Die Suidoosterfees word vanjaar van 29 April tot 3 Mei aangebied. Die feestema is Tuiste en sluit aan by Kaapstad wat reeds meer as twee dekades lank die tuiste van die fees is.
Vanjaar se NATi Teaterfeesprogram gaan feesgangers ongetwyfeld herinner waarom die fees ’n broeikas van innovering en gehalte in die Suid-Afrikaanse kunstewêreld is.
Suidoosterfees se vlagskip-drama in 2026 is Eugene. In Saartjie Botha se poëtiese verhoogverwerking van Kirby van der Merwe se veelbekroonde roman neem Nico Scheepers se regie die gehoor op ’n stylvolle reis saam met ’n man wat tussen wêrelde leef.
Carlo Daniels is in die titelrol en Lynette du Plessis en Van der Merwe self (in hoedanigheid as skilder) is ook op die verhoog. Eugene kyk met ’n fyn oog na gemarginaliseerde manlikheid, geestesgesondheid en trauma, en verweef temas van liefde, haat, vertroue, verraad en vergifnis. Dié drama word deur die fees as ’n ko-produksie met Vrystaat Kunstefees en Toyota Stellenbosch Woordfees aangebied.

(Foto: Gys Loubser)
Sandra Prinsloo is op die planke in Die ander dogter, gebaseer op Annie Ernaux se teks wat deur Naòmi Morgan vertaal en deur Saartjie Botha vir die verhoog verwerk is. Lara Foot is die regisseur.
Die ander dogter gaan oor ’n skokkende ontdekking wat ’n vrou oor iets in haar kinderjare maak, en word beskryf as ’n ragfyn ondersoek na skuld, familie en verlies. Met Wolf Britz se ontwerp en beligting word dit in ’n intieme ruimte aangebied waar stilte, herinnering en die onuitgesproke emosies van ’n gesin weerklank vind.

Die geliefde teaterveteraan Frank Opperman is te sien in twee produksies wat elk op hul eie manier die menslike kondisie verken. In Carla Smith se CRYBABY deel hy die verhoog met Nicole Holm, Wian Taljaard en René Cloete. ’n Dagsorgsentrum word hier die afspringplek vir ’n absurde tragikomedie waarin ’n kind binne sekondes verouder onder die sware las van nuus, koeranthoofopskrifte en ’n wêreld wat uitmekaarval.

(Foto: Gys Loubser)
In Eerste vir alles deur Wessel Pretorius speel Opperman teenoor Margit Meyer-Rödenbeck. Hulle vertolk die karakters Adam en Eva wat eeue ná die val van die Paradys terugkyk op liefde, kinders en huishou, en wonder of hulle kans sien vir nóg ’n lang pad saam. Dis ’n komedie oor oudword, ou wonde en ou appeltjies wat steeds geskil word – veral as iemand jou nog ’n ribbebeen skuld.

(Foto: Gys Loubser)
Pieter-Dirk Uys, een van Suid-Afrika se grootste ikone, bring weer sy onmiskenbare teenwoordigheid na die Suidoosterfees met twee produksies wat wys hoe skerp satire en medemenslikheid pasmaats is. In Evita @ 90 is die 80-jarige Uys te sien as die 90-jarige Evita Bezuidenhout wat haar mond vol het oor Suid-Afrika se verlede, en haar oor uitleen vir die TikTok-vrae van haar kleinkinders. Met humor en wysheid herinner Evita ons hoekom onthou saak maak, en hoekom die hede soveel meer verrassend as die verlede is.
In The Echo of a Noise deel Uys oomblikke uit sy lewe met sy aansteeklike humor en inspirerende wyshede – ’n lewensverhaal wat snaaks, hartseer en aangrypend is en die gehoor ongetwyfeld gaan meevoer.

(Foto: Hentie van der Merwe)
Die Suidoosterfees het ’n aantal produksies help ontwikkel wat die NATi Teaterfees se hartklop verdiep. In Joshlin: Meer as ’n naam, moontlik gemaak deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en vervaardig met die ondersteuning van Tribuo en die Proscenium-dramakompetisie, bring ’n ensemble jong akteurs die verhaal na die verhoog.
Herschelle Benjamin se teks oor die meisie wie se storie Suid-Afrikaners steeds aan die hart gryp, is teater wat indringende vrae stel oor geregtigheid, gemeenskappe, ’n kind wat weggeraak het en nie net uit ons geheue mag verdwyn nie.

(Foto: Gys Loubser)
In Lynthia Julius se Kinderlê tree Miché van Wyk, Theodore Jantjies, Lynette du Plessis en Damian Jacobs op onder Lee-Ann van Rooi se regisseurshand. Hulle bou letterlik ’n wêreld op die verhoog waar geskiedenis, verlies en geloof ongemaklik teen mekaar skuur en waar “gee en terugvat” ’n wond word wat nie maklik genees nie.
A Woman Alone met Kim Engelbrecht is ’n aangrypende monoloog uit Franca Rame en Dario Fo se werk. Deur satire en rou emosie word die lewe van ’n huisvrou oopgeklief tot by daardie plek waar onderdrukking, bevryding en sosiale kommentaar mekaar oorvleuel.
Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene is ’n ontroerende toekomsverhaal oor ’n wêreld waar mense slegs 140 woorde per dag mag gebruik. Mienke Ehlers en Dean John Smith is in die rolverdeling. Kanya Viljoen het die oorspronklike teks van Sam Steiner vertaal en sy behartig ook die regie. Die produksie ondersoek liefde, vryheid en die krag van mens se stem wanneer taal sélf gevaarlik raak.

Benewens nuwe werk bring die NATi Teaterfees ook supergewilde produksies na die fees wat gehore reeds op die plaaslike feestekringloop gaande het. Seun, met Wilhelm van der Walt, is gebaseer op Dana Snyman se boek, en Nico Scheepers is die regisseur. Dié trefferdrama delf in die 1980’s-era van diensplig en stel die priemende vraag: Hoe word ’n seun ’n man?

(Foto: Gys Loubser)
In Ek is nie Danie, ’n wegholtreffer by die Toyota Stellenbosch Woordfees verlede jaar, neem Albert Pretorius en Schalk Joubert gehore op ’n reis deur poësie, musiek en ouerskap. Dit is rock-teater wat uit Danie Marais se poësie put en fokus op die skrapnel wat ’n alledaagse bestaan versplinter.

(Foto: Gys Loubser)
Huis van sand, wat die Reinet Nagtegaal-teksprys in 2025 aan Dianne du Toit Albertze besorg het, het Tinarie van Wyk Loots, René Cloete, Kristen Raath en Jefferson J. Dirks-Korkee in die rolverdeling. Die drama speel af in ’n karavaan buite Springbok waar herinneringe ’n stofstorm tussen die karakters laat opwarrel en die gehoor op ’n verbeeldingsvlug neem tot waar die horison dynserig begin word.

(Foto: Nardus Engelbrecht)
Ont- is Wessel Pretorius se bekroonde solostuk met Wian Taljaard. Die verteller lê herinneringe uiteen soos familiefoto’s en neem bestek op van verlies, identiteit, pyn en vreugde. Dié suksesvolle produksie word tereg as een van Afrikaanse teater se ikoniese werke beskou.
Nog stukke wat nuwe wêrelde open, is The Fool’s Guide met Andrew Buckland. Dié geniale kunstenaar ondersoek daarin die invloed van tegnologie, sosiale media en KI op die moderne mens se lewe.
In Die olifant, aangebied in samewerking met die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement, bevind akteurs soos Petrus du Preez, André Gerber, Antoni Schonken en Jeanne-Marié Koekemoer hulle in ’n absurde wêreld waar burokrasie heers – met komiese nagevolge. Elana-Marié Snyman dra vele hoede agter die skerms as regisseur, ontwerper en poppemeester.
Ek en jy, tot laat toe is Zubayr Charles se jongste drama met Anzio September en Abdullatief Davids. Carlo Daniels, die ster van Eugene, behartig die regie van dié stuk waarin ’n onverwagse besoek lei tot die afrekening van jare se onuitgesproke gevoelens tussen ou vriende.
In Kom fietna saam Mareldia met Gaireyah Fredericks en Celeste Matthews Wannenburgh, word Ummi se huis en stories die terrein van ’n botsing tussen generasies, eerlikheid en dit wat onder die mat ingevee word. Lee-Ann van Rooi se regie en Adil Dante se musiekregie vorm die raamwerk vir hierdie verhaal wat gebaseer is op vier stories uit Fredericks se bekroonde bundel Een voet innie kabr.
Marion Holm en Dean John Smith is die sterre van Kry vir jou ’n tux, Thomas deur Retief Scholtz. Holm speel die karakter Tessa, wat ’n toekenning vir lewenslange bydrae moet ontvang, maar dan botweg weier om na die geleentheid te gaan. Thomas (Smith) moet dan alles in sy vermoë doen om haar te oortuig om tog gesig te wys.

(Foto: Nardus Engelbrecht)
Out of Bounds met Rajesh Gopie en geregisseer deur Bertina Johnson, neem die gehoor na Durban in die tagtigerjare van die vorige eeu. Gopie se hartroerende eenmanstuk oor grootword, identiteit en kultuurtrots is al wyd in die buiteland opgevoer.
Verwelkingslied is terug by die Suidoosterfees op publieke aanvraag. Dié produksie wat in 2025 die fees se vlagskipdrama was en gehore diep geraak het, is Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk wat spesiaal vir die fees geskryf is. Antoinette Kellermann en Dawid Minnaar skitter op die verhoog met Marí Borstlap agter die gordyne as regisseur en ontwerper.

(Foto: Gys Loubser)
Die Suidoosterfees brei vanjaar verder uit as Kunstekaap, die tradisionele spilpunt van feesaktiwiteite, met verskeie nuwe venues wat benut word. Volledige besonderhede is op die feesprogram, wat nou op suidoosterfees.com beskikbaar is, en kaartjies kan deur Webtickets bespreek word.
Die NATi Teaterfees word moontlik gemaak deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi), die Festival Enterprise Catalyst (FEC), die Jobs Fund en Het Jan Marais Nationale Fonds. Die hoofborge van die Suidoosterfees is die Wes-Kaapse regering en die provinsie se Departement van Kultuursake en Sport, Stad Kaapstad, Netwerk24, Die Burger, NATi, kykNET, die ATKV, die Nasionale Kunsteraad (NAC) en Kunstekaap.
