kategorieë: Ouerskap

Tieners en stilstuipe

Die skim in die huis

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Gustav* (16) ly nou al 13 maande lank aan stilstuipe. Hy het ’n vreemdeling in sy ouerhuis geword. Emosioneel het hy hom van sy ouers losgemaak en weier om uit sy eie met hulle te praat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy ma vertel: “Gustav was van kleintyd af nie ’n praterige kind nie, maar het tog alles met ons gedeel. Hy was ’n liefdevolle kind wat aan al ons bedrywighede meegedoen het. In die middel van sy graadnegejaar het ons hom eenkeer teëgegaan oor iets onbenulligs en van toe af het hy hom begin onttrek. Met sy ouer susters en vriende het hy steeds ’n goeie verhouding.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Dit het my en my man geweldig ontstel en ons het op ’n mooi manier probeer vasstel wat fout is, maar Gustav weier botweg om daaroor te praat. Hy haat konfrontasie en is onmiddellik geïrriteerd wanneer ek probeer uitvis wat aangaan. Dit lyk asof hy ’n stil woede in hom saamdra, en ons as ouers nie kan verdra nie. Waar hy vroeër toegelaat het dat ek hom soms spontaan ’n drukkie gee, skram hy nou van my af weg asof ’n slang hom wil pik.

“Die atmosfeer in die huis het gespanne geword. Ek en my man het dit veral aan die begin maar moeilik hanteer. Ek kan nie eens onthou hoeveel trane ek al oor my seun gestort het nie. Dit voel amper asof ek my kind verloor het. Hy is ’n skim wat in stilte sy gang gaan. Ek bly myself gesel met die vraag ‘wat het ek verkeerd gedoen en hoe kan ek dit regstel’?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Die eerste ses maande was die moeilikste. Die aanpassing met ’n kind wie se lyftaal sê ‘ek hou nie van julle nie, los my uit’, was moeilik. Sy woordeskat bestaan grootliks uit ‘uhm’, ‘oukei’, ‘makiesakie’ of ’n kopskud. Sy hele houding is een van ‘ek gee nie ’n duiwel om nie, doen wat julle wil.

Hoewel Gustav nie soveel ure voor sy boeke sit nie, het sy skoolwerk gelukkig nie veel daaronder gely nie.

“Ek knoop steeds geselsies met hom aan al praat ek teen ’n muur, en sê ook ek is lief vir hom. Ek bid so dat my kind binnekort weer sy ou self sal word, dat dié fase net moet verbygaan, want ek smag daarna om hom terug te hê.”

In ’n toe dop

Nadat hulle na ’n nuwe huis getrek het, het Cara* haar geleidelik aan haar ma begin onttrek. Haar ouers is geskei en die 14-jarige Cara het al stiller geword en haar dae agter ’n toe kamerdeur geslyt.

“Cara is die jongste van my drie kinders,” vertel haar ma. “Sy is ’n introvert maar ons het altyd gemaklik gesels en goed oor die weg gekom. Sy is ’n stillerige maar maklike kind. Omdat ek voldag gewerk het, het ek eers ná ’n paar weke agtergekom dat sy haar emosioneel en fisiek al hoe meer onttrek.

Die gesels het net op ’n dag opgedroog. As ek laat smiddae by die huis kom, of wanneer ek naweke tuis was, het Cara meestal in
haar kamer gesit en musiek geluister en haar glad nie aan my gesteur nie.

“Ek het ’n paar keer vir haar gevra wat fout is, maar sy het dit altyd afgemaak as niks; net gesê sy’s ‘oukei’, of ‘daar is niks fout nie’. Sy wou nie oor haar probleem praat nie. Sy’t geïrriteerd geword as ek karring, en ek het haar maar uitgelos omdat ek gedink het dis haar manier om haar probleem te verwerk. Maar die stilte in die huis was oorverdowend. En ek kon haar op geen manier bereik nie wat my hulpeloos en moedeloos laat voel het. Ek het dit as ’n tienerfase
beskou wat sou verbygaan, hoewel dit nie lekker was nie.”

Cara het ook in hierdie tyd net donker klere begin dra. Meestal swart. Sy wou nie helder kleure dra nie en was morbied. “Ek het besef dis nie die norm vir jong meisies nie en dat dit seker haar gemoedstoestand uitbeeld,” vertel haar ma.

“Cara was vriendelik teenoor ander mense, ook teenoor haar broer, suster en maats. Maar teenoor my was sy geslote. ’n Toe boek. Sy wou nie toenadering of liefde hê nie. Sy’t haar liefde uitgestort op ons hondjie en hom vertroetel.”

Die weke het maande geword en Cara het passief en stil haar gang gegaan. Sy’t huiswerk gedoen, maar was lusteloos in alles wat sy gedoen het. Gelukkig het haar skoolwerk nie te veel daaronder gely nie.

Eers toe hulle ná amper ’n jaar weer trek, dié keer na ’n kleiner plek, het Cara weer geleidelik haar ou self geword. “Dis asof die kleiner ruimte en die verandering van omgewing positief op haar ingewerk het. Sy het weer met my begin gesels. Ná nege maande se afsondering en stilte was dit wonderlik dat my kind weer begin lus lyk het vir die lewe. En die belangrikste was dat ons weer soos ma en dogter kon gesels. Daarom is ek innig dankbaar dat ons vandag, ná al die jare, ’n wonderlike verhouding het.”

Die lewe skuld hom

Vir ’n jaar en ’n half, vanaf sy graadtienjaar tot begin matriek, het Marco* ongeskik teenoor sy ouers en sussie geword. Hy wou nie in hul geselskap wees nie en wou nie met hulle praat nie. Gesinskuiers was taboe, maar tussen sy vriende was hy kaatjie van die baan.

“Marco is ’n ekstrovert en die ommeswaai in sy houding het geleidelik gekom. Hy was in die koshuis en het naweke net voor die TV gelê en saam met sy vriende na partytjies gegaan. Sy vriende se ouers was cool in sy oë, maar ons was volgens hom te eng, te simpel, te konserwatief, te streng en wou hom niks toelaat nie. Hy was kortaf met ons en het geen oogkontak gemaak nie,” vertel sy ma.

“Ons het probeer vasstel wat met hom aangaan, maar jy kon netsowel met ’n klip gepraat het. Enige konfrontasie het in ’n woordewisseling ontaard. As ouer bly jy aan die verloorkant, want hy word net ongeskikter of kry stilstuipe. Hy het ook stokstyf gestaan as ons hom Vrydagmiddag of Maandagoggend groet en van ons aanraking weggebeur. Die atmosfeer in die huis was naweke ongemaklik – in so ’n mate dat my man gesê het dat hy soms nie eens lus was om huis toe te kom nie.

“Ek het my af dae gehad op die emosionele roller coaster waarop ek gesit is, maar kon dit op ’n manier beter hanteer as my man wat ons seun se houding glad nie kon kleinkry nie. Daar het wel baie trane gevloei. Ek het bly voel dat ek as ouer gefaal het.”

Marco se skoolwerk het verswak. Dit was asof hy gevoel het die lewe skuld hom iets en hy wou aan almal wys hy gee nie regtig om nie.

Ná 18 maande van passiewe aggressie teenoor sy ouers het Marco in sy matriekjaar geleidelik weer sy ou self begin word. Hy het ook besef dat sy ouers nie so eng en mislik was as wat hy gedink het nie.

Vandag het hulle ’n goeie verhouding en is die huis weer ’n lekker tuiste waar daar gelag en gesels word.

Hoekom tieners stilstuipe kry

“Kinders gebruik stilstuipe as ’n manier om seker te maak dat jy as ouer hulle uitlos en minder op hulle fokus. In sommige gevalle gee dit die kind die gevoel van beheer en mag oor die ouers,” sê Bettie Rall, voorligtingsielkundige van Kaapstad.

“By seuns en meisies sien ons dat hulle soms so magteloos voel dat hulle stilstuipe moet gebruik om hul posisie te herstel. Ons sien dit veral by kinders wie se ouers te veel beheer wil uitoefen, en ouers wat nie regtig na hul kinders se siening, menings en behoeftes luister nie. In sommige huise word tieners nie toegelaat om ’n mening te hê nie en geld net een reël: ‘omdat ek so sê!’”

Bettie sê kinders gebruik stilstuipe om ouers emosioneel af te pers en sleg te laat voel. Hoe erger ouers daarop reageer, hoe beter en langer werk die stilstuipe.

“Ouers moet besef dat tieners se prefrontale korteks nog nie ontwikkel het nie en hul insig beperk is. Stilstuipe is die beste vaardigheid waaroor hulle beskik om die magsposisie vir hulself te herstel. Hulle ontwikkel op soveel ander vlakke dat so ’n tiener baie alleen voel en dink dat niemand hom verstaan nie. Daarom gaan dit nie help om te praat nie.”

Stel in jou kind se wêreld belang

Dr. Kevin Leman, internasionaal bekende sielkundige van Tuscon, Arizona, asook radio- en TV-persoonlikheid, sê in sy boek Have a New Teenager by Friday dat baie ouers onder stilstuipe deurloop: die skouers wat opgetrek word en antwoorde soos “oukei”, “goed”, “niks nie”, wanneer jy ’n geselsie probeer aanknoop. Hy sê as jy wil hê jou kind moet met jou oor enigiets praat, moenie vrae vra nie. Raak eerder rustig by sy wêreld betrokke. Praat oor die dinge waarin hy belang stel, al stel jy nie daarin belang nie. As jy jou kind op sy belangstellingsveld ontmoet, sal hy gewilliger wees om te praat, want daarmee sê jy ook: “Ek is lief vir jou. Ek gee om vir jou en dit waarin jy belang stel, is vir my belangrik.” Deur nie vrae te vra nie, sal jy baie meer oor jou kind en sy wêreld leer.

Raad aan ouers

Omdat die tiener besef hy het mag oor die ouer deur nie te praat nie, kan hy dit gebruik om die ouer te manipuleer. Daarom moet jy nie te hard daaraan werk om die kind aan die praat te kry nie.

Gee eerder duidelike boodskappe, soos “stilstuipe gaan nie die probleem oplos nie, maar wanneer jy gereed is om te praat is ek hier vir jou”. En dan die belangrike gevolg: “Tot dan, geen selfoon vir jou nie”, of “totdat jy praat, is daar geen voorregte soos die gebruik van tegnologie nie”. Deur dit te ignoreer en ’n gevolg te skep, verander jy die magsposisie. Op die manier het die kind iets om hom te motiveer en die probleem op te los.

Moenie tot die kind se vlak daal nie. Jy beveg nie stilstuipe met stilstuipe nie. Sorg dat die kommunikasiekanale in jou huishou-ding oop is. Skep van kleins af geleenthede waar die kinders openlik met jou kan kommunikeer.

Gun aan jou tiener ruimte om sy eie menings en verwysings-raamwerke te ontwikkel en waar daar geen outokratiese onder-drukkende praktyke of seksistiese raamwerke en praktyke is nie.

Dit is belangrik dat daar huisreëls moet wees en dat die kind dit moet gehoorsaam. Die huisreëls moet ’n gesamentlike ooreenkoms tussen alle gesinslede wees. Kinders wat ooreenkom om huisreëls na te kom en wat deel is van gesinsinteraksie is minder geneig om passief aggressiewe tegnieke soos stilstuipe te probeer.

Indien jou kind van kleins af toegelaat is om in beheer te wees, en waar daar nie genoegsame dissipline toegepas is nie, gaan dit moeilik wees om die situasie om te swaai en moet jy moontlik ouerleiding oorweeg. Indien daar rooi ligte van depressie of trauma is, kry dadelik professionele hulp.

Verrassende feite

Seuns en meisies kry ewe veel stilstuipe.

Stilstuipe by tieners kom gewoonlik meer in hul vroeë tienerjare (14 tot 16) voor omdat ouer tieners meestal die vermoë ontwikkel om positiewer te kommunikeer.

Hoe meer emosionele vaardighede en emosionele intelligensie ’n kind het, hoe minder is dit vir hom nodig om stilstuipe te gebruik om sy behoeftes te bevredig.

Stilstuipe is ’n passief-aggressiewe patroon en moet aandag kry, want dit kan jou kind later in die lewe skade doen wanneer hy dieselfde metodes in ander verhoudings gebruik.

Lees ook: Druk jy jou kind tot in die rooi?

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.