kategorieë: OuerskapJou lewe

Tieners op tiermelk: Wat ouers moet weet

Drank is groot by optredes en musiekfeeste – van Plett Rage tot Rocking the Daisies. Noem maar op.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Volgens die Wits School of Public Health drink 12% van kinders jonger as 13. Narconon sê 35% van ons tieners drink en 29% van ons tieners binge. Drankvergrype is die skadelikste vir die brein – spesifiek vir die tienerbrein wat nou sy finale ontwikkeling deurgaan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ons volwassenes stel geen voorbeeld nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beskou ons as ’n land van harde drinkers met van die hoogste drankverbruik ter wêreld, gemiddeld 12 bottels wyn per persoon per maand, of 3 bottels per week. Dit werk uit op 18 glasies per week. Die grens vir veilige gebruik is een glasie per dag vir vroue en twee vir mans, of 7 en 14 per week, of sowat vier bottels per maand vir ’n vrou en agt vir ’n man.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die WGO gee ons 4/5 vir binge drinking, wat beskryf word as die aantal mense wat gereeld vyf of meer glase wyn (mans) of drie (vroue) per sitting drink. Drie? Ja, drie is binge.

Boonop is drank goedkoop en vrylik beskikbaar. Tieners wat nie saans kan of mag uitgaan nie, kan nog altyd “dagdronk” raak, omdat jy dit “verdien”, want jy werk so hard.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ons tieners is in ’n rillersituasie. ’n Mens kan hulle eintlik nie verkwalik dat hulle te onervare en ontoegerus is om die druk te hanteer nie.

Keer of leer slukkies hulle?

Die meeste van ons drink gesond. Maar hoe leer jy dit vir jou kind? Wat sê dit as jy vir jou 16-jarige ’n drankie aanbied? Klein glasies skink vir die jonger kinders by Kersete? Kleintjies ’n slukkie van jou eie drankie gee? Stel jy ’n voorbeeld van hoe gesonde drankgebruik lyk, of leer jy jou kind drink?

Daar is heelwat navorsing oor die effek van kinders se eerste kennismaking met drank op hul drinkgedrag. Party wys dit het min effek; ander ondersoeke wys dit laat tieners gouer vorder na vol drankies en dat tieners wat vol drankies gebruik meer dikwels drankprobleme ontwikkel.

So wys ’n 2015-ondersoek van die Universiteit van Pittsburgh dat kinders wat van jongs af saam “proe” waarskynlik teen graad 9 al dronk was, selfs al is kinders van ouers wat probleemdrinkers is van die ondersoek uitgesluit.

Tertius Cronjé, direkteur van korporatiewe dienste by SANRA, sê die belangrikste boodskap wat jy aan jou tiener oordra, lê in jou eie houding teenoor drank. “As jy tevrede is met die manier hoe jy drink (nie wat jy sê nie maar wat jy dóén), hoef jy jou gewoonlik nie te bekommer nie. Maar oppas as drank die fokus van jou sosiale omgang is. As jy swymel oor ’n bottel rooiwyn, leer jou kind wyn is uiters belangrik en waardevol. As jy saans of by elke viering aankondig hoe bly jy is dis drinktyd, leer jou kind ontspanning, vriendskap en familiebande gaan eintlik oor drankies.

“Wees veral versigtig hiermee as daar depressie of alkoholisme in jou familie voorkom. Dit kan ’n genetiese basis hê, wat beteken dat jou kind ook meer vatbaar vir alkoholisme as ander kinders is.”

Ondanks jou goeie voorbeeld gaan jou kind nogtans met die volgende te make kry.

1 Ek kan ’n bottel ‘Down’

Dit is iets waaroor party tieners spog: hulle drink ’n bottel brandewyn uit en kom niks oor nie.

Dit is ’n illusie, sê Tertius. “Dit voel dalk vir ’n uur of twee so maar die feit is dat die effek van die alkohol álmal ná ’n paar ure oorval.

“Dink aan jou maag as ’n sak met twee kleppe – een waarby kos ingaan en een waar kos na die derms uitgaan. Gewoonlik open die dermkleppie (piloris) sowat vier uur ná jy geëet of gedrink het. As jy vinnig drink, met ander woorde ’n bottel wyn uitdrink asof dit drie glase koeldrank is, bly dit aanvanklik alles in jou maag. Net ’n bietjie word deur die maagwand opgeneem en jy ervaar min effekte. Maar alkohol is ’n spierverslapper en ná sowat twee, drie uur is genoeg opgeneem dat die spiere begin ontspan, onder meer die pilorisklep. Nou stort al die drank op een slag in die dermkanaal. Jou dermkanaal het ’n oppervlak van 30-40m². Dit is so groot soos ses, sewe parkeerplekke. Die alkohol word nou oor hierdie groot oppervlak opgeneem. Dit gaan gou. Daarom sien jy dat iemand een oomblik nog heel nugter is en ’n paar minute later stormdronk is.

“Die persepsie dat jy ‘kan drink’ is uiters gevaarlik. Dit laat toe dat jy glo jy is nugter. Jy drink dus verder. Of jy dink jy is nugter genoeg om te bestuur, en word op pad oorval.

“Die ergste is dat al hou jy op drink, bly die alkohol nog ure lank skade doen aan jou brein. As die drank eers in jou dermkanaal is, kan jy heeltemal niks doen om dit te neutraliseer nie. Selfs in die hospitaal kan hulle maar net sorg dat jy bly leef.”

Wat dan van jou “lewerpilletjies” wat jou lewer ondersteun?

“Jou lewer is soos ’n padtonnel wat net een motor elke twee uur deurlaat. Dit kan net een drankie in twee uur afbreek. Dit is ’n vaste metaboliese tempo en geld álmal. Met ander woorde dit neem almal twintig uur om ’n bottel brandewyn (sowat twintig sopies) uit die gestel uit te werk. Jy is amper ’n dag lank ’n magtelose toeskouer wat kyk hoe stukkies van jou brein doodgaan.”

2 ‘Johnny is nie dood nie, hy’s net uitge-pass

As jy mooi luister na dié liedjie van Koos Kombuis hoor jy Johnny is toe dood. Dit is ’n baie werklike risiko.

Tertius verduidelik dat alkohol die sentrale senuweestelsel onderdruk (verlam) en dus ook jou onwillekeurige spiere, soos jou hartspier wat jou hart aan die klop hou en jou diafragma wat jou outomaties laat asemhaal.

“Mense wat te veel gedrink het, lyk net ‘uitge-pass’ maar is in werklikheid op daardie oomblik aan die sterf. Dit gebeur reg tussen hul maats, wat nie weet wat die tekens van alkoholsterfte is nie. Dit kom meisies selfs makliker oor.”

Wat is die tekens? En wat moet jy doen?

“Hy raak blouerig om die mond – jy sal dit nie sommer in ’n donkerige kuierplek raaksien nie. Sy vel sal koud en klam voel en hy is pap en slaperig. Braking is ’n verdere risiko, want hy kan verstik aangesien sy slukspiere verlam is. Die finale fase is wanneer hulle ophou asemhaal en/of as die hart ophou klop.

“Dit is ’n mediese noodgeval. Moenie tyd mors om hom te probeer bykry of iets soos koffie in te gee nie. Hy moet dadelik hospitaal toe. Onmiddellik.

“Kry hom in die motor, laat hom op sy sy lê, sorg dat hy warm is en jaag hospitaal toe. Probeer intussen sy hart masseer en maak seker dat hy bly asemhaal. Doen mond-tot-mond asemhaling as hy ophou asemhaal.”

3 Skemerkelkie-uur

Baie mense kan nie happy hour-winskopies weerstaan nie. Maar goedkoop is duurkoop. Die slu kuierplekke hoop jy val vas en koop die res van die aand duur drank.

4 Drinkspeletjies

Waar drank goedkoop is, is drinkspeletjies aan die orde van die dag, waarvan die arsenaal oneindig is, sê Tertius.

“Drinkspeletjies is almal op drie konsepte gegrond: vinnige besluite en/of goeie oog-hand-koördinasie en/of vinnige reaksietyd. Drank verswak aldrie. Jy kan nie anders as om te fouteer nie, en moet drink vir jou straf, waarna jy meer fouteer en meer moet drink … hoe dom kan ’n mens wees?

“Vir tieners gaan dit ook oor die kameraderie – daardie ritueel van bonding. Hulle dink dit is age appropriate. Hulle glo dit gee hulle straatstatus. Die meisies wat saamspeel, is nie ‘koeke’ nie en die seuns spog met hul ‘prestasies’.

“Maar dink net vir ’n oomblik na oor wat jy nou eintlik bewys? Dat jy ‘beter dronk’ is as ander? Dit maak jou nie ouliker, mooier, manliker of beter nie. Dit is ’n nie-prestasie.”

Lees ook: Bou of breek jy jou kind se selfbeeld?

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.