kategorieë: Reis

Sensuele Suid-Amerika, byderwetse Dubai

Hier is ’n klompie ekstra ervarings, wenke en foto’s as byvoeging by "Die verrassingselement", ons reisartikel in die Julie 2014-uitgawe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Algemeen
*Laai jou selfoon by die instaphekke op internasionale lughawens – kyk uit vir pilaartjies met kragpunte.
*Die hotelgradering in Suid-Amerika verskil van ons s’n. ‘n Vyfsterhotel in Buenos Aires lê tussen ‘n driester- en viersterhotel hier by ons. Dis egter heelwat duurder.
*Ons Suid-Afrikaanse tweepuntproppe het in al die Suid-Amerikaanse vier- en vyfsterhotelle waar ons gebly het, asook in Doebai, gewerk. Oral was daar haardroërs. Dis egter ‘n goeie plan om ‘n metaalbeker, ‘n elektriese element (immersion heater) en koffie- en teegoed saam te neem. Hotelle het nie noodwendig koffiestasies in die kamer soos by ons nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Buenos Aires, Argentinië
*Dis verstandig om voor jou toer ‘n paar uitdrukkings in Spaans aan te leer. Waar ons was het die hotelpersoneel vlot Engels gepraat, maar op straat moes ons ons dikwels tot gebaretaal wend. Die mense is gelukkig hulpvaardig!
*Neem ‘n goed toegeruste medisynekassie saam – die taalprobleem kan hulp met mediese toestande bemoeilik.
*Die moderne NH 9th JULY HOTEL is uitstekend geleë. Die stylvolle kamers het aparte badkamers en toilette en die ontbyt is rojaal. Besonderse ekstras is ‘n groot verskeidenheid soet pasteitjies, koekies en koeksoorte, vars vrugtesappe, en koffie met kaneel. Moenie die swembad op die dak van die hotel misloop nie. Die uitsig is uniek.
*Ons hotel kon nie Amerikaanse dollars vir die plaaslike peso’s omruil nie, maar het gesê as ons iets uit ons kamer-yskassies in dollars koop sou hulle vir ons kleingeld in peso’s gee.
*Mineraalwater is duur – soek na die klein kruidenierswinkeltjies wat meestal deur Chinese bedryf word en koop groot bottels water.
*Die Recoleta-begraafplaas is heeltemal anders as enigiets wat ek al in Suid-Afrika raakgeloop het. Gesiene families het praalgrafte laat bou – dikwels geboutjies met die mooiste beeldhouwerk waarin geslagte se afgestorwenes ‘n laaste tuiste vind. In sommige gevalle het die families weggetrek of uitgesterf, en word die mausoleums nie meer onderhou nie. Eva Perón se oorskot het na vele omswerwinge ook hier tot rus gekom.
*Café Tortoni is die oudste koffiewinkel in Buenos Aires en loop oor van atmosfeer. Dit was die bymekaarkomplek van talle bekendes. Gaan verwonder jou aan die interessanthede en bederf terselfdertyd jou tong.
*As jy die Teatro Colón wil besigtig, kan jy by die operahuis self ‘n kaartjie vir ‘n Engelstalige toer koop.
*Onthou jou hoed, sonbril, sonbrandmiddel en muskietweermiddel as jy ‘n plaas besoek. By die Estancia de Candelabria (www.estanciacandeleria.com) sluit jou daguitstappie die heerlikste vleispasteitjies of empananas en ‘n tipies Argentynse braai in, tradisionele musiek, danse en ’n perdevertoning waaraan jy kan deelneem as jy ‘n goeie ruiter is, ‘n begeleide toer van die kasteel, en perde- of perdekarritte. Jy kan ook ‘n fiets beetkry en onder hoë bome deurry soos in ‘n romantiese chick flick, swem, die rustieke winkeltjie deursnuffel of gewoon rondlê. Moenie die kapel met sy lieflike blou loodglasvenster misloop nie.
*As die musiek van die gaucho’s jou aanstaan, kan jy by ‘n CD-winkel na ‘n tipiese CD gaan soek.
*‘n Gaucho of cowboy word gekenmerk deur sy dieet van vleis en yerba mate of kruietee. (Laasgenoemde is beslis ‘n aangeleerde smaak). Elkeen drink sy tee uit ‘n kenmerkende beker met ‘n bombilla-strooitjie wat lyk of dit iets met ‘n lepel gemeen het. Die bekers word van pewter, klei of ander materiaal gemaak en is oral te koop. Daar is ‘n ritueel verbonde aan die drink van die tee. Op uitstappies het ons gesinne teëgekom wat ‘n beker vir mekaar aangegee het en skynbaar moet jy jou protokol ken.
*In Buenos Aires moet jy lig loop vir tango-koors. In die vroeë jare van die stad het die dans in die bordele ontstaan toe wagtende mans dit met mekaar gedans het. Later het die dans ontwikkel om vroue in te sluit. Spandeer gerus geld aan ‘n tradisionele tango-aand – ons was by die Milonga en die atmosfeer, diens en vriendelikheid, vertoning deur tango-dansers asook ander tradisionele danse, kos (veral die vleis!) en wyn (die Malbec in die besonder) was voortreflik.
*Betogings en optogte is aan die orde van die dag. Bly net op ‘n veilige afstand.
*Hoewel ons nooit onveilig gevoel het nie, is dit beter om geen kosbare juwele te dra nie. Toe ons in die hotelportaal gewag het vir die bussie om ons lughawe toe te neem, het ‘n dief sowaar deur die swaaideur ingekom en een van ons groep se handbagasie gegryp. Hy het hom egter met die onverskrokke Noordwes-onderwyser misreken, wat hom oor agt lane van ‘n besige straat agterna gesit het. Gelukkig het die skurk die handtas laat val.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Iguassu Falls, Brasilië
*Die Iguassu-valle is onlangs as een van die sewe nuwe natuurwonders van die wêreld aangewys.
*As jy die fliek “The mission” gesien het, het jy ‘n fraksie van die valle ervaar.
*Dis maklik om met die bus te ry, vra net by die hotel watter nommer jy moet neem. Jy betaal by die buskondukteur op die bus. Gebaretaal met ‘n glimlag bring jou ver!
*Behalwe vir ‘n daglange besoek aan die valle, is daar ander ekskursies waarvoor ons nie tyd gehad het nie. Oorweeg ‘n besoek aan die Itaipu-dam en inligtingsentrum. Sien ook www.new7wonders.com
*Vir jou besoek aan die valle: dra skoene met growwe loopvlakke en ‘n plastiekponcho as jy wil (jy kan daar een koop teen ongeveer R50) – sonbrandmiddel, hoed en sonbril, of word deurnat en geniet! Beskerm jou kamera met ‘n plastieksakkie teen die sproei.

Rio de Janeiro, Brasilië
*Rio is duur en met die wêreldsokkerbeker kan pryse skynbaar vervierdubbel. Koop brood, vleis, kaas en ‘n bottel wyn in ‘n kruidenierswinkel.
*Ons verblyf in die Porto Bay-hotel was luuks en gerieflik. Ons kamer het op die 4m-lange Copacabana-strand uitgekyk en van ons balkon kon ons die Cristo Redemptor sien. Manjifiek. Die hulpvaardige personeel praat uitstekend Engels en die hotel se sterk man (die meeste hotelle het ‘n ‘uitsmyter’) het saamgestap na ‘n kitsbank as ons gevra het. Ook maar goed – ná ‘n lang soektog na ‘n kitsbank het ons agtergekom die ingang is ‘n glasdeur: jy druk ‘n knoppie om in te gaan.
*Besoek die hotel se swembad op die boonste vlak wanneer dit donker word en ervaar die towerwêreld van “Rio by night”. Verluister jou aan die jazz en kontemporêre musiek uit die kroeg.
*Die Copacabana-strand nooi jou om te kom swem of ‘n drankie by een van die buitelugkafeetjies te geniet. Kies die nasionale Brasiliaanse drankie, die caipirinha, of bestel ‘n groen kokosneut en geniet die melk (heelwat goedkoper).
*Ons het die karnavalvertoning met ‘n tradisionele ete by ‘n plaaslike churrascaria gekombineer. Die ete was uit die boonste rakke – van die indrukwekkende verskeidenheid voorgeregte tot die vleisborde wat een na die ander by die tafel verbykom – maar die drank (nie ingesluit nie) was baie duur. Ons het ongeveer R1200 vir 2 bottels wyn, mineraalwater vir die tafel en een of twee koeldranke betaal.
*Jou uitstappie na die Cristo Redemptor-standbeeld: met die bus is dit vinniger en goedkoper, maar dis avontuurliker per jeep!
*Vir ‘n weergalose uitsig oor die stad is die dubbel-kabelkarrit na die boonste punt van die Sugarloaf-berg (dit lyk glo soos die melasse wat vroeër in skeepsruime vervoer is) ‘n moet.
*Kry meer inligting oor Sondae se hippiemark by www.rio.com/practical-rio/hippie-fair
*Verken die ou stadsdeel van Rio, met onder meer die Operahuis, te voet. Vra die hotel conscierge watter bus en/of moltrein jy moet neem.

Doebai

*Doebai is warm maar oral is daar lugreëling, tot in die bushuisies. Die vogtigheidsvlak kan ongemaklik wees.
*Hoewel Arabies die amptelike taal is, word Engels oral gepraat en is die pad- en ander aanwysings ook in Engels.
*Die verkope en gebruik van alkohol word gereguleer. Jy kan ‘n drankie by hotelle nuttig, en bottels drank is by die lughawe te koop.
*Die Doebai Museum is ‘n moet – dit het onder meer lewensgrootte uitstallings van die Bedoeïne se leefwyse.
*Ons het die bekende fontein-vertoning by die Doebai Mall gemis – kyk by http://www.thedubaimall.com of jy die video kan sien.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Foto’s Mariette Snyman

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.