Avokado-olie wat geen teenvetsure bevat nie en cholesterolvry is, is die ideale olie om in jou gebak te gebruik. Dit sorg vir fyngebak wat vorentoe smaak en maklik uitgekeer kan word, soos dié sitruskolwyntjies wat jy vir Moedersdag kan bak. Deur Vickie de Beer. Foto: Neville Lockhart
Bestanddele
- 80 ml (1/3 k) ongegeurde avokado-olie en nog 50 ml om die pannetjie te smeer
- 4 eiers, geskei
- 120 ml (8 e) water
- 200 g (400 ml) koekmeel
- 200 g (250 ml) suiker
- 10 ml (2 t) bakpoeier
- ’n knypie sout
- gerasperde skil van een suurlemoen
Versiering
- 375 ml (1½ k) strooisuiker
- 2 k (500 ml) water
- 2-3 (16 skyfies) lemoene in dun ringe gesny
Metode
Voorverhit die oond tot 190 °C. Smeer ’n kolwyntjiepannetjie met die ekstra 50 ml avokado-olie.
- Klits die 80 ml avokado-olie en eiergele liggies tot dit net gemeng is. Voeg die water by en meng.
- Sif die koekmeel, 1/3 van die suiker, die bakpoeier en sout saam. Roer by die eiergeelmengsel in en klits vinnig vir 1 min. Hou eenkant.
- Klits die eierwitte tot skuimerig. Voeg die res van die suiker by en klits tot stywe punte vorm. Vou die eierwitmengsel by die beslag in en skep in die voorbereide pannetjies. Bak vir sowat 15-29 min. of tot ligbruin.
- Versiering: Verhit die strooisuiker en water en roer deurentyd tot die suiker opgelos is. Laat vir 5 min. prut – sonder om te roer – tot dit stroperig is. Prut die lemoenringe in die stroop tot sag, sowat 1 uur. Sit ’n skyfie lemoen op elke kolwyntjie en bedruip met die stroop.
