kategorieë: Ons menseBekendes

Tracey Lange op ’n drafstap

Tracey Lange op ’n drafstap. Hooffoto: Leana Clunies-Ross

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Tracey Lange op ’n drafstap

deur Suzanne Kotzé. Hierdie artikel het oorspronklik in die November 2018-uitgawe van rooi rose verskyn. Foto’s Leana Clunies-Ross

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Op ’n donker, stormagtige Kaapse oggend bars ’n warrelwind by ons fotoateljee in.

“Jammer ek’s laat,” vra die radio-omroeper en TV-aanbieder Tracey Lange om verskoning. “Die Uber-bestuurder het in ’n paal vasgery!”

Jy sal Tracey ook net in ’n motor sien wanneer ’n storm woed, of as dit stikdonker is, want sy stap waar sy wil wees – of dit nou werk toe, kerk toe of vir ontspanning is. “Wanneer ek stap, neem ek soveel meer waar, ek hoor meer stories en sien soveel mense.”

Tracey Lange op ’n drafstap
Foto: Leana Clunies-Ross

Seepunt en die promenade

Ons eerste foto-stop is die Seepuntpromenade. Tracey durf die koue dapper aan (ons gee darem tussendeur haar jas en warmwatersak aan). Sy verbeel haar maar sy is op ’n tropiese eiland terwyl ons foto’s van haar teen die helder kleedkamermuur neem. Haar energie en uitbundige skaterlag is aansteeklik en lok ’n hele paar bewonderende kyke uit.

“In Seepunt voel ek nostalgies. My eerste blyplek in Kaapstad en eerste werk, by Good Hope FM in die SAUK-gebou, was hier. Ek loop nie sommer by dié gebou verby sonder om in te glip en hallo te sê nie. Ek stap graag op die promenade, reg om die draai, verby die Seepunt-swembad. Daar is ’n wonderlike rustigheid. As dit reën, sit ek graag in my motor en kyk na die woeste branders en luister na die klanke van die see.

“Promenadestappers of -drawwers maak nie juis oogkontak of knoop geselsies aan nie; almal is gefokus op oefening of ‘kop skoonmaak’.”

Om dié rede het Tracey nie so goed in Seepunt geaard nie en Tuine toe getrek. “Ek hou daarvan om met mense te gesels, hul stories te hoor en te ervaar hoe hulle vir my ‘oopmaak’.”

Die vervaardiger van haar ontbytprogram by Kfm 94.5, waar sy deesdae ’n omroeper is, het onlangs vir haar vertel dat hy vier dae al vergeefs ateljee toe gaan om met haar te gesels, maar daar is altyd iemand wat reeds met haar praat. Hy wou toe weet hoekom almal heeltyd met haar wil praat en by haar wil wees.

“Om met mense te praat kom vir my natuurlik, dit was nogal altyd so. Ek het ’n kop vir mense.”

Haar meelewing en opregte belangstelling in mense laat jou besef dat Tracey nie die tipiese stadsmeisie is nie.

“Al bly ek al hóé lank in Kaapstad, vra mense my gereeld van waar ek kom. My grootwordjare in Somerset-Wes het sekere plattelandse waardes by my gevestig, soos om mense te wil help.”

Maar, sê sy, sy is beslis ’n stadsmeisie. “Ek is mal oor Kaapstad; stede oor die algemeen. Ek borrel en bruis in stede.”

Sy en haar kêrel van die afgelope vier jaar, Avukile Mabombo, het onlangs in Thailand vakansie gehou. Die natuurskoon en rustigheid van die Phi Phi-eiland was wonderlik, maar sy het vir byna ’n uur onophoudelik gesels toe hulle in Bangkok land. Avukile sê toe later: “Ja, dit is die stad, nè? Dit skakel jou aan.”

Foto: Leana Clunies-Ross

Koffie in die middestad

Tracey was gaande daaroor om in Tuine te bly. “Die mense is vriendelik en daar is iets omtrent die berg, ’n kragtige stilheid wat my rustig laat voel het. Die manier waarop die skaduwees en lig van die berg in verskillende seisoene verander, is besonders.”

Sy en Avukile het ’n ruk gelede saam ’n woonstel in die middestad gekoop. “Ons woonstel het so ’n regte New Yorkse gevoel,” vertel Tracey.

Sy droom daaroor om ’n tydjie in New York te kan woon en werk. “Jy weet, die radio is aan en jy hoor die omroeper sê: ‘Everyone is leaving for the fourth of July weekend … ’ ek wil daardie omroeper wees.”

Terug in Kaapstad. “Alles het vir my en Avukile heel vlot verloop met die saam intrek, maar oor die ketels kon ons eenvoudig nie saamstem nie. Die gevolg? Twee ketels in die woonstel. Ek het ’n glasketel en syne is van vlekvrye staal,” vertel Tracey laggend.

Saterdae oortuig Tracey vir Avukile, wat graag draf, om saam met haar die stad se strate plat te stap, ook op soek na nuwe restaurante. Tracey hou van die meeste kos, maar veral van vleis en natuurlik lekker groente.

“Ons gebruik ook graag The Entertainer-app om te kyk wat is nuut en watter aanbiedinge daar is.”

Elke Sondagoggend stap Tracey van hul woonstel in die middestad na haar “ou” kerk in Tuine. “Daardie tyd is die stad vir my baie mooi, dit is asof die plek nog slaap, en terwyl ek stap, voel dit of die stad aan my behoort.”

Sy stop graag by Truth Coffee in Buitenkantstraat vir ’n wegneemkoffie, of as sy tyd het, drink sy koffie in die restaurant. “Ek stel Truth graag voor wanneer ek iemand moet ontmoet, want almal weet waar dit is en hier is so ’n lekker, besige gedruis. Almal hier is baie cool en anders. Ek voel dikwels nie cool genoeg nie, of dat ek die verkeerde klere aanhet,” sê sy met ’n laggie.

Maar dis beslis nie die geval toe ons foto’s neem nie. ’n Barista se oë blink behoorlik toe Tracey ’n warmsjokolade by hom bestel. Daarna word sy met leepoë aangestaar, en dit is nie net die barista wat haar raakgesien het nie!

Tracey Lange op ’n drafstap
Foto: Leana Clunies-Ross

Stilte en romanse in die Kompanjiestuin

Toe Tracey en Avukile begin uitgaan, het sy van Tuine af gereeld kortpad deur die Kompanjiestuin gevat na Avukile se woonstel in die middestad.

“Dit is een van die eerste  plekke waar ons mekaar gesoen het,” verklap sy.

“Ná ’n lang dag op stel het ek by Avukile aangekom en ons het besluit om wegneem-soesji by Nuri Sushi in Parlementstraat te kry en dit in die Kompanjiestuin te gaan eet. Dit was seker al nege-uur die aand, maar dit was ’n lieflike somersaand en baie romanties.”

Soesji of piekniek in die tuin, is steeds een van hul gunsteling-saamdoendinge.

Hoewel Tracey van mense hou, het sy ook ’n stil kant en alleentyd is belangrik. “Ek put krag uit stilte en rustigheid.”

In die tuin kan sy afskakel. Sy stap gereeld alleen hier rond. As sy gaan sit, daal ’n rustigheid oor haar neer. Sy is al so tuis hier dat dit soms soos haar agtertuin voel.

“Ek kan net dink dat New Yorkers so oor Central Park voel. Die Kompanjiestuin is my Cental Park. Ek droom daaroor om eendag nog so in Central Park ook te sit.”

Tracey Lange op ’n drafstap
Foto: Leana Clunies-Ross

’n Besige 2018

Met alles wat Tracey in 2018 bereik het, lyk dit of sy dalk eerder naellope hardloop as stap!

In Junie het sy ’n groot skuif van Heart FM na Kfm 94.5 gemaak. Sy sê Kfm 94.5 het haar so welkom laat voel, en sy het gou die nuwe stelsels baasgeraak.

Sy was die mede-aanbieder van Dancing with the Stars SA. Die program het haar lus gemaak vir dans, maar die trane en seer spiere van die deelnemers het haar lugtig gemaak.

Haar jongste uitdaging is as aanbieder en regisseur vir Tussen Ons, ’n Afrikaanse geselsprogram (Donderdae 20:00 op kykNET & Kie).

“Ons paneel bestaan uit Zelda la Grange, voormalige assistent van oudpresident Mandela, Kay Karriem en Ingrid Jones, albei tydskrif-redakteurs, en die radio-omroeper Success Lekabe. Dis ’n sterk groep vroue wat kom om hul menings te lug en nie om mooi te lyk nie. Die groep het uiteenlopende agtergronde en persoonlikhede, en dit maak hul menings interessant.”

Dis vir Tracey heerlik om die gesprekke te lei, want glo dit of nie, sy kan nie glo dat mense na haar wil kyk of luister nie, en voel baie gemakliker as ander mense hul stories vir haar vertel. Agter die skerms is sy ook druk besig met onderwerpidees en navorsing.

Haar jaar sal op ’n hoë en besige noot eindig met ’n ware Lange-Kersfees – wat 102 familielede gaan bywoon! Haar pa, die oudste van 13 kinders, en al sy broers, susters, en hul kinders en kleinkinders trek elke drie jaar saam. Net een niggie wat in China bly, kom nie vanjaar nie.

“Dit is omtrent ’n organisasie, met ’n verskeidenheid komitees en WhatsApp-groepies – vir van restaurant- en verblyfbesprekings tot Kersfees-wenslysies. Die reëlingskomitee hou selfs maandelikse vergaderings en ons almal kry notules,” vertel Tracey. “My oom ontwerp vir ons ’n familiewapen – waarvoor almal op WhattsApp stem – en dié word op T-hemde gedruk wat almal vir die familiefoto dra. En ja, jy gee geskenke vir almal, maar jy het darem drie jaar om daaraan te werk. Dit hoef nie noodwendig gekoopte of duur geskenke te wees nie. Ek het aan die begin van die jaar elke maand geskenke begin koop en in geskenksakke verpak. Dit neem baie plek op hoor,” vertel Tracey met ’n glimlag. “Dit is ’n spesiale en wonderlike byeenkoms. ’n Ware familiefees.”

Of dit nou Kaapstad, New York, of saam met haar mense is, waar Tracey ook al is, sal sy mense met haar warmte en lewenslus aanraak.

Foto: Leana Clunies-Ross

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.