kategorieë: Leef gesondGesondheid

Swanger bo 40

Talle bekendes het op die rype ouderdom van 38+ babas gekry en dit het dalk meegehelp om die idee van swangerskap bo veertig meer aanvaarbaar te maak. Hier het bekendes soos Margit Meyer-Rödenbeck, Debra Patta en Gillian van Houten digby of oor die ouderdom van veertig babas gehad. Die lys internasionale sterre wat ouer ma’s is, is lank en sluit vroue soos Jane Seymour (45), Susan Sarandon (46), Cherie Blair (45), Nicole Kidman (41) en Madonna (41) in. Die 45 van vandag is immers die 35 van ’n dekade of twee gelede.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Dr. Johan van Rensburg, ’n ginekoloog by die Medfemin-fertiliteitskliniek in Johannesburg sê in hul praktyk is daar al meer veertigplussers wat om hulp kom aanklop om swanger te word.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Daar is veral drie redes vir die verskynsel: Baie vroue wag dat hul werk- of finansiële omstandighede verbeter. Baie vroue trou laat, of vir ’n tweede keer en dan wil hulle en die nuwe eggenoot saam ’n baba hê. Daar is ook heelwat vroue bo veertig wat besluit hul kinders is groot en uit die hand, en nou is dit tyd vir ’n laatlammetjie. By ons praktyk is die afsnypunt vyftig. Daarna help ons nie graag ’n vrou om swanger te word nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die tendens om later kinders te hê neem wêreldwyd stadig maar seker toe. Volgens die Britse Statistiekdiens het die persentasie vroue tussen die ouderdom van 35 en 39 wat in 2009 ma geword het, met 1,2% toegeneem, en dié tussen 40 en 44 met 2,4%. In die laaste twee dekades het die getal vroue bo veertig wat babas gehadhet, byna verdriedubbel van 9 336 in 1989 tot 26 976 in 2008.

Die toename in swangerskappe bo veertig is onder meer toe te skryf aan die nuwe, verbeterde infertiliteitsbehandelings. Wanneer ’n vrou die menopouse nader, stel die liggaam al minder eiertjies vry en word die kans al skraler om natuurlik swanger te word. Daarby is daar ook ’n afname in die gehalte van die eiers.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Wanneer ’n vrou gebore word, is al haar eiertjies reeds daar en word niks meer gemaak nie, die eierstokke stel dit bloot vry. Namate ’n vrou ouer word, verlaag die gehalte van die eiertjies en die kanse vir chromosoomafwykings raak groter. Wanneer ’n eiertjie met ’n chromosoomafwyking bevrug raak, sal die liggaam dit verwerp. Die enigste van hierdie chromosoomafwykings wat op ’n vaste basis nie verwerp word nie, is Downsindroom. Op veertig is die kanse vir ’n abnormale chromosoomtelling op ’n eiertjie reeds tagtig persent en is slegs een uit elke vyf eiertjies normaal. Daarom vat dit langer om op veertig natuurlik swanger te word,” verduidelik dr. Van Rensburg.

Hy sê die gehalte van die eiertjies neem af omdat hulle dan reeds veertig jaar in die eierstok sit en hulle is ook vir daardie tydperk aan dinge soos besoedeling, X-strale, medisyne en siektes blootgestel. By die meeste vroue is daar ná veertig nog genoeg eiertjies oor wat bevrug kan word, maar dit neem beslis langer en vereis ’n aggressiewer behandeling waarin die vrugbaarheid beheer moet word. As dit nie aktief gedoen word nie, is die kans skraal om swanger te word.

Word ’n swangerskap anders benader wanneer ’n vrou bo veertig is?

Eers sal toetse gedoen word om seker te maak die vrou is gesond genoeg. Die toetse kan die moontlikheid van siektes soos diabetes en hoë bloeddruk uitwys. Nes ’n vrou van watter ouderdom ook al, is dit belangrik om so gesond moontlik te wees as jy swanger wil word.

“’n Mens sal uit die aard van die saak versigtiger wees wanneer die toekomstige ma ouer as veertig is en daarom sal jy meer noukeurige toetse doen. Ons doen nie ’n roetine-amniosentese nie, want op twaalf weke kan jy met ander toetse soos sonarskanderings en bloedtoetse die onderskeid tussen hoë- en laerisiko-swangerskappe tref. Ons sal net ’n amniosentese op ’n hoërisikoswangerskap doen. Die kans om ná ’n amniosentese te aborteer is ’n half persent, en daarom doen jy dit nie sommer net vir die grap nie,” sê dr. Van Rensburg.

“As ’n vrou bo veertig swanger wil word, is dit miskien goed dat sy na ’n erkende infertiliteitskliniek gaan, want daar is die dokters toegerus en opgelei om haar te monitor en na al die gevaartekens te kyk. Gewone ginekoloë is knap mense, maar nie almal is altyd goed genoeg ingelig oor hierdie soort swangerskap nie. Ek beveel vroue aan om na ’n kundige te gaan wat presies weet hoe om jou vrugbaarheidsvlakke te meet, jou eierreserwes te meet en jou ovulasie te monitor. Wanneer jy dan swanger is en die gevaartyd (die eerste drie maande) is verby en die Downsindroom-toetse is gedoen, kan jy na jou gewone ginekoloog, teruggaan.”

Die moontlikhede

Nie alle veertigplussers sal hulp nodig hê om swanger te word nie, maar as jy nie vanself swanger word nie, en jy wil graag nog ’n baba hê, kan jy die volgende opsies oorweeg:

  • Vrugbaarheidsmiddels kan die eierstokke stimuleer en die produksie van eiertjies verhoog wat die kans om bevrug te word groter maak.
  • Tegnieke soos in vitro-bevrugting en kunsmatige bevrugting kan ’n moontlikheid wees.
  • Eierskenking kan ook oorweeg word.

Hou die volgende in gedagte

Hoewel daar genoeg navorsing is wat bewys dat daar geen werklike gevare vir ’n gesonde vrou is wanneer sy swanger raak nie, behoort ouer vroue die volgende dinge wat moontlik die swangerskap kan belemmer in gedagte te hou:

  • Bo 35 verminder ’n vrou se spier- en veerkragtigheid en daarom is dit waarskynlik dat haar baba met ’n keisersnee gebore sal word.
  • Ouer vroue het ’n groter kans op dinge soos voortydige kraam, hoë bloeddruk en swangerskap-diabetes.
  • Ná veertig verhoog die kans op ’n kind met Downsindroom soos volg: Tot op 40 is ’n vrou se kans betreklik skraal – 1 uit 300. Op 40 is vroue se kans 1 uit 100. Op 42 is dit 2 persent en op 46 sowat 4 persent. (Die syfers is net geldig indien ’n vrou se eie eiers bevrug word).

Skenkereiers

Wêreldwyd word al meer skenkereiers in infertiliteitsbehandelings gebruik. Hier in Suid-Afrika, by klinieke soos Medfem bied die tegniek ’n oplossing vir baie vroue.

“Wanneer ouer vroue by ons kom aanklop om swanger te word, gee ons hulle die beste moontlike raad. Dis belangrik om te besef dat die gehalte van die eiertjies al ’n paar jaar voor die einde van die vrugbare jare begin afneem. Eierskenkings wen daarom baie veld. ’n Derde van my pasiënte word deur eierskenking swanger. Die vrou bo veertig ontdek haar vrugbaarheid is baie min, of sy besluit sy wil nie ’n kans waag met ’n swak gehalte of ou eiertjie nie, en dan bied eierskenking vir haar die oplossing. ’n Vrywillige gesonde vrou tussen twintig en dertig skenk een van haar siklus se eiertjies. Dit word uit haar liggaam verwyder, met die man se sperms bevrug en die bevrugte embrio word in die potensiële ma se baarmoeder geplaas. Haar kanse op ’n suksesvolle swangerskap is dan gelykstaande aan dié van ’n twintigjarige. Ouderdom het geen invloed op die baarmoeder se vermoë om die baba te laat ontwikkel nie.”

Dr. Van Rensburg sê wanneer ’n ouer vrou hom kom spreek om swanger te raak, gee hy haar al die feite en sy neem haar eie besluite. Sommige vroue verkies dit om eers vir ’n paar maande te probeer om vanself swanger te word voor hulle die opsie van skenkereiers oorweeg. Op daardie manier kry hulle berusting indien dit nie gebeur nie, want dan voel dit nie asof iets van hulle weggeneem is nie. Indien die dokters sien haar eierreserwes is baie min – dit kan vooraf met ’n bloedtoets vasgestel word – dring hulle ’n bietjie meer daarop aan om so te keer dat sy te veel van haar tyd mors.

“Wanneer ons skenkereiers gebruik, word die pasiënt se baarmoeder kunsmatig voorberei en dit verklaar ook hoekom skenkereiers so ’n goeie kans op swangerskap gee. Eerstens werk ons met jong eiers, en tweedens kan ons die vrou se baarmoeder kunsmatig voorberei, beter as wat haar liggaam dit kan doen. Ons suksessyfer met skenkereiers is die hoogste van enige vorm van infertiliteitsbehandeling.”

Oorweeg bevriesing

Dr. Van Rensburg moedig jong vroue, wat reeds weet dat hulle eendag ’n gesin wil hê, maar nog nie die regte man raakgeloop het nie, of diegene wat eers aan hul loopbane wil werk, aan om van hul eiers te laat bevries. Dié eiers kan dekades lank gevries bly. Op daardie manier kan jy verseker dat jy gesonde, goeie eiers uit jou eie liggaam kan gebruik indien jy wel later wil swanger word. Die beste tyd om dit te doen is voor 35, maar dis nóg beter om dit voor 32 te doen.

Nie meer die uitsondering nie

Daar is eintlik geen rede waarom gesonde, emosioneel stabiele vroue ouer as veertig nie kan swanger word nie, sê dr. Van Rensburg.

“’n Vrou van twintig wat swanger word, voel dikwels, veral as dit onbeplan was, dat sy van iets ontneem is, want sy wou nog die lewe geniet, of sy wou nog studeer. In haar eie gemoed is sy nog ’n kind. Wanneer jy ouer as veertig is, wil jy meestal niks meer bewys nie, en jy het in jou loopbaan jou toppunt bereik. Jy het waarskynlik reeds die wêreld gesien, klaar gestudeer en emosioneel is jy rustig en kalm. ’n Jong ma is nog baie perfeksionisties en ongeduldig en wil haar kind na haar sin verander.”

“Op veertig het ’n vrou die wysheid om te weet sy wil nie haar kind verander nie, maar bloot elke oomblik van ouerskap geniet. Sy is ten volle toegewyd en dit kan emosioneel baie bevredigend wees.”

Lees ook: Swangerskap, stres en jou werk

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.