kategorieë: Verhoudings

Gee jou huwelik ’n tweede kans

“Hoe op aarde het dit met my gebeur? Ek kan nie glo ons gaan skei nie. Dis mos onmoontlik? Almal het gedink ons pas so goed bymekaar en ek was so seker dat ons vir mekaar bedoel is, dat ons liefde alles sal kan hanteer. Aanvanklik was ons saamwees betowerend, wonderlik. Maar daardie gevoel het met die jare vervaag en weggesyfer … Daar was al hoe minder vonkeling, intimiteit en nabyheid. Al wat meer geword het, was die irritasie, die verskille wat geskille geword het, die verwyte, die koue, kille afstand en ons verwydering … ”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

As jy nie self dié soort verwydering beleef het nie, ken jy waarskynlik tientalle pare wat die doodloopstraat van kille afstand en verwyte tot by die skeihof geloop het. Dit het die teken van ons tyd geword, onafwendbaar, tensy jy betyds besef waarheen jy op pad is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die Amerikaanse skrywer, akademikus en huweliks- en gesinsterapeut William Doherty sê jy kan byna enige huwelik binne twee jaar vernietig deur net twee dinge te doen: Fokus gedurig op wat jy nie in die huwelik kry nie, en op die wyse waarop jou huweliksmaat nie aan jou verwagtinge voldoen nie; nie vir jou gee wat jy so nodig het, of wat jy verdien nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hoe groter die obsessie met wat jy nie kry nie en op jou huweliksmaat se foute, hoe gevaarliker. En die hartseerste is dat die een wat dit doen, nie besef waarmee sy besig is nie. Nie tot dit te laat is nie. Dis ’n stadige, maar seker pad met min waarskuwingstekens dat dit ’n doodloopstraat is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Anja* se storie

“Ek weet Jaco* is lief vir my, maar hy is so besig met sy eie dinge. As ek sê die verhouding is nie meer dieselfde nie, sê hy dis my probleem. Hy verstaan nie dat hy my nie gee wat ek nodig het nie. En hy wil nie hieroor praat nie. Ons baklei nie. Ons behandel mekaar met respek en bedagsaamheid. Hy help met huishoudelike take. Wat wil ek meer hê? Hy hoor nie wat ek regtig sê nie en maak dit af. Dis asof dit nie vir hom saak maak dat ek voel ons het twee vreemdelinge geword wat ’n bed deel nie.”

Anja het uitgetrek toe hy weier om ’n terapeut te gaan spreek. Jaco het gedink hy tree reg op: Hy drink nie, is getrou, vriendelik, ondersteunend en opbouend. Wat wil sy meer hê? Hy doen niks wat haar ongelukkig kan maak nie. Maar hy het ook min gedoen om haar gelukkig te maak.

Neem geslagsverskille in ag

John Gray, skrywer van die topverkoper Men are from Mars, Women are from Venus, skryf dat mans en vroue heeltemal verskillend kommunikeer en verskillende behoeftes het. Ons verwag dikwels van ons huweliksmaats om soos ons te dink, voel, kommunikeer of reageer.

Mans wil voel hul vroue vertrou hulle, ook met hul besluite en oordeel. As ’n vrou vir ’n man ongevraagde advies gee, voel dit vir hom sy dink hy weet nie wat hy doen nie, of doen dit nie goed of reg nie. Mans waardeer nie ongevraagde raad of kritiek nie. As iets ’n man pla, sal hy meestal daaroor loop en broei en nie daaroor praat nie.

Aan die einde van die proses, as hy ’n oplossing gekry het, sal hy die resultaat kommunikeer. Wanneer hy daaroor praat, wil hy gewoonlik hulp of raad hê. ’n Man het ruimte nodig om deur sy eie denkprosesse te werk. Om aan te dring dat hy nóú met jou daaroor moet praat omdat jy kan sien iets pla, help nie.

Vroue werk net mooi anders. Sy wil voel dat hy na haar luister en verstaan. Sy wil praat oor die dinge wat pla, haar gevoelens deel. Dis haar verwerkingsproses. As sy praat, beteken dit nie sy soek raad of hulp nie. Sy wil net verstaan word. As hy haar onderbreek en oplossings gee, voel dit of sy nie gehoor en verstaan word nie. Om te hoor: “Dis nie so erg nie, kom ons vergeet dit en gaan aan,” help nie. Inteendeel, dit laat haar voel hy verstaan glad nie en maak haar gevoelens as onbelangrik af.

Liefdesbehoeftes verskil

Gray sê ook dat mans en vroue heeltemal verskillende liefdesbehoeftes het. Sy wil voel dat hy vir haar omgee en sorg; dat hy luister, haar verstaan en respekteer; dat hy geheg is aan haar en dat sy vir hom ’n baie hoë prioriteit is. Verder wil sy die versekering hê en dikwels hoor dat hy dink sy is mooi, maer genoeg en spesiaal en dat hy haar liefhet – al die goed wat aan die begin van die verhouding teenwoordig was.

Mans het ander behoeftes en wil eerstens voel dat sy hom vertrou en aanvaar. Hy wil voel dat hy gewaardeer word vir wie hy is en vir al hy harde werk om die gesin te onderhou. Hy wil voel dat sy hom bewonder en erkenning gee vir sy beskerming en versorging van die gesin. Hy soek goedkeuring en aanmoediging.

Maar die ironie is dat dit wat vroue vir hul mans gee, eintlik hul eie behoefte is, omdat dit die taal is wat hulle verstaan. Sy wil hê hy moet praat sodat sy hom kan verstaan en begryp. Sy versorg hom goed en verseker hom van haar liefde en toewyding. Mans gee weer vir hul vroue wat hulle so graag wil hê. Hy vertrou, aanvaar en bewonder haar.

Op dié manier mis hulle mekaar en kry nie een wat hy of sy graag wil hê nie. Wat glad nie beteken dat hulle mekaar nie lief het nie. Maar gee sy vir hom wat hy wil hê, is die kans goed dat sy sal kry wat sy wil hê.

Die verbruikersmentaliteit

Ons huwelike word ook ondermyn deur die tydsgees waarin ons leef. In ’n individualistiese, ek-georiënteerde verbruikersamelewing is my geluk, belange en behoeftes al wat werklik saak maak. Ons het regte en hoef nie met die tweede beste tevrede te wees nie. As iets nie meer werk nie, herstel ons dit nie. Dit vat te veel tyd. Ons gooi dit weg en vervang dit deur iets beters. As die huwelik nie werk nie, dan skei ons maar. Vriende, familie, die media en selfs terapeute ondermyn ook dikwels huwelike met opmerkings soos: “Wat hou jou in dié huwelik? Waarom het jy nog nie jou goed gevat en geloop nie?”

Dit stroop die huwelik van toewyding en ’n verbintenis tot daadwerklike pogings om in die huweliksgeluk te belê en dit te maak werk.

Vermy die volgende slaggate op jou huwelikspad

In die volgende slaggate lê hartseer, onvervuldheid en ’n goeie kans dat dit ook jou huwelik voor die skeihof kan laat parkeer – met ’n boetekaartjie waaraan jy lank sal betaal.

  • Gebrekkige kommunikasie: ’n Huwelik is in die moeilikheid as huweliksmaats nie meer werklik kan gesels nie – as al die gesprekke net oor die kinders gaan en gestroop is van intimiteit.
  • Swak konflikhantering: Daar is konflik in enige huwelik, maar geliefdes mag nie meer oorlog as liefde maak nie. As die fokus in die konflikhantering slegs op die idees en belange van een huweliksmaat geplaas word, ontstaan daar probleme. So ook as konflik vermy word, of een party onttrek en opkrop, of as konflik ’n moddergooiery is wat nie by oplossings uitkom waarmee albei partye gemaklik is nie.
  • Persoonlikheidsverskille wat maak dat net die een se voorkeure in ag geneem word: “My sin vir orde en netheid is die enigste geldige reël waarvolgens dinge in die huis gedoen word.”
  • Die kinders kom eerste-benadering: Die grootste geskenk wat jy jou kinders kan gee, is ’n gelukkige huwelik. Die sekuriteit en stabiliteit van die huwelik gee jou kinders hul sekuriteit en stabiliteit. Natuurlik moet die huwelik aanpas om ook in die kinders se behoeftes te voorsien, maar die huwelik kan nie ter wille van ouerskap skipbreuk ly nie. Moenie toelaat dat die kinders al jul tyd opslurp nie. ’n Ma kan so maklik voel dat haar kinders haar nodiger as haar man het.

Kies weer jou huwelik

1 Weier om te aanvaar dat jou huwelik gedoem is tot mislukking of middelmatigheid. Dring daarop aan dat julle albei hulp kry. Om nie hulp te kry nie, is soos om nie dokter toe te gaan as jy siek is nie. Wees eerlik met jouself en begin by jouself. Aanvaar dat een mens nie aan al jou behoeftes kan voldoen nie. Maak aanpassings en gee wat hy nodig het. Kommunikeer duidelik wat vir jou onaanvaarbaar is, maar ook dat jy toegewy is aan die verbetering van die verhouding. Moenie magspeletjies speel nie.2 Kies jou woorde met wysheid. Woorde breek af waar geen stok of swaard kan bykom nie. Met die regte woorde en bedoeling kan moeilike situasies omgetower word; kan jy liefhê met passie en teerheid, kan jy vrede en hemel op aarde skep. Of jy kan julle vasketting met jou eie sinisme, negatiwiteit en die verdoemenis en hel op aarde leef wat jy sien en praat.

3 Fokus jou energie op die resultaat wat jy wil bereik. Jy kan nie noord, in die rigting van mynhope ry as jy eintlik by die sonsee van Kaap de Goede Hoop wil uitkom nie. Op dié manier sal jou poging om te vernuwe en reg te maak, jou nie laat vassit in die modderverwyte vir alles wat in die huwelik verkeerd is nie. Negatiwiteit is aansteeklik en steel hoop, energie en die moontlikheid van verandering.

4 Gee wat jy wil ontvang: As jy intimiteit wil hê, gee intimiteit en raak aan hom. As jy aanvaarding wil gee, aanvaar hom en waak teen kritiek. As jy liefde, respek of geduld wil hê, gee dit.

5 Aanvaar jou maat met al sy eienaardighede en tekortkominge wat nie kan verander nie. Moenie hom immer kritiseer en probeer verander nie. Vergewe sy foute. Vergifnis is die sement van ’n verhouding. Moenie dinge so erg persoonlik opneem en kritiek in elke opmerking lees nie.

6 Kommunikeer jou behoeftes duidelik en maak seker wat syne is. Moenie aannames maak nie. Jy neem dalk te maklik aan dat hy die lewe en probleme soos jy behoort te sien, of moet voel soos jy voel. Of dat as hy regtig omgee, hy behoort te weet wat jy wil hê en hoe jy wil voel. En dan glo ons boonop dat ons reg is en verdedig ons standpunt en verontregting. Kyk ’n bietjie deur sy oë en wys dat jy luister.

7 Neem verantwoordelikheid vir jou eie huweliksgeluk. Moenie jou ouers, kinders, werk, of jou huweliksmaat vir jou ongelukkigheid kwalik neem nie, want so bly jy ’n slagoffer wat uitgelewer is aan ander se invloed op jou geluk en huwelik.

8 Maak jou huwelik ’n prioriteit waaraan jy baie tyd en nadenke bestee. Ons beplan en stel doelwitte vir ons loopbaan, finansies en selfs vir ons aftrede, maar laat na om dit ook vir ons persoonlike groei, spiritualiteit en verhoudings te doen.

9 Koester jul liefdesrituele: Doen weer die dinge wat julle na mekaar toe aangetrek het en na aan mekaar laat voel het: Gaan alleen uit, fliek, dans, eet by kerslig, gesels, stap … Doen moeite om spesiale dae en geleenthede te vier. Gesels oor hoe julle jul sekslewe opwindender kan maak.

10 Geniet en waardeer die goeie wat jy het. Sien sy pogings raak en gee erkenning vir wat hy vir jou doen en gee, al is dit nie volmaak nie.

Lees ook: Huis, paleis, aftree-oord… 8 dinge wat jy moet weet

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.