Genoeg vir 6 tertjies of 1 groot tert.
Bestanddele
Koop klaarbereide tertdeeg as jy haastig is.
Tertdeeg
- 125 ml (½ k) botter
- 125 ml (½ k) strooisuiker
- 1 eier
- 420 ml (1½ k + 3 e) koekmeel + ekstra om oor te strooi
- 30 ml (2 e) marmelade
Meringue
- 2 eierwitte
- 125 ml (½ k) strooisuiker
Vulsel
- 250 ml (1 k) suurlemoensmeer
- 250 ml (1 k) mascarponekaas
Metode
Tertdeeg
- Meng die botter en suiker in ’n voedselverwerker tot lig en romerig.
- Voeg die eier by en meng goed. Voeg die meel by en meng tot dit bymekaarkom. Druk plat (dit rol makliker later) en draai met kleefplastiek toe. Sit vir minstens ’n uur in die yskas.
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n ronde 30 cm-losboomtertpan met kleefwerende kossproei.
- Rol die deeg 3 mm dik op ’n meelbestrooide werkvlak uit en voer die pannetjies daarmee uit. Prik die basis liggies met ’n vurk.
- Bak die deeg blind: Sit ’n stuk opgefrommelde bakpapier, groot genoeg om die tert te bedek, op die deeg en sit droë bone, rys ofbakgewiggies daarop. Bak vir 20 min. tot dit liggies begin verkleur.
- Haal die bakpapier en gewiggies af en bak vir 2 min. of tot die rande ligbruin is. Verf die deeg met die marmelade en laat afkoel.
Vulsel
- Meringue: Sit ’n hittebestande mengbak op ’n kastrol met stadig pruttende water en klop die eierwitte daarin tot sagte punte vorm.
- Voeg die suiker bietjie vir bietjie by en klop deurentyd tot ’n blink en stywe meringue. Voel kort-kort aan die onderkant van die meringuebak sodat dit nie te warm word en die meringue laat skif nie. Dié proses “kook” die eierwitte.
- Meng die suurlemoensmeer en mascarpone en skep in die tertkorse. Skep eetlepels vol van die meringue op sodat dit punte maak.
- Sit die tertjies onder die oondrooster of brand met ’n blaasvlam bruin.
Lees ook: Resep vir suurlemoenbrood
Lees ook: Resep vir suurlemoenkoek
