kategorieë: Ons menseBekendes

Tim Theron lug (en lag oor) Vuil Wasgoed

Hy is een van ons land se gunsteling- good guys, Tim Theron, maar hy vertolk die rol van ’n bad guy in die opkomende aksie-komedierolprent Vuil Wasgoed, wat op 8 Desember 2017 in fliekteaters landwyd begin draai. Ons het by hom uitgevind hoe hierdie ervaring was …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Kyk hier na die film se lokprent.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Waaroor handel Vuil Wasgoed?

Dit gaan, eenvoudig gestel, oor twee doodonskuldige ouens, Wim en Kevin, wat hul eie wassery besit. Wanneer hulle iemand se afgekapte duim in een van die baadjies kry wat ingegee is by die wassery, begin ’n avontuur/nagmerrie waar hulle ingetrek word by die donker onderwêreld van georganiseerde misdaad!

… Net nie so donker as wat dit klink nie. Dis ontsaglik snaaks!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Jy vertolk die rol van Tom, ’n “hardebaard krimineel”. Vertel ons meer van hom.

Tom is ’n harde man met ’n harde verlede.

Gewetenloos.

Genadeloos.

Tussendeur ’n paar langtermynbesoeke aan die tronk het hy homself opgewerk in Charles Gotty se organisasie, totdat hy uiteindelik Gotty se tweede in bevel geword het, sy “right hand man”. Maar Tom is meer as dit. Hy het soos ’n seun geword vir die ouer man, en Tom is oortuig dat hy die een is wat die organisasie moet oorneem wanneer Gotty aftree. Wanneer dit begin lyk asof dit nie gaan gebeur nie, asof al Tom se jare van harde en vuil werk nie die beloning gaan kry wat hy glo hy verdien nie, besluit hy om reg in eie hande te neem. Om te vat wat hom verskuldig is. Die lojale hond besluit om die hand wat hom voer te byt. Hy knip die duim af wat die hele petalje begin!

Hoe het jy in Tom se kop geklim om hierdie booswig te speel?

Ek en Morné (du Toit, die regisseur) het baie gepraat oor die karakter, wie hy is, hoe hy groot geword het, wat die keuses is wat hy in sy lewe gemaak het wat hom tot by die punt gebring het waar ons hom ontmoet. Ons het in soveel detail moontlik gegaan, ons het regtig vir die karakter lewe gegee. Om so in detail ’n karakter uit te skets, veral saam met die regisseur, maak dit baie makliker om in sy kop te klim, om te verstaan wie hy is, en ook die raakpunte tussen jou en die karakter te kry waarop jy kan bou.

Stilfoto uit Vuil Wasgoed

Jy het ook in die oorspronklike kortfilmweergawe gespeel. Hoe verskil dit van die vollengte rolprent (behalwe dat dit natuurlik langer is)?

Die verhaal is nie soveel anders as wat dit net belangrike elemente bygekry het nie. Die kern is steeds daar, dis nou net nog beter, en nog meer entertaining. Die karakters het ook meer kleur en diepte, omdat daar nou meer tyd was om hulle te ontgin en aan hulle te skaaf.

Die belangrike ding is dat die kortfilm snaaks was, en die vollengte film net nog snaakser!

Wat was die snaaksste ding wat op stel gebeur het?

Elke oomblik was snaaks! Ek, Bennie (Fourie) en Bouwer (Bosch) ken mekaar al baie lank, en die res van die cast het ook ontsaglik lekker ge-click. So daar was net hope pret op stel. Ek dink een van die lekkerste oomblikke was toe Ek, Nico (Panagio) en Charlie (Bouguenon) ’n vreemde dansvideo geskiet het, (met Dimitri Balianis wat die kamerawerk doen), terwyl daar net om die hoek aan ’n baie komplekse toneel gewerk is. Dimitri het sommer musiek gaan bysit en dit toe vir ons almal gestuur. Dit was fantasties.

Hoe het jy voorberei vir die aksietonele?

My vorige film was Jagveld, en ons het daar reeds opleiding ontvang voor en tydens produksie oor die gebruik en hantering van wapens, so ek was redelik voorbereid toe ek op die Vuil Wasgoed-stel kom.

Stilfoto uit Vuil Wasgoed

Wat is volgens jou die beste toneel?

Die groot finale is een van my gunstelinge, waar alles en almal bymekaar kom en daar net chaos is.

Wat is Tom se beste wasgoedwenk? En Tim s’n?

Tom: Ammoniak help baie om bloed uit jou hemde te kry. Ek verkies om eerder net ’n nuwe hemp te koop.

Tim: Ek gooi alles maar net in die wasmasjien en hoop vir die beste … Koue water! Ja, daar onthou ek nou ’n goeie wenk. Ek het al klere verloor wanneer dit met warm water gewas word.

Hoe verskil ’n komiese booswigrol van ’n meer ernstige een en hoe benader jy elkeen?

Die interessante ding is dat beide dieselfde gespeel moet word. Dit is juis wanneer jy die karakter so ernstig as moontlik speel dat die toneel snaaks is. As ons op stel ook probeer snaaks wees, dan gaan alles platval. Die dialoog, en die situasies waarin die karakters hulself bevind; dis waarin die humor lê.

Wie is jou gunsteling- booswig in ’n toneel, boek, of fliek ?

Sjoe, ek het baie. Quentin Tarantino kry dit reg om fantastiese baddies te skryf en te skep. Michael Madsen se Mr Blonde in Reservoir Dogs, Christoph Waltz se Hans Landa in Inglorious Basterds, Leonardo DiCaprio se Calvin Candie in Django Unchained ens. ens. ens.

Dink jy dat die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse filmbedryf, onlangs begin verander het? Veral wanneer mens dink aan die wegbeweeg van meestal romantiese komedies na breër genres – soos aksie-komedies en selfs rillers; goed wat eintlik die afgelope paar jaar nooit regtig in Afrikaans vervaardig is nie.

Rom-coms is great, ek is mal daaroor om hulle te kyk, en aan hulle te werk. Maar ons kan onsself nie ’n volwaardige bedryf noem as dit al is wat ons doen nie. Kanse moet gevat word, ander genres moet ontgin word. Dis hoe ons groei, en dis hoe ons beter word in dit wat ons doen. Ek is baie opgewonde oor wat alles tans in ons industrie gebeur, en ook oor die feit dat ons films meer en meer erkenning kry oorsee; Jagveld het by ’n erkende Amerikaanse filmfees gewen, Vir die Voëls by ’n groot Kanadese fees. Vuil Wasgoed het ook nou onlangs by ’n fees in die VSA gewys, as ek dit nie mis het nie.

Wat is jou hoop vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf?

Dat ons sal aanhou groei, aanhou beter word, en so op ’n gesonde, kwaliteit, volhoubare plek sal kom waar ons films maak wat nie net plaaslik gesien word nie, maar ook oorsee – en dat dit groter geleenthede vir ons almal wat op een of ander manier betrokke is by die plaaslike industrie, sal inhou.

Jy het vanjaar vir die tweede keer pa geword. Wat het pa-wees jou geleer?

Wat regtig belangrik is in die lewe. Ek kan werk en werk en werk om suksesvol te wees, groter projekte aanpak, elke hoofrol najaag, baie geld probeer maak – maar aan die einde van die dag is dit elke oomblik saam met hulle, saam met my familie, wat saak maak. Hulle bring wonderlike perspektief in mens se lewe.

Dis moeilik om té vol van jouself te wees, of té opgevang in jou eie belangrikheid as jou seuntjie se doek lek … terwyl jy hom vashou …

Met watter ander projekte is jy nog mee besig?

Ek het ’n klein maar lekker rol in Quentin Krog se nuwe film, ’n Ander Mens, wat tans verfilm word, en dan werk ons ook aan die ontwikkeling van ’n baie groot, baie opwindende projek vir volgende jaar, wat ons hopelik binnekort meer oor sal kan sê …

Wat is die lekkerste ding wat jy al ooit vir ’n film moes doen?

Wow, goeie vraag. Ek het nog nooit hierdie vraag gekry nie! Hierdie gaan cheesy en cliché klink, ek weet, en ek is jammer … Maar ek leef 100% my droom uit. Ek moet myself knyp elke keer as ek op ’n stel aankom. Elke oomblik is die lekkerste oomblik ooit. En ek is ook baie bewus daarvan dat dit alles in ’n oogwink kan weggaan en platval, so ek durf nie blasé raak daaroor nie.

As ek een of twee dinge moet uitlig … Ek dink my groot gevegtoneel met Leandie du Randt in Jagveld was nogal ’n interessante “eerste” vir my – dit was harde werk maar ek het dit baie geniet. Alles wat ek moes doen vir Klein Karoo, want ons was so bewus dat dit ons eerste as vervaardigers is, en dat dit ’n massiewe voorreg is. Om in Jagveld en in Vuil Wasgoed met ’n geweer rond te loop, en dit te kan skiet; daar is steeds ’n jong seuntjie binne my wat dit ontsaglik baie geniet het.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.