kategorieë: Leef gesondGesondheid

Sigarette: Druk nóú dood

Sigarette: Druk nóú dood deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Rokers het almal een ding gemeen: hulle wil ophou. Een of ander tyd. Op die regte oomblik – “voor ek trou”, “voor ek swanger word”, “die dag as ek dertig word” … maar net nie vandág nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dit ís moeilik. ’n Maksimum van twee uit elke vyf stakers hou ná ’n jaar nog vol. Tog kry hierdie twee dit reg om die nikotienstokkies vir altyd neer te sit. Hoekom slaag hulle, en die ander drie nie? Wat is hul geheim?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Keith Darroll van Smoke Busters wat sy bestaan daaruit maak om mense binne 180 minute permanent te laat ophou rook, dink die suksesvolles het toevallig op alfabreinkrag as rookstaak-tegniek afgekom. Dis dalk die beste opsie vir jou. Volgens Keith is dit die énigste.

Lees ook: Kan hipnose jou help om op te hou rook?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die goedvoel-faktor

Die brein sien volmaak na jou om: elke keuse bevoordeel jou op die een of ander wyse – die keuse wat jou brein voorstel, is dalk nie die beste manier om die beloning te kry waarna jy smag nie, maar dis in daardie stadium die vinnigste en maklikste manier. En solank jy iets daaruit kry, bly jou brein dit aanbeveel.

Dis in ’n neutedop hoe jou brein oor sigarette redeneer: dis ’n suksesvolle manier om vir jou die voordele te gee waaraan jy ’n baie sterk behoefte het. Daarom sien rokers in ’n sigaret nie kankers, of ’n slegte smaak in die mond, of ’n rookreuk in hul hare nie. Ook nie ’n finansiële gat in die sak nie. Nee, hulle sien beloning. ’n Yslike, héérlike beloning. Of twee, drie.

Dié beloning is meestal die dwingende emosies van aanvaarding, erkenning en groep-identifisering, sê Keith. “Toe die meeste rokers daardie eerste sigaret aangesteek het, het hulle aanvanklik daarna gesmag om goed te voel oor hulself, om erkenning te kry, aanvaar te word, of ’n avontuur aan te pak. Die sigaret het hulle toe daarmee beloon – en elke volgende sigaret beloon hulle wéér. Daarom bly hulle rook.

Lees ook: Die veiligste dwelms, wetenskaplik gelys

“Jy’s nie verslaaf aan die nikotien nie, maar aan die emosionele beloning wat jy uit elke sigaret haal. Emosionele beloning is ’n baie, baie kragtige interne motiveerder. Dit troon bo enige ander logiese nadeel uit. En dit klop élke keer enige ander vorm van motivering.”

Die gebrek aan emosionele beloning is juis die rede waarom rookstaakhulpmiddels en -programme; die beredeneerde betoë en/of gekerm van ouers, huweliksmaats en medici; en skrikwekkende gesondheidsgevare (soos sterfestyfers, die kankerstatistiek, die drie en veertig kankerwekkers in elke sigaret, die feit dat rokers armer is, meer dikwels impotent is, meer dikwels doof word as nie-rokers, en so meer, en so meer) op hul eie misluk. Hulle maak net op eksterne motivering staat en/of spreek net die nikotienverslawing aan, en emosionele beloning, wat die rede is waarom jy rook – en die sleutel as jy wil ophou – is nie ter sprake nie.

Herleer

In sy Neurolinguistic Programming Workbook verduidelik Joseph Connor ook dat gedragsverandering net deur belonings teweeggebring word. Jy sal net ophou as jy dieselfde of beter belonings op ander maniere oes.

Maar dis nie so eenvoudig nie: jou brein glo nie sommer enige boodskappie nie. Hy leer deur te ervaar. Hy het die voordele van elke teug aan daardie sigaret eerstehands ervaar. Onteenseglik, jare lank al.

Dis hier waar die alfabreingolwe inkom.

Dis ingewikkeld om presies te verduidelik wat dit is. Die maklikste is om te sê dat jou brein alfagolwe vorm wanneer jy droom, op ’n verbeeldingsvlug is of iets visualiseer. Dit het ’n geweldige sterk vormende invloed op jou verwagtinge en optrede, en dus op jou toekoms – vandaar die waarde van neurolinguïstiese programmeringstegnieke.

Lees ook: Hoe rook jou vel beïnvloed

Connor stel onder meer ’n baie oulike vyf tree-tegniek voor om jouself neurolinguïsties te herprogrammeer. Ons het dit spesifiek met die oog op ’n lewe sonder sigarette aangepas.

Maar voor jy begin, moet jy eers plaasvervangers kry waaruit jy dieselfde emosionele belonings kan put. Vir elkeen is die antwoord anders, want ons put verskillende belonings uit ’n gegewe aktiwiteit.

Dink lekker wyd en kry vir jou ’n paar alternatiewe. Dink aan ’n hele klompie alternatiewe aktiwiteite. ’n Paar idees: skilder, leser, tuinier, beeldhouer, geselser, gim-meisie, swemmer, sportkenner, katliefhebber, ruiter, reisiger, connoisseur, epikuris, Frans, elegant, modieus, skoonheid, sosiale vlinder, liefdadigheidswerker, musikant, avonturier, geestelike, leermeester.

Formuleer jou plaasvervanger positief en in fyn besonderhede. Moenie sê ek wil ophou rook nie. Dit hou géén emosionele beloning in nie. Sê so: Ek wil deel wees van ’n vrolike vriendekring wat mekaar ondersteun en heerlike uitstappies aanpak, of ek wil reis en aanstaande jaar die groot modevertonings in Parys bywoon, of ek wil fiks wees, elke kwartaal aan ’n pretloop deelneem en oor twee jaar die Comrades aanpak.

Nou kom jy by die praktiese detail: hoe gaan jy van die plaasvervanger ’n nuwe werklikheid maak?

Beplan omvattend. Wat het jy alles daarvoor nodig? Dink prakties – aan toerusting, mense wat kan help, geld en hoe jy dit in jou dag gaan inpas. Moet jy jou selfbeeld versterk, ’n kursus doen wat jou sosiale vaardighede ontwikkel, by ’n Bybelstudie- of liefdadigheidsgroep inskakel, ’n spaarplan aan die gang kry, ’n Let’s Go-gids koop of ’n lid van Run/Walk for Life word en ’n paar goeie drafskoene aanskaf?

Tot hier toe is dit maklik. Die kuns is om alles nou bymekaar te bring. Ons het die Comrades-droom as voorbeeld gebruik. Doen die hele oefening tot jy seker is jy het die geskikte plaasvervangende aktiwiteit(e) uitgesif. Doen die tweede helfte vir ses maande – dis hoe lank dit neem om ’n nuwe identiteit vas te lê.

Lees ook: 28-dag oefenprogram vir beginner-fietsryers

Die hulpmiddels

Verslawing aan nikotien is net so intens soos aan kokaïen. Niemand verwag kokaïenverslaafdes moet sonder hulp ophou nie. Jy is nét so geregtig op ’n bietjie hulp. Almal sal jou R250 – R300 per maand uit die sak jaag. Clicks-apteker, René Zulch, sê die gewildstes is:

Zyban Hierdie antidepressant word nie vir depressie gebruik nie, maar vanweë sy vermoë om die rooklus vanself te laat verdwyn. Jy sluk bloot ’n pilletjie, maar bly rook. Ná ’n week wanneer die vlakke van Zyban in jou bloed ’n optimale vlak bereik het, sal jy agterkom jy het al minder lus vir rook, en kan ophou. Ná sowat drie maande sal jy nooit weer na ’n sigaret smag nie. (Net op voorskrif.)

Lees ook: Toets jouself – hoe swaar rook jy werklik?

Nicorette Hierdie terapie vervang die nikotien uit sigarette deur nikotien uit kougom of velplakkers. Die idee is om jou te help om die fisieke gewoonte van rook te breek terwyl jou liggaam geleidelik van die verslawing gespeen word met al kleiner dosisse nikotien. Kry motivering by nicorette.com

QuitR Dis ’n nikotienmondsproei wat ook op die “speen”-beginsel staatmaak. Sodra jy lus is vir rook, neem jy gou ’n paar spuite nikotien.

Nicobloc Hierdie produk werk as ’n nikotien-filter. ’n Druppel op jou sigaretfilter absorbeer die nikotien uit die sigaret elke keer as jy daaraan teug. Jou liggaam word so van al minder nikotien voorsien, tot jy uiteindelik nikotienvrye sigarette rook en nie meer na nikotien smag nie. Kyk by nicobloc.com

Emosionele steun Kry emosionele steun by internetgroepe soos Nicotine Anonymous (www. nicotine-anonymous.org), hipnoterapeute en rookstaakterapeute soos Smokebusters (021 976 5716) en Smokenders (kyk in jou stedelike telefoongidse vir die nommer).

Ons het opgehou!

Anoniem: “My baba het my laat stop.”

Ek het op universiteit begin rook, twaalf jaar lank. Ek het op dertig my eerste baba verwag, en het so gestres oor hoe sleg dit vir haar is – maar bly rook. Die oggend voor my keisersnit het ek nog ’n laaste sigaret gerook. Die drie dae in die hospitaal was so vol dat ek nooit gerook het nie, maar toe ek by die huis instap, was ek báie lus. My man het vir my gesê siende dat ek nou al drie dae lank nie rook nie, kan ek net sowel ophou. Ek hét – en ek was nog nooit spyt nie.

Trisa Hugo: “Ek het begin uit voel.”

Miskien is die enigste rede waarom ek opgehou het (sigarette is vir my regtig héérlik) die sosiale druk. Dit het al moeiliker geraak om ’n aangename rookplek te kry, en ek het myself menigmaal as die enigste volwassene tussen ’n klomp kinders bevind. Dit het taamlik verspot begin voel. Ek het ook nie daarvan gehou dat sigarette my beheer nie – daarvoor is ek te veel van ’n beheervraat. Dalk het ek net uit pure koppigheid opgehou?

Janus Stols (34, fakbrieksbestuurder): “Kanker het my laat skrik; my kop het my laat deurdruk.”

My skoonpa het aan die einde van 2000 lipkanker weens rook ontwikkel en is binne drie maande oorlede. Dit het my my pyp laat neersit, en ek het gesien ek kan daarsonder klaarkom. Maar toe verander ek van werk. Die stres het my weer na nikotien laat gryp – dié keer sigarette. Die besluit om hierdie keer op te hou was ’n persoonlike een. Niks en niemand het my gedwing of beïnvloed nie. Ek het oor ophou begin dink, my gedagtegang begin regkry, my laaste pakkie sigarette gaan koop en toe bloot opgehou.

pexels

Visualiseer jou rookstaking

Kry ’n staanplek. Kies ’n ruimte waar jy vyf tree terug kan stap (jy kan die tree ook net visualiseer, maar fisieke tree werk beter). Maak jou oë toe en beskryf vir jouself hoe die omgewing lyk waarin jy is wanneer jy rook. Die doel is om te verstaan watter prikkels in jou omgewing jou laat rook. Dit wys watter behoeftes jy het wanneer jy lus is om te rook.

Vrae om te vra: Wie is saam met jou? Wat val jou op as jy daar is? Watter faktore in die omgewing beïnvloed jou om te rook? Dalk stres, verveling of moegheid? Of ’n behoefte aan geselskap, ’n bietjie bederf of selfhandhawing?

Stap die eerste tree terug.

Kyk na jou gedrag. Beskryf jou bewegings en gedagtes terwyl jy rook. Die doel is om die emosionele voordele te identifiseer wat die rookgewoonte vir jou inhou. Dit dui vir jou aan na watter belonings jy op soek is. Evalueer of die Comrades-opsie jou soort belonings kan verskaf. As dit tekort skiet, gaan jy kort voor lank weer rook. Werk liewer aan ’n ander plaasvervanger.

Vrae om te vra: Voel jy in? Of uit? Hoekom? Wat wil jy eintlik uit ’n sigaret haal? Is dit lekker sosiaal? Of laat dit jou dapper en uitdagend voel? Definieer dit vir jou onafhanklikheid? Maak dit jou deel van die groep? Sê dit jy is oud genoeg om jou eie besluite te neem? Spel dit vryheid of nonkonformisme uit?

Stap die tweede tree terug

Konsentreer nou op jou vermoëns. Dink aan jou sterk punte, en identifiseer hoe ’n sigaret hulle elke keer laat blom. Evalueer kortliks of jou talente in jou plaasvervanger vir die rookgewoonte tot hul reg sal kom. Of het jy nog opsies nodig?

Vrae om te vra: Watter talente het jy alles? Watter vaardighede? Waarin is jy goed? Watter prestasies het jy op die kerfstok? Kan jy goed kommunikeer, mense motiveer, of beplan? By watter van hierdie eienskappe vind jy baat? Hou dit vir jou voordele in?

Stap die derde tree terug

Fokus op jou waardes en oortuigings. Dink weer oor jou Comrades-droom: pas dit steeds?

Vrae om te vra: Kyk objektief na die dinge wat jy doen en hoe jy dit doen: wat sê elkeen oor jou beginsels en waardes? Watter waardes is vir jou belangrik? Hoe gaan die Comrades as plaasvervanger jou by die groep laat inpas as jy baie waarde heg aan samehorigheid? Of gaan dit inpas by jou individualistiese streep? Hoe gaan dit jou onafhankliker/vryer/meer in beheer laat voel? Is daar dalk ander plaasvervangers wat beter by jou waardesisteem sal pas?

Stap die vierde tree terug

Die doel is om ’n begrip van jou bestaande identiteit te kry en dit deur jou nuwe identiteit te vervang. Kies ’n simbool wat jou nuwe identiteit uitbeeld, soos ’n Comrades-medalje om jou nek as jy jou nuwe jy as ’n atleet sien.

Vrae om te vra: Watter beeld dra jy oor met ’n brandende sigaret in die hand? Pas dit regtig by die groter prentjie van wie jy is met al jou talente, vermoëns, oortuigings en waardes? Hoe gaan jou nuwe beeld beter daarby pas?

Stap die vyfde tree terug

Kyk uit ’n geestelike perspektief na jouself. Beleef jou as uniek en kosbaar. Hou aan hierdie waarheid vas tot jy ’n diepe besef van goddelike krag en liefde ervaar.

Gee nou een tree vorentoe

Koppel hierdie bewussyn van jou verbintenis met die heelal en goddelike krag aan jou nuwe identiteit, en laat dié spirituele dimensie dit hernieu en verdiep.

Om te doen: Versterk jou beeld as Comrades-atleet tot jy dit in die fynste besonderhede kan sien. Sien hoe jy by die stadion indraf, die eindstreep oorsteek. Jy kan maar heerlik voortborduur – nie net oor die wedren nie, maar selfs oor die rit soontoe, die mense saam met jou …

Gee die tweede tree vorentoe

Dink weer oor jou waardes en oortuigings: watter beginsels is in dié stadium vir jou regtig belangrik?

Om te doen: Dink nou weer oor hoe jou Comrades-projek jou waardes sal bevorder – hoe jy heerlik gesellig saam net die ander klublede draf, of jou eie pas handhaaf as jy ’n individualis is. Fokus op waardes wat jou identiteit as Comrades-atleet uitdruk.

Gee die derde tree vorentoe

Fokus nou op jou talente, vaardighede en prestasies en span in jou gedagtes elkeen in diens van jou nuwe identiteit in. Dink hoe die vaardighede jou Comrades-droom help verwesenlik, en die belonings meebring waarna jy smag.

Om te doen: Hier is enkele voorbeelde. Jy moet met jou eie eienskappe werk. Was jy op skool gemiddeld in sport? Dan het jy die potensiaal vir die Comrades. Hou jy van die buitelug? Draf bring jou juis buite. Is jy getrou? ’n Roetine wat op getroue oefening staatmaak, werk vir jou, of jy sal ’n maat kan inspireer om saam te oefen.

Gee die vierde tree vorentoe.

Jy is nou op die vlak van gedrag. Omdat jy intens bevredigende emosionele belonings verwag, sal dit maklik en opwindend wees – sonder daardie gevoel van interne weerstand.

Om dit te doen, moet jy dit net doen!

Terug by die begin: Jy is terug in jou werklikheid, maar jy is beslis nie terug waar jy was nie. Jy’s ’n aks anders, en met elke herhaling van die proses skiet jou beeld ’n bietjie dieper wortel.

Nuttige nommers:
Nasionale Raad teen Rook 011 643 2958
Rookstaakhulplyn 011 720 3145

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.