kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Speel self Kupido – hier’s hoe!

Deur Ami Moore

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoekom raak ’n mens verlief? Vir digters en sangers en ander romantiese siele is die liefde ’n kuns en goed net soos dit is. Maar die wetenskaplikes wat die liefde objektief ondersoek, sê liefde is ’n wetenskap. Iets waarvoor jy kan beplan, soos vir ’n vakansie. As ’n mens die beginsels verstaan, hoef jy nie te wag dat Kupido se pyltjie jou tref nie – jy kan inspring en self Kupido speel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

En dis nie net teorie nie. The Project, ’n organisasie wat in New York gesetel is en meer as tien jaar lank die interaksie tussen mans en vroue prakties ondersoek het, het 85 suksesvolle strategieë geïdentifseer, wat alles in How to Make Anyone Fall in Love with You uitgestippel word.

Lees ook: 29 maniere om te sê “ek het jou lief”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Leil Lowndes, skrywer van die boek en direkteur van The Project, sê party mense het ’n natuurlike slag met die tegnieke, waarskynlik omdat hulle beter rolmodelle gehad het. Ander mense het dit net nie. En as hulle nie dit leer nie, wag daar dalk ’n eensame, liefdelose lewe op hulle.

Die nederigheid om te leer is beslis edeler as onvermoë gebore uit onkunde. Met ’n geraamde een uit elke vyf mense in Suid-Afrika (agt miljoen!) wat nie ’n lewensmaat het nie, wil dit voorkom of baie van ons gerus maar kan leer.

Hier’s die beste planne, volgens The Project.

Die eerste indruk

Die allerbelangrikste is die regte eerste indruk op jou liefdesteiken – daardie eerste paar sekondes wat jy nooit, ooit weer kan oorhê nie.

Wie moet jy beïndruk? Die mense in jou onmiddellike omgewing. Navorsing toon die meeste mense kry ’n lewensmaat in hul omgewing – en nie in kuierplekke waar vreemdelinge drie rye diep ingeryg sit nie. Dus, kyk goed om jou rond – hy is hiér.

Lees ook: Pasop vir kuberprinse

Nie net is hy iewers naby jou nie, maar kan hy baie onverwags opduik. Daarom moet jy áltyd reg wees met daardie goeie eerste indruk.

Watter indruk moet jy maak? Een van gesondheid en versorgdheid. Op die mees basiese vlak kom liefde op biologie neer: mans soek maats wat opgewasse lyk om kinders in die wêreld te bring. Dis ál indruk wat jy fisiek hoef te maak.

En die goeie nuus vir almal wat nie skoonhede is nie: volgens navorsing is mans wat ’n vrou kies, min gepla met ’n spesifieke gewig of vol lippe of mooi bene of groot borste. Vir ’n man is honderde vroue met heeltemal uiteenlopende voorkomste aantreklik. Al gemene deler tussen die aantreklikes is helder oë, ’n skoon vel, blink hare, egalige wit tande en skraalheid (maar nie maerheid nie). Dit kom net op ’n gesonde, versorgde voorkoms neer.

Nog ’n aspek van die eerste indruk is lyftaal. Laat joune ook vertel hoe opgewasse jy fisiek vir jou biologiese taak is – al het jy dit nie op die oomblik naastenby in gedagte nie. Glimlag, gooi jou skouers agteroor, stoot jou borste uit en jou een heup effe vorentoe en kyk die wêreld in die oog. Beweeg soos ’n liefdesgodin, en jou liefdesteiken sal glo jy ís een.

Wat van ontblotende klere? Naaktheid werk nie. Al fantaseer mans daaroor, wys The Project se navorsing hulle wil nie met ’n prikkelpoppie trou nie. Veral mans van ’n hoër sosiale status verkies hul vroue fatsoenlik bedek – dis nou in die openbaar. Die eenvoudige waarheid is dat mans bra onoplettend is: jy hoef nie ’n modeslaaf te wees nie, maar jou klere moet wys jy is gesond en versorg.

Lees ook: Word weer hartsmaats

Pritt jou oë op hom

Daar is min dinge wat sulke kragtige liefdes-emosies soos oogkontak ontlok. Maar dit moet die regte soort oogkontak wees. ’n Starende, harde blik werk nie. Groot slaapkameroë tel.

Volgens die wetenskap van pupilometrie het die verleidelikheid van jou oë te make met die grootte van jou pupille. Hoe groter hulle word, hoe aantrekliker lyk jy. Die probleem is dat jy nie jou pupille willekeurig groter of kleiner kan laat word nie, maar daar is tog ’n paar truuks.

Sagter lig is een, omdat dit jou pupille laat vergroot. Maar die beste truuk is dat jou pupille outomaties vergroot wanneer jy na iets moois of geliefds kyk.

Lees ook: Mislukte verhoudings kan nuwe liefde ruïneer

Pas dié feit so toe: laat jou oë stadig oor sy gesig gly tot jy iets raaksien wat regtig vir jou mooi is – sy ferm ken, helder oë of selfs ’n oulike moesie, enigiets solank dit vir jóú mooi is. Wees bewus van die plesier wat jy daaruit put terwyl jy in sy oë kyk. En laat jou oë op sy gesig talm en vassteek, asof jou oë met Pritt aan sy gesig vasgegom is. Jou pupille sal saamspeel.

Kyk ook dikwels en lank na hom – solank jy daarmee kan wegkom. In gewone kommunikasie kyk mense sowat 60 persent van die tyd na mekaar, terwyl verliefdes minstens 75 persent van die tyd in mekaar se oë kyk. As jy moet wegkyk, doen dit asof jy onwillig is.

En as jy dink hy geniet die aandag van jou oë, skuif jou blik ’n bietjie na sy nek, skouers en hande …

Maak die eerste skuif

Navorsing wys dat mans nié die eerste skuif maak nie, maar reageer op vroue se nie-verbale boodskappe. Die bal is in jou hande: jy moet jou nieverbale boodskappe subtiel, maar duidelik uitsaai.

Gorillawyfies lig ongeïnhibeerd die agterstewe as hulle ’n nieverbale sein uitstuur, maar by mense werk kru, direkte seine nie. Werk subtiel, báie subtiel.

Jou beste nie-verbale tegnieke is jou oë, jou glimlag en ’n kopknikkie. Kyk vlugtig na hom met daardie Pritt-oë, gee ’n klein kopknikkie en glimlag vriendelik. En glimlag gerus dikwels en elke keer as jy sy oog vang. Glimlag opreg – wat net gebeur as jou glimlag die soort mens weerspieël wat jy is – skalks, speels, skamerig, gul, hoe jy jou ook al sien.

Mans reageer volgens The Project ook goed op vroue wat reguit na hulle kyk en hul hare agtertoe vee of die kop agtertoe skud (net effens of meer dramaties, soos dit by jou pas) en dan weer na hulle kyk.Die volgende stap is verbale kommunikasie – die sogenaamde pick-up line. Maar wees gewaarsku: geoefende teksies werk selde. As jy nie weet wat om te sê nie, probeer ’n doodgewone “haai” of “hallo”. Dit werk net so goed of beter as slim opmerkings.

Nou moet jy oplet na jou liefdesteiken se lyftaal. As hy sy kop ten volle na jou draai, het jy sy aandag.

As hy dit nie doen nie … vergeet van hom. Hy stel nie belang nie. Soek ’n volgende liefdesteiken – daar’s immers agt miljoen ander.

Maar gestel hy kyk reguit na jou. Dan moet jy oplet na die res van sy lyf en joune ooreenkomstig posisioneer. As iemand belangstel, draai hy nie net sy kop nie, maar sy hele lyf geleidelik na jou toe. Die hele draaiproses kan minute of ure neem, en is die barometer van sy belangstelling. Hoe meer van sy lyf direk na jou gedraai is, hoe groter die belangstelling.

Lees ook: Verhoudings: Swaai uit vir hierdie slaggate

Enkelloper? Red die situasie

“Hoekom is jy nog nie getroud nie?” en ander goed wat enkellopers haat

Eerste geselsies

Nou’s dit tyd vir “op-chat”, soos hulle sê. Julle is nou in die dans en jou groot pupille gom hom vas, maar as julle nie nou ’n geselsie op dreef kry nie, val als plat. Die eerste sinne is meestal maar clichés oor die weer, die verkeer, die plek of die werk. Maar julle kan nie langer as ’n paar sinne op hierdie vlak bly nie.

Hoe kom ’n mens hier verby? Die truuks is in die blok langsaan gelys.

Die volgende stappe (maak dit stappies, want jy wil báie subtiel werk) is aanraking en sinchronisasie.

Ligte, vlugtige aanraking is ’n kragtige afrodisiak. Skiet ’n krummeltjie van sy top af; raak vlugtig aan sy hand as jy vir hom iets aangee; laat jou skouer teen syne skuur wanneer jy effens vorentoe leun – gebruik die klein geleenthede wat opduik om “per ongeluk” aan hom te raak.

As hy geprikkel is, sal hy van sy kant af ook outomaties ligweg en terloops aan jou raak. Wees baie ontspanne daaroor, want as jy jou liggaam verstyf of effens wegtrek ná enige uitreiking van sy kant af, sien hy dit as verwerping – en is dit die einde van jul flirtasie. Jy kan selfs reageer deur effens nader te leun.

Sinchronisering is die laaste stap: julle begin nou saamdoen. As hy sy glas optel of sy pen neersit, doen jy dit ook. ’n Paartjie beweeg saam, en as jy die idee wil oordra dat julle saam is, moet jy saamdoen. Hier net ’n woordjie van waarskuwing: hou kop en behou jou selfrespek. Jy hoef beslis nie deel te neem aan onaanvaarbare gedrag of onvanpaste toenadering te beantwoord nie.

Lees ook: Wat mans by ons oor seks wil weet

Hoe om beter oor seks te praat

Die eerste afspraak

Als is gereed vir die eerste afspraak. Dit kan gebeur – of nie. Jy kan dit indirek uit hom trek deur wenke te laat val oor plekke waarna jy wil gaan of dinge wat jy wil doen. Máár dit moet voorstelle wees waarin hy belang stel – jy luister mos fyn.

Wat werk? Nié ’n romantiese ete by kerslig terwyl julle jul diepste gevoelens bespreek nie. Mans se geheime liefdeskakelaar is gevaar – enige aksie wat die adrenalien laat pomp. Stel as een van jul eerste afsprake iets avontuurliks voor wat verband hou met sy belangstellings, soos fietsry, roei, ’n reksprong of aksie-krieket.

Julle kan natuurlik daarná iewers gaan eet en jul wedervaringe deurpraat.

Hoe vinnig moet jy spring as hy jou uitnooi? Hier het navorsing ’n verrassing opgelewer: die ou hard-to-get speletjie werk nie in die praktyk nie. Mans hou baie meer van ’n vrou wat met ’n “Ja, dit klink héérlik!” reageer. Volgens The Project is dit wel goed om hom laat verstaan jy is hard-to-get vir ánder mans. Jy kan later laat blyk dat jy ’n uitnodiging na dit of dat ook gehad het, maar dat jy dié van jou liefdesteiken verkies het.

Daaruit volg die finale fase. Gaan hy in ’n verhouding belangstel? Die kanse is goed. The Project sê dis nie genoeg om net lekker te gesels en dinge hul loop te laat neem nie. As jy regtig in ’n verhouding met hom belangstel, moet jy vasstel hoe hy liefgehê wil wees. Wat is sy diepste behoeftes? Hoe kan jy dit vervul? As jy goed luister, kan jy in die volgende paar maande die leidrade optel en inspan om hom te wys hoe lekker ’n verhouding met jou is.

Lees ook: Menopouse: ’n Sensueler jy

Regtig énigeen?

The Project sê jy wil nié met die prins trou nie. Alles op aarde het ’n markwaarde – jy óók. Die gelukkigste verhoudings is tussen mense met min of meer dieselfde markwaarde. Dus: gaan staan voor die spieël en gee jouself ’n regverdige punt. Buiten ’n gesonde, versorgde voorkoms, tel jou welvaart, sosiale status, kennis, sosiale afronding en persoonlikheid. Kies liefdesteikens aan wie jy naastenby dieselfde gemiddelde punt sal toeken.

Lees ook: Jy, jou lyf en die liefde

Sit die vonk terug

Gesels hom verlief!

1 Alle kommunikasie begin met clichés, maar daar skuil leidrade in dié geykte uitdrukkings. Vra uit oor die leidrade om van clichés na interessante gesprekke te spring. As sy gesig verhelder wanneer jy uitvra, is jy op die regte spoor.
2 Luister aandagtig: knik jou kop, maak instemmende geluide, lag vir sy grappies en wys jou emosies.
3 Doen jou deel. Bou aanknopingspunte in jou reaksies in. Gestel hy vra wat jy doen of swot, sê iets soos: “Ek’s ’n prokureur, en ek spesialiseer in belasting. Ek het nou juis vanoggend gehoor ons kry glo aanstaande jaar nog ’n paar toegewings.”
4 Reageer wanneer jy kan met “ons” stellings wat hom insluit. Dit laat hom nader aan jou voel.
5 Verklap ’n klein foutjie oor jouself. Groot foute is ontstellend. Mense wil nie weet dat jy die verskriklikste karbonkels kry of pas geskei is nie, maar iets kleins is minsaam.
6 Beklemtoon jul eendersheid. Pas jou profiel aan om by syne te pas. As hy ’n natuurliefhebber is, is jy ook een. Maar as dit alles behalwe waar is, moenie jok nie. Maak net iets van die bietjie wat jy wel van die natuur weet of geniet.
7 Eggo hom. Gebruik presies dieselfde woorde waarmee hy sy gunstelingdinge beskryf. As hy praat van sy “Landy”, moenie dit ’n bakkie, 4×4 of tjor noem nie.
8 Mense vra altyd wat jy doen en waar jy grootgeword het. Berei verskillende antwoorde voor vir verskillende soorte liefdesteikens. Gestel jy is ’n Kapenaar. Vir ’n natuurliefhebber sal jy vertel jou beste herinnering is die maanopkoms van Tafelberg af, maar vir ’n ingenieur vertel jy liewer die N1 stad toe is uiteindelik klaar en die spitsverkeer vloei nou baie beter.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.