kategorieë: Ons menseBekendes

‘The Voice’ se Craig Lucas

Craig Lucas (24), wenner van M-Net se The Voice, is dankbaar. Nie net vir die pryse nie, maar veral vir die kans om veel meer van sy lewe te maak as waarvan hy as arm klein seuntjie op die Kaapse Vlakte kon droom.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Jy is ’n Kapenaar van geboorte. Vertel meer?

Ek het in Elsiesrivier grootgeword, en aan Elsies River High matriek geskryf. Daarna het ek ’n B.Com.-graad met politiek en ekonomie as hoofvakke aan die Universiteit van Kaapstad behaal, en toe ’n honneursgraad in finansies, ook aan Ikeys. Die afgelope drie jaar het ek as junior ekonoom vir die Wes-Kaapse tesourie gewerk. Aan die begin van vanjaar het ek by Naartjie begin werk, maar twee weke voor die eindrondte van The Voice bedank. Ek het gevoel ek skuld dit aan al my ondersteuners om die heel meeste te maak van hierdie unieke kans wat ek deur The Voice gekry het. Selfs al het ek nie gewen nie, het die kompetisie my die nodige selfvertroue gegee om voluit op ’n loopbaan in musiek te fokus.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jy en jou ma, Jennifer, is na aan mekaar …

Ons is. My pa is dood toe ek drie was, en my ma was ma en pa vir my en my broer Warren (33). Sy het soms tot drie werke gelyk gedoen net om vir ons die heel beste te kon gee. Sy het ons ook geleer om nooit op te gee nie, en altyd beter te doen as dit wat daagliks om ons gebeur het. Elsiesrivier is bendegebied, en my ma het altyd beklemtoon hoe belangrik dit is om te leer en nie by die bendes betrokke te raak nie. My ma is ’n wonderlike mens – ondanks al die swaarkry, is sy steeds nie bitter nie. Sy het ’n kleuterskool en is soos ’n ma vir al die kinders van ons woonbuurt.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Jy klink na ’n slimkop?

My ma het altyd die belangrikheid van skool en leer beklemtoon, en by my ’n liefde daarvoor gekweek. My twee oumas en my tannie bly almal in dieselfde blok in Elsiesrivier, en van kleins af was ek en my broer smiddae by die familie om huiswerk te doen en om ons uit die kwaad te hou. Almal het maar gehelp. Ons is nou nog ’n baie hegte familie, en my broer, ’n sweiser van beroep, woon deesdae ook in dieselfde blok. Ek het in graad elf ’n beurs by Nedbank in ’n ekonomiekompetisie gewen. Dit was wonderlik! Ek wou baie graag universiteit toe gaan, maar wou nie daardie druk ook nog op my ma sit nie. Ek was die top-matrikulant by my skool, en universiteit was ’n wonderlike ervaring. Ek is mal oor syfers, en het politieke wetenskap en filosofie ook baie geniet. Dit leer ’n mens om meer te lees en moeite te doen met die essays wat jy moet skryf.

Is geloof vir jou belangrik?

Baie. My ma het ons gelowig grootgemaak en gesorg dat ons Sondae kerk toe gaan. Veral op hoërskool het my geloof my beslis gehelp met al die uitdagings.

Wat het deelname aan The Voice vir jou beteken?

Dit was wonderlik! Dit was die eerste keer wat ek verder as Kaapstad was, my eerste keer op ’n vliegtuig én die eerste keer dat ek in ’n hotel gebly het. Ek het die hele tyd vir myself gesê selfs as ek nie wen nie, het ek minstens hierdie wonderlike ervaring gehad. Maar dit het my veral geleer om myself nie met ander te vergelyk nie, en het gehelp dat ek my vrees vir mislukking oorkom. Dit het wondere vir my selfvertroue gedoen. Ek het besef ek moet ophou om my keuses gedurig te bevraagteken. Daar was ’n spesifieke oomblik in die kompetisie toe ek besef ek is my eie grootste vyand. As ek nie al hierdie hindernisse in my eie pad sit nie, sal daar niks wees wat my keer nie!

Jy het nie eintlik voor die kompetisie opgetree nie …

Nee. Ek is ’n introvert én het kwaai verhoogvrees gehad. Ek was van kleins af lief vir sing en het van die oggend tot die aand in die huis gesing. Nadat ek op my broer se troue gesing het, het almal my aangemoedig om meer op te tree. Ek het my maar daarin berus dat ek vir ander mense liedjies sal skryf, maar elke liedjie wat ek geskryf het, het so deel van my gevoel dat ek dit nie vir iemand anders wou gee nie. Robin Pieters, wat verlede jaar ’n finalis in The Voice was, is ’n goeie vriend van my en het my oortuig om in te skryf. Toe het al my vriende ook begin druk dat ek moet. Ek wou eers vir Robin jok en sê ek was vir ’n oudisie net sodat hy my kon uitlos. Maar toe skraap ek al my moed bymekaar en gaan wel vir die Kaapse een.

Was die kompetisie soos wat jy gedink het dit gaan wees?

Ek het nie gedink ek gaan so ver kom nie. Maar toe Khan daardie eerste keer binne sekondes draai … Al die beoordelaars was wonderlik, en al was ek nie eens in haar span nie, het Lira soveel gedoen om my met my selfvertroue te help. Die hele span by The Voice was vreeslik hulpvaardig en het gesorg dat daar ’n wonderlike ondersteuningstruktuur vir al die deelnemers is. Hulle was nie net wonderlike sangers nie, maar ook wonderlike mense. Ek en Freddy van Durban was kamermaats, en ek kan nie wag om vir hom te gaan kuier nie. Nadat ek as wenner aangewys is, was daar kritiek, maar Fatman en Josh het hulle ondersteuners op sosiale media gevra om my te ondersteun. Ek het dit ontsettend baie waardeer.

Wat gaan jy met jou wengeld doen?

Die eerste wat ek wil doen, is om my ma met vakansie te neem om dankie te sê vir alles wat sy deur die jare vir ons opgeoffer het. Maar sy het klaar gesê sy wil nooit permanent uit Elsies weggaan nie. Sy het ’n groot passie vir die mense van die gebied, en almal daar ken haar.

Is jy die soort mens wat vyfjaarplanne maak?

Ek ís toevallig! My vyfjaarplan is selfs met verskillende kleure ingekleur! Ek beplan elke stap. Ek dink dis nog ’n rede hoekom ek so bang was vir ’n loopbaan in die musiekbedryf, want dit kan so onvoorspelbaar wees. Ek het myself oortuig ek sal hou van ’n nege-tot-vyf-werk bloot omdat ek so bang was om my gemaksone te verlaat. Ek is allesbehalwe impulsief.

Wat is jou planne vir jou onmiddellike toekoms?

Ek wil ten volle op musiek fokus. Ek speel so ’n bietjie klavier, en wil meer daarmee doen. Ek wil ook deur my musiek mense help. Daar is mense met sulke wonderlike talent in Elsiesrivier, en hulle kort net ’n kans en iemand om hulle ’n bietjie te help.

En waarna sien jy die meeste uit as jy aan jou toekoms dink?

Om te reis. Ek wil die hele land deur my musiek sien.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.