kategorieë: Bekendes

Madonna: Die regisseur

Madonna lyk klein en fyn in ’n rooi bloes, swart potloodromp en swart stilletos van Yves Saint Laurent. Haar palmtassie is van Givenchy, haar armband ’n unieke ontwerp van Cartier en die titel van haar fliek, W.E., versier die Neil Lane-hangertjie om haar nek. Ek het die onverdeelde aandag van die veelsydige superster, ma van Lourdes, Rocco en haar twee aangenome kinders uit Malawi, David en Chifundo (Mercy). Haar spel in flieks soos Dick Tracy, Evita!, en A League of their Own het uiteenlopende kommentaar uitgelok. In W.E. het sy vir die eerste keer die leisels as regisseur en draaiboekskrywer in die hand gehad. W.E. vertel die verhaal van Wallis Simpson se verhouding met die Britse koning Edward VIII wat in 1936 van die troon afstand gedoen het om met dié geskeide Amerikaner te trou. (Die titel W.E. kom van die twee se voorletters af.) Die storie is al ’n hele paar keer vertel, maar Madonna fokus op Wallis se kant van die storie en die verloop van hul lewe ná die abdikasie. Sy het dié gegewe verweef met ’n eietydse verhaal van ’n mishandelde vrou wat gefassineer is deur die Wallis Simpson-verhaal.Madonna het haar nog nooit deur negatiewe kommentaar (en daarvan was daar al baie) laat onderkry nie. Dié 53-jarige sang-en-dans-fenomeen het in die halftyd-pouse van die Amerikaanse 2012-Superbowl met die volle Madonna-glans, -energie en -uitrusting ’n string van haar treffers, asook liedjies van haar jongste album, MDNA (’n afkorting vir Madonna), gesing en weer eens haar sterstatus bevestig. Hoewel sy ’n uiters private mens is en verseg om oor haar kinders of egskeidings te praat, het ons onderhoud my ’n beter begrip gegee van die mens wat daarin geslaag het om haar ikonstatus vir langer as drie dekades te behou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Jy het besluit om die hoofstorie oor Wallis en Edward met ’n eietydse storie te verweef. Hoekom?
Hoe kon ek die essensie van die storie uitbeeld? Wanneer jy baie navorsing oor iets doen, het jy altyd jou eie siening van wat regtig gebeur het. Ek kan jou dieselfde boeke gee om te lees en jy sal die karakters op ’n ander manier interpreteer. Ek wou die ander storie gebruik om te illustreer dat die waarheid subjektief is. Ek wou nie ’n biografiese fliek maak nie. Ek is altyd teleurgesteld wanneer ek flieks oor geskiedkundige mense sien omdat daar soveel uitgelaat (moet) word. Die storie word vertel uit die oogpunt van een vrou wat op haar eie soektog is na liefde en die betekenis van geluk.
Kinders word dikwels grootgemaak met die sprokiesidee dat ’n prins jou gaan bevry en dat die vrou van die man afhanklik is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoe maak jy jou dogter groot sodat sy nie hieraan glo nie?
Hoewel Wallis en Edward se storie hom in die jare dertig afspeel, het dinge in die eietydse storie nie veel verander nie. Selfs al het ons nou ’n beter opvoeding en kan ons goeie werk kry, wil ons steeds hê dat die perfekte man ons knieë lam maak en ons heeltemal oorrompel. Ons dink steeds dat die liefde ons hele lewe gaan verander. My moderne Wally besef in die fliek dat haar geluk in haar eie hande lê en dat sy nie volgens ander mense se ideale moet lewe nie. Ons trou nog te dikwels met die soort man wat jou ouers of jou vriende vir jou sou kies, al is hy dalk nie reg vir jou nie. Dis belangrik dat dogters, soos my Lourdes, besef dat hulle moet besluit hoe hulle wil leef en liefhê en hulle nie deur die gemeenskap laat voorskryf nie.

Vir buitestanders lyk dit of die Britse koning alles opgeoffer het om saam met Wallis te wees. Het jy al gewonder hoe dit moet voel om so lief vir iemand te wees?                                                                                                                                                                                             
Ek het my ook hierdie vraag afgevra. Hoe moet dit voel om so geliefd te wees, net om aan die einde agter te kom dat dit ’n groot verantwoordelikheid op haar skouers geplaas het?

Beteken dit jy weet hoe dit voel?

Ek weet hoe dit voel wanneer iemand jou ten volle bemin, maar niemand het al ooit ter wille van my van sy troon afstand gedoen nie! In die fliek sê ’n karakter dat hoë verwagtinge altyd tot teleurstellings lei.

Hoe hanteer jy verwagtinge en teleurstellings?

Ek dink mense het hoër verwagtinge wanneer hulle al van jou vorige werk gesien het, want hulle verwag dat dit net so goed gaan wees. Ek dink mense is meer krities oor my as oor ’n onbekende regisseur omdat ek op ander gebiede suksesvol was. Ek weet nie wat hulle van my regie verwag het nie, maar ek het beslis die druk gevoel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Mohammed Al Fayed, die pa van Dodi Al Fayed wat saam met prinses Diana in die motorongeluk gesterf het, besit heelwat van die hertog en hertogin se liefdesbriewe. Was dit maklik om toegang tot hierdie briewe te kry? Het jy sy seun geken?
Nee, ek het nie sy seun geken nie. Mohammed was die eienaar van hul nalatenskap, maar hy het die meeste daarvan reeds opgeveil. Hy besit steeds die Bois de Boulogne buite Parys in Frankryk. Ek wou daar skiet en hom in die fliek gebruik. Ek het sy toestemming nodig gehad. Hy het besef hoe belangrik die briewe vir die prent was en hy was my baie goedgesind. Ons het ’n hele paar vergaderings hieroor gehad omdat ek nie die briewe kon wegneem nie. Hy wou die draaiboek sien en wou weet hoe hy uitgebeeld sou word. Hy het die tonele waarin hy verskyn, goedgekeur en ek kon in sy huis skiet, en in ruil hiervoor moes ek sy dogter help met haar liefdadigheidsprojek – ’n skool vir mishandelde kinders in Engeland.

Die mode in die fliek is uitsonderlik.
Die mode uit die jare twintig en dertig het my nog altyd gefassineer. Ek hou veral van die groot modehandelsname wat toe pas op die toneel verskyn het, soos Christian Dior, Vionnet, Balenciaga, Schiaparelli …. Hul skeppings is innoverend en interessant. My huidige gunstelinge is Yves St. Laurent, Givenchy en Alexander McQueen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Jy het voorheen genoem dat albei jou vorige mans, Guy Richie en Sean Penn, jou baie ondersteun het toe jy met die projek begin het. Het jy die draaiboek vir hulle gewys?
Ha! (Lag). Ek het nooit die draaiboek vir Sean gewys nie. Ek het soos altyd net met hom oor die fliek gepraat. Guy het dit gelees. Hy het uit ’n geskiedkundige perspektief in die storie belang gestel en ons het die konsepte, stories en idees bespreek. Hy het my met tegniese aspekte soos kameras en digitaal teenoor film en klank ook gehelp, maar hulle het my nooit raad gegee oor hoe ek die storie moet vertel nie.

Hoe het ouerskap jou verander?
Kinders dwing jou om nie net aan jouself te dink nie!

Watter soort artistieke bevrediging kry jy uit regie as jy dit met sang of verhoog-optredes vergelyk?

Ek sit my hart en siel in albei maar die een is subjektief en die ander een objektief. Wanneer ek optree, het ek ’n gehoor voor my. Sang is ’n baie intieme vorm van uitdrukking. Dis meer instinktief. Ek kry dadelik terugvoer van die gehoor. Dis minder intellektueel. Met die rolprent is ek agter die kamera en die mense voor die kamera reageer op ’n instinktiewe manier. Ek voel asof ek nie heeltemal deel daarvan is nie, maar dit bly ’n kreatiewe proses.

Toe jy die eerste keer New York toe getrek het, was jy ’n danser. Toe het jy begin sing en skryf, konserte gehou en toneelgespeel. Jy het ook ’n boek geskryf en nou ’n draaiboek en regie aangepak. Hoe belangrik is dit vir jou om aanpasbaar te moet wees en het mense al ooit probeer om jou in ’n boksie te druk?
Niemand het nog so iets probeer doen nie. Ek dink baie mense het ’n bepaalde mening oor wat ek moet en nie moet doen nie. Maar niemand het tot nog toe vir my gesê: “Jy mag dit nie doen nie.” Ek was nog altyd baie avontuurlustig wat kreatiwiteit betref. Ek het nooit gedink ek sou ’n sanger en ’n liedjieskrywer kon wees nie. Ek het my net oopgestel vir nuwe ervarings en baie oudisies gedoen en so het een ding tot die volgende gelei. Wanneer iemand iets voorgestel het wat buite my gemaksone was, het ek altyd gesê: “Hoekom nie?” Om van ’n sanger na ’n regisseur en draaiboekskrywer te beweeg is nie vir my so ’n groot sprong nie, want dit omvat alles wat vir my kosbaar is.

As aktrise word daar vir jou gesê wat jy moet doen. Is jy gemakliker as regisseur as aktrise?
Ek verkies dit om ’n storieverteller te wees. As aktrise is jy ’n integrale deel van die fliek, maar dis nie noodwendig hoe jy dit sou doen nie. Ek is nie altyd in beheer van alles wanneer ek op die verhoog is nie. Ek kan nie die weer beheer nie, en een van my dansers kan beseer word. Jy moet hierby kan aanpas en altyd goed voorbereid wees. As jy ’n regisseur is, gebeur sulke goed elke dag. Jy moet leer om teleurstellings grasieus te aanvaar. Mense sê duisend keer per dag vir jou “nee”: “Nee, ons het nie tyd nie”, ”Nee, dis te duur” … Dis ’n uitdaging om heeltyd binne hierdie beperkinge te werk, maar ek het dit geniet.

Hoekom was Wallis Simpson so fassinerend?

Sy was ’n vasbyter; sy het geweet hoe om te oorleef. Sy het met niks begin nie en het haar eerste huwelik waarin sy mishandel is, oorleef. In Engeland het sy met min ’n nuwe lewe geskep. Sy het ’n goeie humorsin gehad. Een van die redes waarom die koning op haar verlief geraak het, was haar vars, energieke uitkyk op die lewe. Sy het hom nie met die gewone onderdanigheid behandel nie. Sy het hom geïnspireer.

Hoe was liefde tussen twee sulke uiteenlopende mense moontlik?

’n Gemeenskaplike visie en prioriteite snoer mense saam.

Waarin stel jy op die oomblik belang?
Ek probeer die heelal verstaan; die menslike aard; hoe om tussen die werklikheid en dit wat nie werklik is nie te onderskei; hoe ek my energie moet bestee … Ek probeer vasstel wat onder die oppervlak van enige situasie lê. Ek probeer steeds om vir my nuwe uitdagings te stel, maar ek vra my elke keer af: “Wie trek voordeel hieruit?”

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Is jy ’n perfeksionis? Hoe vind jy balans?

Deur Maretha Botes Perfeksionisme is ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant motiveer dit jou…

16 hours Gelede

Besoek Stellenzicht se unieke ekowyn-pod vir ’n uitsonderlike wynproe-ervaring

Soos jy aankom, word jy deur welige wingerde en groen heuwels begroet. Die wyn-“pod” self…

18 hours Gelede

Geurige roerbraairys

Hierdie geurige roerbraairys kry die lekkerste dadel-en-sjerrie-hoender by.

20 hours Gelede

Die beste gebruik van herfsblare in jou tuin

Die helder skakerings van oranje, rooi, geel en bruin blare gedurende die herfs is werklik…

22 hours Gelede

Leer jou breipatrone beter verstaan

Ons deel breilesse uit ons argiewe.

2 days Gelede

Gebruik oogomlyner vir langer wimpers

Nie almal is geseënd met lang wimpers óf weet hoe om vals wimpers aan te…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.