende groot uitdaging?

Die Ultra-Trail du Mont-Blanc, ’n bergmarathon oor 170 km in die Franse Alpe, in Augustus. Die roete klim met 9 600 m, en die afsnytyd is 46 uur 30 minute. Die rekord is 21 uur 20 minute.

Ek sal ook graag meer free running wil doen saam met Ryno Griesel. Ons het in 2014 ’n rekord opgestel in die Drakensberg Grand Traverse-wedloop oor 209 km. Ons wil nog graag die Rwenzori-berge in Uganda hardloop. En daar is ’n 100 myl-wedloop (160 km) op Reunion wat ek nog graag wil hardloop.

Wie inspireer jou?

My oorlede oupa Nic was ’n groot inspirasie. Hy het so ’n wonderlike, sorgvrye geaardheid gehad. En Nelson Mandela laat my trots voel om ’n Suid-Afrikaner te wees, ondanks al die probleme. Ek het al op al sewe vastelande gehardloop, en daar is nie nog ’n Kaapstad nie. Ek sal nie sommer hier wil weggaan nie.

Wat het hardloop jou geleer?

Baie meer as universiteit en skool! Ek weet nou dat jy in ’n groot mate jou eie lot bepaal deur die keuses wat jy maak. Moenie vasgevang raak in iets wat jy nie geniet nie. Kry jou passie, en leef dit. Stel doelwitte en kry ’n plan om daarby uit te kom. Ek breek ’n 100 myl-wedloop af in klein doelwitte, soos om by die volgende waterpunt uit te kom.

“Moenie vasgevang raak in iets wat jy nie geniet nie. Kry jou passie, en leef dit. Stel doelwitte en kry ’n plan om daarby uit te kom”

Ek het ook besef ons mensdom is so besig om besittings bymekaar te maak dat ons vergeet het om die lewe en die aarde te geniet, dit te respekteer. Ons is besig om ons konneksie met mekaar, met die aarde en met onsself te verloor.

Die man agter die wedlope

Ryan en sy aktrise-vrou Vanessa Haywood (hooffoto) het mekaar in 2010 ontmoet en is in 2014 getroud. Hul eersteling is in Septermber 2016 gebore (sien Instagram-foto onder). Sy gunstelingmanier van ontspan is om tyd te verwyl saam met Vanessa en hul hond, Thandi.

“Ek lê graag op die rusbank en kyk sport op televisie, maar ek kan nie vir te lank stilsit nie. Dan gaan ons strand toe, gaan stap in die berge, of gaan ry fiets.”

Thandi, wat hy ook T-dog noem en wat hulle by die DBV aangeneem het, gaan oral moontlik saam met hulle. “Ek hou ook van ’n lekker braai saam met vriende, maar niks van winkelsentrums nie. Daar bly ek weg tensy ek iets nodig het.”

Vanessa, ’n bekende model, is ook baie sportief, en het al onder meer die moordende Cape Epic-fietsren voltooi. Ryan dink dis een van die redes hoekom hulle so goed kliek.

“Sy verstaan presies watter opofferings ek soms vir my sport moet maak, en is baie ondersteunend en ’n versorger. Ons deel dieselfde waardes, en het dieselfde doelwitte. Tog is ons ook baie verskillend. Sy is meer sosiaal en uitgaande as ek.”

Saam met Thandi:

Gaan hul seuntjie in sy sportiewe ouers se voetspore volg? “Ek sal hom aan my wêreld blootstel, maar hom los om sy eie keuses te maak en hom ondersteun – ook al val sy passie buite die norm.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.