kategorieë: Gesondheid

Verpersoonlikte hormoonpille: wat jy moet weet

Persoonlike hormoonpille vir die menopouse is híér. In plaas daarvan dat jy dieselfde ‘one size fits all’ pakkie pille as jou vriendin by die apteek koop, maak ’n saamsteller-apteek, nou ’n hormoonkombinasie spesifiek vir jou op, gebaseer op jou eie hormoonprofiel en jou eie reaksie op hormone. Hierdie nommerpas medisyne word nét vir jou opgemaak, en pas perfek by jou. Of so sê hulle.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoe werk verpersoonlikte hormoonpille?

Hierdie vorm van medikasie word gestratifiseerde medikasie genoem. Waar daar normaalweg groot farmaseutiese maatskappye is wat pille by die ton vir die ‘gemiddelde’ mens maak en wêreldwyd verkoop, kom daar nou ’n nuwe aspek by: medisyne spesifiek vir ’n individu, volgens jou eie profiel. Die medikasie van die toekoms pas dus by jou, eerder as wat jy daarby aanpas.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hormoonvervanging vir die menopouse is perfek hiervoor. Niemand is presies soos jy aanmekaar gesit nie, en niemand se menopouse voel presies soos joune nie. Ons kan almal baat by hormoonterapie, maar wat jy benodig kan effens verskil van wat ek benodig. Jy het dalk ’n titseltjie meer estrogeen nodig om hittegloede onder beheer te hou. Of jy kan wegkom met heelwat minder progesteroon as in die standaard formules. Of jy sal baat by ’n knypie testosteroon vir jou libido, wat glad nie in die standaardformules voorkom nie. Of jy loop ’n risiko op estrogeen-verwante borskanker, en moet die minimum estrogeen gebruik.

Die Britse Royal Pharmaceutical Society glo dit gaan die rol van dokters en die apteker drasties verander. Die dokter van die toekoms gaan jou genetiese profiel beskikbaar hê en net daar op sy rekenaar kan lees watter risiko’s jy loop. Hy gaan jou huidige hormoonprofiel in sy spreekkamer toets en vasstel  waarvan jy te min en waarvan jy genoeg het. Ná sy diagnose gaan hy ’n baie gespesifiseerde medikasie vir jou as pasiënt wil voorskryf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

En hy sal ook kan, want die apteker van die toekoms weet hoe om hierdie nommerpas medikasie te maak – al is dit letterlik net ’n maand se voorraad. Jy gebruik dit en sê hoe dit vir jou voel. Jou dokter en apteker kan ook toets hoe goed jy vaar en verander jou doepa bietjie vir bietjie tot julle almal tevrede is.

Maar is ons regtig al gereed? Kan jy vandag jou verpersoonlikte medikasie gaan bestel? En moet jy? En waarom dink die toonaangewende USA Endocrine Society, na wie die meeste ginekoloë opkyk vir leiding, dat dit nie óns, die pasiënte, noodwendig gaan baat nie?

Wat sê ’n apteker oor persoonlike hormoonpille?

Samestellende apteker dr. Reinhard Uebel sê mediese dokters fokus steeds meestal op standaard behandeling vir die ‘tipiese’ pasiënt – ongeag of jy tipies is. “Hulle baseer hul voorskrif op die ‘beste uit die beskikbare keuses’ al is dit nie die ‘beste keuse vir jou’ nie.

“Vir baie mense werk dit – maar nie vir daardie vroue wat hoofpyn ontwikkel of naar voel of opswel van haar hormoonvervangingsterapie nie. Jou dokter kan jou hormoonpille een of twee keer verander, maar hy het net twee/drie opsies. As jy bly sukkel, kan hy niks anders doen as om vir jou te sê ‘Mevrou, dit is nou maar hoe die lewe is. Jy moet hiermee saamleef of die medikasie los.’

“En dit is so – tensy jou dokter en ’n samestellende apteker saamwerk en vir jou ’n kombinasie van hormone uitwerk.

“Nog iets waarmee ons kan help is die formaat van jou medikasie. Gestel ’n vrou het reeds lewerprobleme. Ons kan dan haar hormoonformule in ’n plakker plaas, sodat haar lewer gesystap word. Of ons kan haar hormoonformule opmaak as ’n plakker, vaginale setpil, inspuiting of ondervel kapsule.

“Maar gaan dit altyd werk? Vir seker – maar nie noodwendig dadelik nie. Dit kan ons óók twee, drie maande neem om by die volmaakte formule vir jou uit te kom. Jy gebruik dit, sê hoe dit vir jou voel en ons pas aan tot ons jóú resep het.”

Die meeste apteke kan nie medikasie saamstel nie. Dit word net deur ’n paar spesialisapteke gedoen wat farmaseutiese standaarde handhaaf.

Wat sê ’n ginekoloog oor verpersoonlikte hormoonterapie?

Dr Johannes van Waart, wat as fertiliteitspesialis in vrouehormone superspesialiseer, is ewe positief as versigtig.

“Vroue voel goed as hul hormoonvlakke reg is. Enige modifikasie van jou hormone beïnvloed jou lewe dramaties. Daarby is vroue hoogs individueel. Anders sou almal lig gemenstrueer het, maklik swanger geraak en wonderlik deur die menopouse gegaan het. Daar ís plek vir geïndividualiseerde hormoonvervanging.

“My enigste voorbehoud is hóé besluit word watter hormoonkombinasie reg is. Hormone is nie so eenvoudig as a+b=ab nie. Jy kan ’n hele kaskade van gebeure sneller deur ’n swak interpretasie. Hormone is ’n superspesialisasie waarin selfs ginekoloë net basies opgelei is.

“Jou dokter moet in die eerste plek verstaan watter toetse om aan te vra. Jou hormoonprofiel word baie betroubaar met speekseltoetsing bepaal. Maar verpersoonlikte hormoonbehandeling word baie dikwels opgemaak as ’n vaginale pil of as ’n plakker, wat hormone anders vrystel en meebring dat speekseltoetsing nie meer betroubaar is om op te volg hoe jy op jou formule reageer nie.

“Party praktyke doen nie eers toetsing nie: hulle vra na jou simptome en geskiedenis, en evalueer jou liggaamsbou. Jy kan hiervan niks anders sê as dat dit uiters onwetenskaplik en primitief is nie … en dan maak hulle die aanspraak dat hulle ’n ‘optimale, verpersoonlikte hormoonkombinasie’ vir jou opgestel het.

“Daarby moet jou dokter al die potensiële interpretasies van jou hormoonprofiel verstaan. Dit gaan oor baie meer as net die hoeveelheid estrogeen e progesteroon.

“Jou dokter moet ook seker wees van die gehalte van hormone wat die apteker wil gebruik. Planthormone is nie ‘natuurlik’ vir mense nie – ons is nie plante nie.

“Maar verpersoonlikte hormoonpille ís vir vroue met probleme ’n wonderlik uitkoms. As jy hierdie roete volg, wees eerder versigtig. Vra watter hormone hulle gaan gebruik en vra ook wie jou hormoonprofiel gaan lees. Doen moeite om ’n dokter te kry wat spesifiek in vrouehormone superspesialiseer.”

Wat sê die USA Endocrine Society oor apteker-gemaakte hormoonpille vir die menopouse?

In hul verklaring oor verpersoonlikte hormoonterapie in April 2016 sê hulle:

• Plantaardige hormoonformules is nie konsekwent ewe sterk nie en word nie goed beheer nie. Jy kan dus maklik oor- of onderbehandel word.

• Apteke handhaaf nie almal goeie standaarde nie. In een insident in die VSA is 60 mense dood weens ’n swambesmetting in verpersoonlikte medikasie.

• Dit is onwaar dat ‘natuurlike’ hormone wat van plante af kom, veiliger is. Dit hou net soveel risiko in as sintetiese hormone.

Nog ’n gedagte

Prys is ’n faktor. Jy kan verwag om meer te betaal vir jou medikasie omdat dit hoogs gespesialiseerde kennis, toerusting en vaardigheid verg. Jou mediese fonds sal in die reël hiervoor betaal nie.

Lees ook

• Moenie naïef wees en die slagoffer van swak produkte en oneerlike bemarking raak nie. Lees beslis hoekom menopousale vroue moet koel bly oor hormoonpille.

• Wees en voel mooi tydens die menopouse

Jackie Burger, styl-ikoon vir 50-plussers, se onverganklike stylwenke.

Deel
Gepubliseer deur
Salome Delport

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.