Deur ELNA ROSSOUW
Hooffoto deur Sanette Wessels, Photo Nette Photography.
Foto uit Diepe waters: Verskaf
Ek het Sandi Schultz as dokter Jennifer Adams in die sepie Binnelanders leer ken. Daarna het ek haar toe weer in Trackers, die aksiereeks wat op ’n spanningsverhaal van Deon Meyer gegrond is, gesien. Toe kom Diepe waters, die kykNET- telenovelle wat kykers weeksaande voor die kassie vasgenael hou.
Sandi lyk nie meer soos die Sandi wat ek destyds op haar hospitaalrondtes deur die Binneland-kliniek gevolg het nie. Dis amper of sy in Diepe waters té jufferagtig, té veel van ’ n feeks, té kwaai onder die gladgekamde pruik is. Maar kykers kan nie genoeg kry van die feeks se sluwe spel wat lewens deurmekaar krap nie.

(Foto: Verskaf)
Toe ek Sandi op ’n sonnige winterdag in ’n beskeie buurtrestaurant in Westdene, Johannesburg, met haar oranjerooi prinseskrulle, skildpadraambril en ’n hekelpen in die hand sien, is ek omgeslaan.
Ek is ’n paar minute laat. Sandi is min gepla. Sy sit op ’n roomkleurige gestoffeerde bank in die binnehof van haar gunstelingrestaurant Emzini (’ n Zoeloewoord wat losweg vertaal na “in die stad”) besig om die moue van ’n jas wat sy met tipiese granny squares hekel, klaar te maak. Sy wys vir my die foto van die halfklaar jas op haar selfoon. “Dis ’n projek wat nou al meer as ’n jaar duur. Dit móét nou klaar, ek wil dit volgende week op TikTok deel.”
Nooit het ek gedink Sandi hekel nie. Of dat sy video’s oor alles en nog wat op TikTok sal deel nie. Ook nie dat sy met soveel trefkrag die rol van ’n opperste feeks vertolk nie. Sy glimlag: “Ja, dit was nogal moeilik om vir die eerste keer die rol van die antagonis te speel. Ek het diep gedelf om Zelda se karakter te ontgin. Dit was vir my ’n besonderse uitdaging om haar geloofwaardig te maak. Sy is ’n vrou wat diep seergekry het en nooit geleer het om dit te verwerk nie. Al wat ek kan sê is … in elke leuen wat sy vertel, is daar ’n greintjie waarheid. Ek gee rêrig om vir Zelda en dit is heerlik om dié genuanseerde rol te vertolk.”
Ons skuif binnetoe en oor ’ n bord brokkelrige pampoensop − met ’n Savannah voor haar − nooi Sandi my haar lewe in. ’n Afspraak wat aanvanklik anderhalfuur sou duur, word die oopmaak van haar hart. Vir my is dit ’n meestersklas in lééf: Hoe om trauma agter te laat; sieleheil te vind; elke dag nuwe dinge te leer; en met deernis en sagte oë na die mense rondom jou te kyk.
Sandi het in Februarie 2024, 60 jaar oud geword. Sy lyk jare jonger. Haar vel is seepglad, wangbene hoog, oë sjokoladebruin en lippe smeulrooi geverf. Oor haar interessante – effens boheemse klerestyl − lag sy en sê: “Ek doen nie boring nie. Ek het juis my haarkapper verlede week laat terugkom om nog meer helderrooi strepe in my hare te sit. Ek trek uit winkels met tweedehandse klere aan. Ek hou daarvan om goed wildweg bymekaar te sit; om met kleure en style te eksperimenteer. My huis lyk ook soos ’ n kunstenaarshuis. In wese is ek ’n crafter − daar is hopeloos te veel wol, lap en verf in my huis. Amper te veel vir die een mens wat daarin bly!”
Dis hier vanuit haar huis … dan in die kombuis, dan voor haar spieëltafel of hangkas, waarvandaan Sandi die kamera (en die lewe) vierkantig in die oë kyk en video’s oor alles en nog wat vir sosiale media maak. “Televisievervaardigers verwag vandag dat akteurs ’n teenwoordigheid op sosiale media moet hê. Ek het met TikTok begin eksperimenteer en ek geniet myself gate uit. Ek leer so baie van dinge waarvan ek niks geweet het nie. Dit is ook vir my lekker om random, en sommer alledaagse, goed in my lewe te deel. Ek is immers ’n ‘Burner’ (sy verwys na die Burning Man- en Africa Burn- feeste): ’n Mens vat nie net nie, jy géé ook.”
Op TikTok is @sandschuz ’n mengelmoes van idees en planne … wat sy vandag aantrek; die knip van ’n stuk lap wat stylvol om haar vou (sy het lank haar eie klerereeks gehad); haar ma se moetie vir dae wanneer jy siek en oes voel; die spoel van jou mond met klapperolie vir goeie tandgesondheid; en hoe sy net gister amper ge-scam is toe sy ’ n Apple-skootrekenaar wou koop. “Ek kan nie glo ek het nie in die slaggat getrap nie! Ek het darem ook geleer hoe om ’n Rebusblokraai in te vul.”
Sandi bly al sedert 2008 in haar huis in Westdene. Dit is haar hartsplek wat sy met haar lewensmaat, Laszlo Bene, gedeel het. Laszlo het een oggend in 2020 gaan fietsry en het nooit weer teruggekom nie. “Hy het in die strate van Parktown ’n hartaanval op sy fiets gehad. Dit was ’n ontsettende skok. Ek kon hom nie groet nie. Sy dood was en is ná vier jaar steeds onwerklik.” Sy raak stil, ’n mistigheid skuif oor haar oë en sy blaai weer na die foto’s op haar selfoon. “Ek het sy as huistoe gebring en ’n spekboompie in ’n pot geplant. Vandag staan die spekboom bo my kop.” Op die foto wat sy wys, troon die spekboom bo die stoeptrappe van die houtdek uit, en haar hond, Harley (’n kruis tussen ’n boerboel en bokser) hou wag.
Ná Laszlo se dood het Sandi ernstig begin tuinmaak. “Om aktief te wees, het my met my rouproses gehelp. Maar ek mis hom ontsettend baie. Hy was die life and soul van enige partytjie. Hy het mense om hom nodig gehad om hom energie te gee. Ek − wat eintlik ’n introvert is − kon net in sy slipstream bly.”
Laszlo, ’n Hongaarse regisseur van Hollywood, het Sandi uit Amerika na Suid-Afrika gevolg toe sy in 2005 vir haar broer se troue Suid-Afrika toe gekom het, vir ’n oudisie vir Binnelanders genooi is, dadelik die rol van dokter Jennifer Adams gekry het, en besluit het om te bly.
“Ek was nog nooit spyt oor die besluit om te bly nie. Ek dink nie ek sou ooit, ten spyte van alles wat in die land gebeur het, Los Angeles toe gegaan het as dit nie was dat ek op 28 in my huis in Yeoville deur ’n inbreker verkrag is nie. Die verkragting het ook die tydperk toe ek as kind van vier tot 16 deur my stiefpa gemolesteer is, oopgeruk. Iets waaroor ek nooit kon praat nie. Ek het letterlik gevoel asof ek teen ’n berg vasgevlieg het. Toe my kêrel (John Savage, die Amerikaanse akteur wat onder meer vir sy rol in The Deer Hunter bekend is) voorstel ons moet terug Amerika toe, het ek alles net so gelos en op ’n vliegtuig geklim.”
Sandi en John is in Amerika getroud en sy het begin om die stukke van haar lewe op te tel. “Ek het my trauma verwerk deur te verf en te skryf (ek het altyd gedink ek wou ’ n joernalis word, maar ons het nie geld gehad nie en ek is met ’ n onderwysbeurs na Amerika toe). Hier en daar het ek ’n rolletjie gekry – die grootste was sekerlik in NYPD Blue – maar dit was tough om enigsins raakgesien te word. Daar is honderde akteurs wat met jou meeding. Oor ’ n tydperk van 12 jaar het my huwelik verbrokkel, en toe ek die rol in Binnelanders kry, het ek geweet ek kom nie net terug om in ’ n sepie te speel nie, maar to break the silence around rape. Ek het ook gekies om nie as ’ n ‘survivor’ deur die lewe te gaan nie. Daar is te veel vroue wat glo dit is hul skuld dat hulle verkrag is. En dit is nóóit jou skuld nie.
“Vandat ek terug is, het ek geleer om sonder haat te lewe. Omdat ek menslik is, faal ek dikwels, maar my grootste begeerte is om menslik en vriendelik te wees. Dis hoe ek sal hoop mense sal my onthou.”

(Foto: Nette Photography)
Sandi is in Johannesburg gebore, maar het die meeste van haar skoolloopbaan in die Kaap (“ek was drie jaar op Franschhoek in die laerskool toe ek by my ouma gewoon het”) voltooi. In Amerika het sy onderwys en drama geswot (ná ’n vriend haar omgepraat het om ’ n oudisie te doen).
Haar eerste werk was as aanbieder van Kideo op SABC. Vandag is daar ’ n lang lys van teaterstukke, rolprente en TV-reekse agter Sandi se naam. Sy is gesog in die bedryf oor haar standvastigheid. “Ek beskou myself as ’ n harde werker; ek berei behoorlik voor en leer my woorde – ek dink dit is my sterkste eienskap. Ek verdwyn nie vir dae van ’ n stel af nie of daag bedwelmd op nie. Ek is ontsettend lief vir my werk en sal alles doen om dit te koester, en om so lank as moontlik aan te hou toneel speel.”
Daar is nog so baie wat ek vir Sandi wil vra, maar sy het ’ n afspraak om haar hare in toutjies te laat vleg sodat haar kop makliker onder Zelda se pruik pas.
Met die uitstap praat ons vinnig oor Saterdae se Parkrun in Albertsville waarvan sy reeds 100 voltooi het. “Dis nie moeilik nie, jy moet net aanhou … een voet voor die ander sit, maak nie saak hoe lank dit jou vat nie,” vertel sy. Sy het ook die kuns van hoelahoep bemeester. “Jy moet onthou ek is ook ’n vuurdanser!”
Terug by die huis, met die bandopnemer lankal afgeskakel, klink Sandi se melodieuse stem nog in my ore. Sy het nie net oorlééf nie, sy lééf elke dag voluit.
Hierdie artikel het oorspronklik in ons Oktober-uitgawe van 2024 verskyn.
Lees ook: Albert Pretorius vertel meer oor sy ikoniese rol in Afrikaanse herverbeelding van The Office
