kategorieë: Bekendes

Shaleen Surtie-Richards

Shaleen Surtie-Richards is nou heeltemal alleen nadat haar ma onlangs oorlede is. Maar sy loop die enigste pad wat sy ken: werk en nogmaals werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Shaleen werk so hard dat sy nog nie regtig tyd gehad het om te rou oor haar ma wat onverwags oorlede is nie. Maar sy is moeg. Té lank té hard gewerk. Kringe onder haar oë. Stem hees. Eers Villa Rosa, toe die KKNK en daarna Kaapstad toe om seremoniemeester te wees by die jaarlikse Comedy Festival. Dié week moet sy al weer by Villa Rosa inval.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Maar gou skemer die warm geaardheid deur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die optimisme, die lag uit die maag en uit die hart. Sommer gou is daar ook kwinkslae, so natuurlik kom dit vir haar soos asemhaal.

Haar ma, Ellen, met wie sy ’n besonder hegte verhouding gehad het, was nie siek nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Op 82 net lewensmoeg. Sy het net gewag totdat ek ’n week terug was uit die Kaap, toe’s sy oorlede.”

Sy het net haar ma se kamer laat skoonmaak en die deur toegetrek. Alles is nog net soos toe sy geleef het. Sy het nog nie kans gesien om haar ma se goed uit te soek nie.

Sy sê dat sy nou nie eens meer lus is om huis toe te gaan nie, want daar is niemand wat vir haar by die huis wag nie, buiten die huishulp en haar twee hondjies, Pokkels en Tatiana.

Shaleen het haar gunstelingkleur, rooi, aan toe sy vir die rooi rose-fotosessie opdaag. Rooi top, “my slettop”, skerts sy omdat die halslyn haar skouer ontbloot, by donker jeans.

“Kan jy glo ek kan in dié klein jeans pas?” sê-vra sy in haar skik. “Dis ’n nommer 36, ek het binne ’n jaar van ’n 42 na ’n 36 afgekom.”

Sy het ’n allemintige 20 kg afgeskud, meestal met die hulp van ’n pil wat die eetlus demp.

“Maar nou,” sê sy, “lê die moeilike deel voor, die maintenance.” Sy was al voorheen op dieet en weet waarvan sy praat.

Sy het ook ’n sak met drie verskillende uitrustings vir die fotosessie: wit, rooi en geel – almal in dieselfde styl. Elke rok het twee lang stroke wat oor die skouers gedrapeer word en daarna om die middel vasgemaak word. Die deel oor die skouers word dan oor die boarms getrek.

“Op my ouderdom kan jy nie meer jou boarms wys nie.”

As sy voel dat ’n styl haar pas, koop sy dikwels klere van verskillende kleure in dieselfde styl.

“Smokey eyes,” beduie sy vir die grimeerkunstenaar, en ja, dis duidelik dat smokey eyes haar pas, want sy lyk sexy en smeulend toe die oë gedoen en die kunswimpers aangeplak is. Geen teken meer van moegheid nie.

Haar hare donker, lank en reguit met rooi strepe in “is extensions wat by my eie hare ingevleg is. Ek het nooit meer ’n bad hair day nie”.

“Regte hare?” vra die grimeermeisie.

“Nee, o jitte,” sê Shaleen. “Ek sal my mos morsdood gril om iemand anders se regte hare op my kop te hê. Ai, nee, sies. Ek het dié hare vir my dadelik ná Egoli gekry. Want by Egoli moes my hare vir jarre dieselle lyk. Darem nie die oorspronklike extensions gehou nie. Kry elke, twee, drie maande nuwes.”

Sy is ’n diabeet wat haar elke dag moet inspuit en sy glo aan gesond eet, maar sy gaan nie nee sê vir ’n lekker stuk koek nie, en sjokolade is haar dood.

“As ek nou ’n slab sjokolade koop, sal ek als gelyk opeet, maar ek eet darem nie elke dag sjokolade nie.”

Hoewel sy ’n paar jaar gelede ’n beroerte gehad het en die dokters haar gewaarsku het om op te hou rook, kon sy dit nog nie regkry nie.

“Dis my enigste vice,” sê sy. “Ek het al lankal opgehou drink.”

En hoeveel rook sy per dag?

“Nee, moenie my dit vra nie, ek tel nie.”

Wat sy wel tel, is die hoeveelheid toekennings wat sy al gekry het.

“Agt en veertig,” sê sy trots. “Dis darem nie alles vir toneelspel nie.”

Sy tel ook ander huldeblyke, soos die pienk roos wat na haar vernoem is. Sy het ook onlangs ’n Royalty-sepie-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot die sepiebedryf gekry. En dan is ’n spesiale toe-kenning van die KKNK, wat vanjaar sy twintigjarige bestaan vier, ook aan haar oorhandig.

“My toekennings word in my sitkamer uitgestal. Dit staan die hele sitkamer vol. Ja, ek is baie trots daarop. Maar in die bedryf is jy maar net so goed soos jou laaste performance. En ek neem niks for granted nie. Ek stel myself nou nog aan mense voor. Fame sit nie kos op jou tafel nie.”

Sy spring met groot gemak van onderwerp na onderwerp. Is terug by haar ma.

Daar is trane in haar oë as sy aan haar ma dink en die huis aan die Wes-Rand wat sy ná haar pa se dood vir haar en haar ma gekoop het.

“My ma het nie baie van die woonstel in Rosebank gehou nie. Ons is plattelanders. Ons wil ’n grondjie hê.” Buitendien het haar ma baie van tuinmaak gehou.

Shaleen het op Upington grootgeword waar haar pa, Shagan, ’n skoolhoof was en haar ma ’n onderwyseres.

“My ma was ’n lady,” sê Shaleen. Sy lag: “Ek weet nie waar ek vandaan kom nie.”

Maar die belangrikste wat sy by haar ma geleer het, is haar geloof in God. “Om na aan die Here te leef.”

Haar ma het vir haar gesê dat sy vir die Here beloof het as Hy haar ’n kind gee, sy die kind vir die Here sal grootmaak. Toe sy so 13 was, sê Shaleen laggend, het haar ma so ’n bietjie gewonder of sy nie dalk ’n verbond met die duiwel aangegaan het nie.

“Jy weet hoe’s tieners. Maar ek is bly oor die tyd waarin ek grootgeword het. As kind het jy gemaak soos jou ouers, die kerk en die onderwysers sê. Toe ek groot is en besef daar is keuses, was ek in elk geval so gewoond om goed op ’n bepaalde manier te doen dat ek nie verander het nie. Ek is old school. Honoured to be born in that time.

“Ek is 58, maar vir my is dit net ’n getal. Soms voel ek vyftig, soms honderd, soms 25. Ek het ’n young spirit. Jongmense hou van my. Ek is altyd omring deur jongmense. Maar ek wil nooit mutton dressed as lamb wees nie. Ek wil nie een van daardie ouer vroue wees wat hul cleavage vol plooie wys nie.”

Shaleen se hand met die sigaret laat die klomp goue armbande aan haar arm klingel. Sy het ook ’n goue horlosie en ’n goue ketting om haar nek waaraan haar ma en haar pa se trouringe is. Dit het besondere sentimentele waarde en laat haar na aan haar oorlede ouers voel.

“Ek haal die ketting nooit af nie, buiten as ek optree. Ek dra altyd al my mooi goed, want daar was ’n inbraak in my Rosebank-flat en ’n hele klomp goue armbande is gesteel. Ek het eers 24 gehad.”

Sy is net baie bly dat sy vir haar ma blomme gekoop het toe sy nog geleef het.

“Wat vir my vreeslik is, is dat ek so baie van die huis af weg moes wees, maar dis werk en ek is bly dat my ma nooit iets gekort het nie.”

Sy is ook bly dat sy verlede Kersfees net vir Kersdag van Kaapstad af huis toe gevlieg het om Kersfees saam met haar ma deur te bring. Al die kos, deur ’n jare lange vriend voorberei, is ook saamgevlieg.

Haar ma, vertel Shaleen, het baie opvoedings- en opheffingswerk in die gemeenskap op Upington gedoen. Tannie Sakkie, soos sy bekend gestaan het, het nie saam met vriendinne tee gedrink en praatjies gemaak nie.

Sy het skoolgehou en saans ook gewerk, ’n aandskool vir volwassenes gehad. Haar ma het gesê as sy die ou tannies net kan leer om hul name te skryf sodat hulle vir hul pensioengeld kan teken, het sy al iets bereik. Haar ma het ook volkspele by die skool gereël en Shaleen het met grimering gehelp.

“Ons huis was vol warmte en liefde. Ek sê dankie vir my ouers en die Here dat ek nie struggle of armoede geken het nie.”

Haar ouers het haar bederf, maar ook geleer om te deel. Om respek vir mekaar en vir ander te hê. “Daar was geen sad storie in my opvoeding en grootwordjare nie.”

Sy dink weer hoe om haar ma te skilder, die prentjie te voltooi. “My ma was ’n uitkykantie, ’n onderwyseres wat daar vir die kinders gewees het. Ek het by die KKNK so ’n onderwyseres gespeel in Rachelle Greeff se toneelstuk Rondomskrik. (Die stuk is losweg op die Anene Booysen-storie gegrond.)

“Die stuk sny diep, sê sy. “Ek was die onderwyseres wat weet wat in die gemeenskap aangaan. Armoede en ellende vra nie vir kleur nie. Dit kan enigeen tref.”

Hoe Shaleen op die amateurverhoog beland het, is ’n storie op sy eie. Die destydse Departement van Kleurlingsake wou ’n dramagroep op Upington begin waarin hulle veral jongmense wou oplei.

“My ma het my gesoebat om te gaan, want ek wou nie, het nie lus gehad nie, maar het uiteindelik ingestem, net om haar te please.”

Daarna was daar baie jare op die amateurverhoog terwyl sy onderwyseres was. Sy het eers in die tagtigerjare ’n professionele akteur geword.

Haar ouers wou haar allerhande voorregte laat geniet.

So wou sy ballet neem, maar “die witmense het geweier dat hul kinders saam met ’n hotnotjie dans”. Haar pa het toe ’n ballet-onderwyseres uit die Kaap gekry om haar in hul voorkamer te laat ballet neem.

Die ironie is dat die Upingtonse Voortrekkers haar met die première van Fiela se Kind gesalueer het. Sy is ook gevra om by die inryteater op Upington te wees toe die rolprent daar vertoon is. Ja, het sy gesê, sy sal kom, mits die muur afgebreek word wat tussen die witmense se karre en die bruin mense se karre opgerig is. Dit is toe gedoen.

Maar sy het nie meer bande met Upington en sy mense nie. Sy bly in Johannesburg omdat die werk daar is, maar haar hart trek Kaap toe. Sy is lief vir die Kaap.

Het sy nog enige ideale, toekomsplanne vir haar werk?

Sy skud haar kop. “As jy vryskut is, sien jy maar waarheen die wind jou vat.”

Daar loop stories van ’n nuwe liefde in Shaleen se lewe, ’n man wat sy ná haar ma se begrafnis ontmoet het.

Ja, gee sy toe. Daar is ’n nuwe man in haar lewe, maar sy wil nie oor hom praat nie, want sy wil hom nie aan publisiteit blootstel nie. Hy ken nie die bedryf nie. Toe sy hom ontmoet, het hy nie eens geweet wie sy is nie. Haar naam het vir hom niks beteken nie. En sy weet in elk geval nie waarheen die verhouding gaan lei nie, maar beslis nie na die kansel nie, sê sy, want sy wil nie weer trou nie.

Waaroor sy eerder nog wil praat, is haar ouers. “Weet jy ek het eers nou die dag gekliek dat ek nou ’n weeskind is. Dat my ma, my rots, vir altyd weg is. Mamma was maar altyd daar vir my.

“Maar as ek werk, is ek verskriklik gedissiplineerd. Ek sny my van alles af, onderdruk my emosies en fokus net op die werk, op wat gedoen moet word.”

Dit was nie net haar ma wat ’n groot invloed in haar lewe was nie. Haar pa was eweneens belangrik in haar vormingsjare.

“Alles wat ek vandag is, is ek net deur hulle support. My pa het leuens verafsku. Ek het baie pak gekry. Hy het gesê eerder jou trane vandag as my trane môre. Jy kan nie jou ouers met geld vergoed nie, wel deur hulle trots te maak op jou.”

En dis presies wat Shaleen gedoen het. Albei haar ouers was geweldig trots op hul enigste dogter wat soveel sukses behaal het.

Enkele hoogtepunte

• 1974-1981 Speel in verskeie amateurtoneelstukke terwyl sy kindertuinonderwyseres is.
• 1982-1984 Bedrywig by die destydse onderwysdeparte-ment se Teater-in-Opvoeding.
• 1984 Die begin van haar professionele loopbaan as akteur.
• 1985 Shaleen wen ’n Fleur du Cap vir Hello and Goodbye.
• 1988 Sy speel Fiela Komoetie in Daleen Matthee se Fiela se Kind. (Speel ook in heelwat ander rolprente.)
• 2006-2010 Beoordelaar by die TV se Supersterre.
• 2008 Kanna-toekenning vir Shirley Valentine. Tot 2010 is die stuk 250 keer opgevoer.
• Op die verhoog gesien in al die groot stede in Suid-Afrika, sowel as in Londen. Sy het ook al aan die Grahamstadse en Edinburgse feeste deelgeneem.
• As sepiester speel sy vanaf 1992 in sepies soos Egoli, Generations, 7de Laan en Villa Rosa.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose
Tags: bekendes

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.