Die Suidoosterfees word vanjaar van 29 April tot 3 Mei vir die 23ste keer aangebied. Die feestema is Tuiste en sluit aan by Kaapstad wat reeds meer as twee dekades lank die tuiste van die fees is – asook by die gevoel van behoort en samehorigheid wat die fees jaarliks aan feesgangers, borge, kunstenaars en teaterlui bied.
Die fees brei vanjaar verder uit as Kunstekaap, die tradisionele middelpunt van feesaktiwiteite, met verskeie nuwe venues wat benut word. Volledige besonderhede is op die feesprogram, wat nou op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.
Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van kultuursake en sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, die Nasionale Kunsteraad (NAC) en Kunstekaap.
Kort voor lank is een van Suidoosterfees se gewildste programafdelings – ’n fees binne ’n fees waar uiteenlopende stories in treffende 30-minuut-vertonings tot lewe kom. In 2026 dien hierdie geliefde platform weer as ’n broeikas vir innoverende vernuwing, en bied dit aan feesgangers ’n toeganklike manier om nuwe stemme, genres en vorme van teater te ontdek.
’n Onbetwiste hoogtepunt op die program is Jakobregop – die première van Hennie Aucamp se heerlik ondeunde saterspel wat reeds in 1988 in Sjampanje vir ontbyt verskyn het, maar nog nooit voorheen opgevoer is nie. Hierdie slegs-vir-volwassenes komedie met Dean Balie, Marcel Meyer en Anzio September, en onder regie van Fred Abrahamse, speel sensueel, stylvol en skreeusnaaks met temas soos menslike begeerte, die weë van die ouderdom en die magsverhoudings tussen mense. Jakobregop is bedoel vir volwasse gehore wat nie skrik vir naaktheid nie.

Nog ’n spogitem op die program is Adam Small 90 – ’n reeks nuwe kort tekste waarin Small se werk herverbeel word deur jong skrywers en spelers van die Proscenium Dramakompetisie. In Ongekarteerde drome, Langs die pad uitsak, Tussen vlugte en Waar oekal djy belong word temas soos behoort, drome, identiteit en verlies ondersoek teen die agtergrond van ’n samelewing wat steeds deur ongelykhede gekenmerk word. Hierdie reeks, ondersteun deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, bring jong kunstenaars in kreatiewe gesprek met een van Suid-Afrika se mees invloedryke literêre figure.
Ingrid Jonker se enigste toneelstuk kry nuwe lewe in ’n Seun na my hart, onder regie van Marí Borstlap, terwyl die digteres en aktrise Veronique Jephtas in Ouma slaan ’n ses hemel toe geloof, rou en verlies in ’n poëtiese, intieme solovertoning ondersoek.

Op musiekfront staan Stadskoor, -Choir, -iKwayara sing diva-pop uit as ’n uitbundige produksie waarin ikoniese poptreffers uitgevoer word met ryk koorharmonieë, energieke vertolkings en ’n vars, kontemporêre klank. Die skitterende fopdoskunstenaar Manila von Teez bring haar legendariese flair, humor en glans na die verhoog wat sy met die Stadskoor, -Choir, -iKwayara-koor deel.
In Eenmanstuk neem De Klerk Oelofse feesgangers op ’n speelse en verrassende reis deur ’n versameling eenbedrywe, mimiek en pantomime. Met minimale hulpmiddels en ’n oorkoepelende fokus op die menslike verbeelding word die verhoog ’n oop speelveld waar teater as medium self ondersoek en bevraagteken word.

Humor en sosiale kommentaar loop hand aan hand in Baggage, Flip-flop en Pick a Struggle. In Baggage gebruik Jurgen McEwan en Aviwe Ngabom skerpskets-komedie om Suid-Afrikaanse werklikhede te belig teen die agtergrond van ’n lughawe.
Flip-flop met Deon Lotz en Gary Naidoo besin oor die harde werklikhede van akteurs se pogings om in ’n uitdagende bedryf te oorleef, terwyl Pick a Struggle se Zach Esau en Roland du Preez met spitsvondige humor en kwesbaarheid die ervarings van minderhede in ’n komplekse samelewing ondersoek.

Kabaret en musiek blom in Karamonkie, waarin Bianca Flanders ’n speelse, grensverskuiwende keuse van kontemporêre skryfwerk, visuele teater en kamishibai aanbied. In Net ’n bietjie liefde bring André Schwartz hulde aan mentors en kunstenaarsvriende wat sy loopbaan help vorm het. En in Verweef skep Corneil Müller ’n intieme klankwêreld waarin stem, tjello en klavier saamvloei in ’n poëtiese refleksie oor herinnering en betekenis.

Die Waterfront Teaterskool se studente stel hul talent ten toon in Encore met sang, toneelspel en dans. En in The Magic of Musicals: From Good to Great bring Northlink Kollege-studente gunstelingnommers uit musiekblyspele met flair op die verhoog.
Dansproduksies soos Sbo Ndaba’s Bolero, Unmute en Sands of Time fokus op die liggaam as draer van storie, emosie en betekenis.
In Sbo Ndaba’s Bolero bring SboNdaba Dance ’n asemrowende versmelting van kontemporêre dans en Afrika-ritmes na die verhoog met ’n groot ensemble wat fisieke krag en emosionele intensiteit kombineer.
Unmute, gechoreografeer deur Andile Vellem, gebruik Suid-Afrikaanse Gebaretaal as primêre bewegingstaal en bring dansers met uiteenlopende fisieke vermoëns saam in ’n verbeeldingryke werk oor kommunikasie en inklusiwiteit.
Sands of Time deur die Jacqui Pells Balletskool ondersoek tyd en verganklikheid deur elegante choreografie en beweging.

Die Kort voor lank-program word verder verryk deur Opera Trios: Love Triangles, Trysts and Intrigue met jong sangers van Opera UCT, Op reis in 30 minute waarin Luna Paige haar musikale swerwersverhale deel, Songs van die hart met Jodi Jantjies en Karen Petersen, The Tramp (Bite-sized) deur Wêla Kapela, met die briljante Daniel Anderson op die verhoog, en in A Victor Borge Taster vermeng die befaamde orrelis Winand Grundling musiek en komedie met speelse virtuositeit.
Kort voor lank word moontlik gemaak deur die Spier Arts Trust, die Nasionale Kunsteraad (NAC), die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Johann Brink Trust – ’n program waarheen feesgangers jaar na jaar terugkeer vir vars, dapper en onvergeetlike teateroomblikke.
Lees ook: Jong talent van Bonnievale nou deel van Een keer om die son
