kategorieë: Bekendes

Vriendinne met Angelina Jolie

* Hierdie artikel het in die Oktober 2015-uitgawe van rooi rose verskyn.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Wanneer die beroemde aktrise Angelina Jolie by haar vriendin Marlice van Vuuren op die plaas N/a’an ku sê 42 kilometer buite Windhoek kom kuier, los sy haar roem op die lughawe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Op N/a’an ku sê – uitgespreek ‘naankuse’, dit beteken ‘God sal ons bewaar’ in Khoisan – kan Angelina haar skoene uitskop en net mens wees. Brad en Rudie braai en ek en Angelina gesels en was skottelgoed terwyl ons kinders op die plaas baljaar. Hulle is net sulke gewone mense soos ons. Vir haar is ek net Vlooi of Marlice, haar vriendin.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die Jolie-Pitts sluip dikwels onder die lense van die paparazzi uit en kom kuier ongesiens in Namibië.

“Vanselfsprekend is daar veiligheidsmaatreëls, maar hulle wil graag soos ander mense net gewone dinge doen. Hulle het een Kersfees by ons op die plaas kom kuier en het net voor Kersdag besef hulle het te min geskenke gebring. Ek en Rudie was op pad plaas toe toe Brad en Angie in een van ons voertuie verby ons ry – sonder enige wagte – en ewe nonchalant vir ons waai. Hulle het besluit om gou in Windhoek te gaan inkopies doen. Niemand het hulle herken nie. Brad sê hy kon sien een kassier voel onseker oor wie hulle is en ’n verkeersman by ’n padblokkade het gelyk of hy hulle vaagweg herken. Dit is hoekom dit vir hulle lekker is om hier te kom kuier. Hier kan hulle net mens wees.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die Jolie-Pitt-kroos hou van die plaaslewe, veral Shiloh, Pax en Knox verken graag die plaas saam die twee Van Vuuren-seuns, Zacheo (9) en Nicklai (4). Marlice sê Sahara en Vivienne is twee dametjies en hou nie so baie van rof speel nie en Maddox (16) is al ’n tiener.

’n Mens kan jou kwalik die bedrywigheid voorstel wanneer die gesinne saamkuier. Die Van Vuurens se huishouding is ook nie juis rustig nie, want hulle het op die oomblik vier jagluiperdjies, ’n stinkmuishond, twee honde en drie katte wat dinge in die huis interessanter maak.

Angelina saam met die klein jagluiperdjies

“Brad en Angelina is wonderlike ouers en maak hul kinders soos normale kinders groot. Angie is die sagte een en Brad die pa wat meer dissipline toepas. Al die kinders kan Frans en Engels praat en Sahara, Pax en Maddox kan ook die tale van hul lande van herkoms praat.”

Marlice en Angelina is al 16 jaar goeie vriende.

“Ons gesels weekliks per e-pos, stuur SMS’e of Skype. Sy is baie besiger as ek en sy is gewoonlik die een wat my kontak. Sy is ’n lojale en goeie vriendin met wie ek enigiets kan bespreek – van kleinighede oor die kinders tot persoonlike probleme.”

Marlice het al die wilde diere in verskeie internasionale flieks hanteer en speel soms die dubbelganger van sterre wat met diere moet werk.

“Ek het Angie ontmoet toe sy in 2003 aan Beyond Borders in Namibië gewerk het. Ek het aasvoëls vir die fliek voorsien. Ek het een aand ’n drankie by die rolprentspan gaan drink toe ek ’n baba vreeslik hoor huil. Ek het gaan kyk of ek kan help. Die oppasser was radeloos, want die baba was koorsig. Ek het gesien die baba se armpie is geswel en ons het koolblare opgesit, soos ons soms in Namibië doen. ’n Vrou het op my afgestorm en gillend gevra of ek weet wie se kind dit is en dat ek nie aan hom mag raak nie. Ek het die volgende dag eers gehoor dit is Angelina se kind, Maddox. Sy het my die volgende dag gebel en om verskoning gevra en was so dankbaar dat ek die oppasser gehelp het om Maddox se koors te breek. Die volgende week het ons saam geëet en van toe af is ons vriende.”

(Marlice moes op dieselfde fliek ook inspring en sorg dat vlieë op Angelina se gesig saampak om te benadruk dat die fliek hom in Afrika afspeel.)

“Sy is ’n wonderlike mens met haar voete plat op die aarde. Sy is opreg en is nie soos ander bekendes wat net práát oor hoe hulle ’n verskil aan die wêreld wil maak nie. Sy doen dit en
leef dit uit.”

Maar Marlice is net so ’n besonderse vrou. Sy is ’n bekende Namibiese natuurbewaarder en staan ook as die jagluiperd-fluisteraar bekend. Mense sal haar veral onthou vir die VW Golf-advertensie waarin sy en haar driebeen-jagluiperd, Lucky, in 2009 gespeel het. Sy werk van 13-jarige ouderdom af met wilde diere op rolprentstelle en het al dertig stuks rolprente en advertensies agter die blad. Regisseur Philip Selkirk het al ’n dokumentêre prent, Marlice – A Vision for Africa, oor haar gemaak. Sy en Rudie het ’n reeks van 13 episodes oor Namibiese bewaringsprojekte vir kykNET se Groen gemaak.

Die nuwe seisoen van Groen: Namibië begin op 6 Julie 2016 op kykNET draai. Lees meer hier.

Sy het op die Namibiese plaas Harnas grootgeword waar gewonde en weesdiere dekades lank versorg is. Sy het saam met die San Boesmans grootgeword en kan hulle taal vlot praat. Dit is haar passie om die diere, asook die kultuur van die land se oorspronklike inwoners te bewaar.

Sy en haar man, Rudie, ’n mediese dokter, het N/a’an ku sê in 2006 begin waar nie net die wilde diere nie, maar ook die plaaslike San-gemeenskap veilig voel.

“Ons visie is ’n Afrika waar mense en wilde diere saam kan leef en floreer. Ons missie is om die land, kultuur en wildlewe van Namibië te bewaar en om spesies te red wie se habitat al meer krimp.”

Toe die Jolie-Pitts se dogter Shiloh in 2006 in Namibië gebore is, het hulle haar geboorte ook met die Jolie-Pitt-stigting gevier. Dié organisasie het in 2010 twee miljoen dollar aan N/a’an ku sê se langtermynprojekte geskenk. Angelina het gesê hulle doen dit namens Shiloh, want hulle wil hê sy moet by haar geboorteland betrokke wees. Veral die San-gemeenskap en die Lifeline-kliniek op die plaas het by die skenking baat gevind. By die kliniek word onder meer aandag gegee aan wanvoeding, tuberkulose, MIV/vigs en ander siektes.

“Angelina was een keer by toe ek vir ’n bejaarde Boesman ’n kospakkie vat. Sy het haar hand na hom uitgesteek, maar hy het haar hand báie hard weggeklap. Ons het nogal geskrik. Toe ek hom vra hoekom hy dit doen, het hy gesê hy het gedink sy wou sy kos vat! Natuurlik kon sy sy reaksie verstaan.”

Die Jolie-Pitts is ook betrokke by die bewaring van wildehonde, ’n bobbejaanskuiling en behuising vir mense wat bewaringswerk met leeus, luiperds en jagluiperds doen. Hulle het selfs onlangs die afkamping van ’n bewaringsgebied vir jagluiperds befonds.

Marlice sê sy en Angelina het ’n doodnormale vriendskap. Hulle is vriendinne wat hul harte vir mekaar kan oopmaak.

“Sy is opreg, eerlik, toegewyd en ’n besondere goeie ma. Sy doen moeite om elkeen van haar kinders spesiaal te laat voel, soos om ’n kind alleen saam met haar te laat reis. Op haar laaste besoek aan ons was net Pax saam met haar. Sy het met ’n Namibiese staatsman gestaan en praat toe Pax haar iets vra. Sy het die vername man gevra om haar te verskoon, want sy wil net gou hoor wat haar kind wil hê. Ek wou al by haar weet hoe sy dit regkry om ses kinders te hanteer. Ek sukkel soms met twee, maar sy is so gemaklik en rustig. Niks kry haar onder nie. Brad is ’n goeie man en pa. Ek is so bly sy het hom in haar lewe. Hulle het pragtige, gedissiplineerde kinders met mooi maniere.

“Ons is daar vir mekaar sonder om mekaar te oordeel oor wie en wat ons is. By my kan sy kaalvoet en sonder grimering ontspan. Sy kan haarself wees.”

Angelina (middel van foto) en haar seun Pax (met die wit kappiebaadjie voor Angelina) saam met die personeel van N/a’an ku sê.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.