kategorieë: Reis

Walvisse, spoke en ander geheime van De Hoop

In die winter is die Rûens die ene lappies bottergeel canola en knopknie lammertjies al trippelend rondom hul weiende ooi-ma’s in lande wat so sappiggroen lyk dat jy self wonder hoe lusern dan proe. Al met die grensdrade langs waak statige ou bloekoms met hul koppe afgeëts teen die blou berge. Julie, Augustus sien jy dikwels ’n sneeulagie soos strooisuiker op die bergpieke lê. Koud, maar bitter mooi. En lieflik stil. Asof die hele aarde sover as wat jy kan sien net vir jou geskep is. Want hierdie tyd van die jaar kom niemand na hierdie kus toe nie. In sulke stiltes is die wydsheid van die oseaan wat hier teen die suidpunt van Afrika aanspoel soveel indrukwekkender.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ek wens ek kon dit so hou, maar reisjoernaliste word betaal om die bes bewaarde geheime te verklap. Dié een deel ek met ’n swaar hart. Dalk kan ek wegkom daarmee om dit net te fluister: De Hoop. Dalk sê die ander ingewydes dit ook net saggies hardop want min ken dié absoluut ongerepte Overbergse kusreservaat. Ek lap net 4 van De Hoop se geheime uit:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die geheime lewe van walvisma’s

As jy op die trendy manier wil walvis kyk met live musiek, pizza en bier in die hand en ’n walvisroeper op sy bamboeshoring vir tien sent se karakter, is Hermanus die volmaakte bestemming. Maar as jy die outentieke ervaring soek, kom na De Hoop.

By Koppie Alleen, De Hoop se beste walviskykpunt, sit jy hoog op ’n ongerepte duin en sien tot 50 van die ou grotes op een slag. Jy sien die walvisse die beste met laagwater want dan kan jy op die rotsplate staan en redelik naby aan hulle kom. Met ons naweek daar is laagwater toe om sesuur die oggend. In Augustus. Dit is ’n bykans ondenkbare donkernag opstaantyd vir Kapenaars maar die belofte van soveel walvisaksie is oorgenoeg om ons te oorreed om Koppie Alleen se duine aan te pak. Ons dik jasse, serpe, mussies en ’n kombers om die lyf hou die snydende seebriesie net-net uit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die belofte van warm, gebotterde croissante en koffie vir ’n laatonbyt by die rusplek langs die see help sommer baie.

Dit ís spesiaal om die see so vroeg te beleef. Jy sak kniediep weg in die ongelooflike wit, fluweelsagte duinsand, met seemeeue en swarttobies intens afgeëts teen die skerp lig.

“En hou jou oë oop,” sê ons gids, Delfranzo Laing. “Ons sien die skaars Bryde walvis hier en het ook al ’n humpback of twee opgetel.

“Elke paar jaar of so kan jy die absolute rariteit van ’n wit walviskalfie beleef. ’n Brindle, soos sooloë hulle noem. Ons het vanjaar net drie wit kalfies gesien maar verlede jaar was hier so 8, 9 van hulle. Die wittes is byna sonder uitsondering bulletjies.”

Ons soek-soek tot by die horison maar niks wittetjies wys op nie. “Hulle bly nie wit nie,” verklaar Dell hul afwesigheid. “Hulle raak ook nooit so swart as ander walvisse nie. Jy moet soek vir die liggrys volwassenes.”

Teen September is De Hoop die hoofkraamsaal van die wêreld, met tot tweehonderd walvismoeders wat hier hul reusekleingoed kom baar.

Wat dóén walvisse?

“Wel, hulle spioeneer, koel af, baar, soog … en kuier. Ek het al ’n klein walvissie op sy ma se maag sien lê. Dit was so ’n mooi bonding-oomblik. Op ’n ander keer het ek 4, 5 walvisma’s in ’n kring sien sosialiseer, met hul kleintjies wat rondom hulle speel. Soos ladies wat kom tee drink en chat!”

Daar is nog net 10 000 Southern Right-walvisse in die wêreldoseane oor, waarvan amper die helfte elke jaar van Antarktika na ons kus swem vir hul winterwegbreek … teen 2 kilometer per uur.
En wat is dit met ons kus? Net soos ons vroue onmiddellik begin dieet as ons aan ’n paar weke se seevakansie dink, is walvisma’s die hele tyd aan ons kus op dieet. Walvisse eet hulself spekvet aan die kril van Antarktika. By ons is hul kosbronne skaarser en is hulle noodgedwonge op dieet, ten spyte daarvan dat hulle hul kalfies moet soog. Hulle word hier dus rietskraal.

Sodra hul telge gespeen is en elke walvisma haar lyfie terug het, is dit tyd vir die terugtog. Maar eers na ’n draai in die Namibiese waters. Van ons kus af swem die walvisse Weskus langs na Namibië, en dan teen die koue Benguelastroom in af terug Antarktika toe.

’n Wenk: beplan jou uitstappie om saam met laagwater te val, en soek rooi-aas, anemone, kastaiings, slaai, tongwier en seesterre in die seepoeletjies wat net met laagwater toeganklik is.

Die oproep waarop voëlkykers wag

De Hoop is voëlkykerparadys. Maar nie sommer vir amateurs nie. Toe die bostelegraaf in 2004 die boodskap uitstuur dat ’n little crake hier gesien is, het dit voëlkykers van oor die hele wêreld so op hol gehad dat honderde mense binne dae op De Hoop toegesak het. En wat ’n ekonomiese inspuiting was dit nie – die kykers het rondom R70 miljoen binne ’n week die land ingebring.

Al lyk De Hoop-vlei bra gewoonweg modderbruin, geniet dit groot aansien onder die ernstige voëlkykers. Hier is 260 spesies te sien, onder andere die Damaratern. Daar is net 3 000 Damaraterns wêreldwyd waarvan rondom 90 broeipare in De Hoop tussen November en Februarie kom broei.

Voëlkykers se verkykers kan hier ook die Kaspiese tern, die Kaapse griffonaasvoël, Stanley se Bustard en swart tobies nadertrek.

De Hoop-vlei is die eerste Suid-Afrikaanse vlei wat ’n Ramsar-gradering verwerf het. Jy kan kies en keur uit 97 soorte watervoëls soos lepelaars, slanghalse, duikers … en bleshoenders by die dosyne.

Die voëlbevolking groei meetbaar. Waar daar in 2009 rondom 70 pelikane was, is daar tans 180-200 van die ou groot snawels. Teen sowat 500 vis per pelikaan per jaar moet die vlei ’n florerende visbevolking kan onderhou om die groeiende pelikaanbevolking te voed. Die bewaringsukses van die stukkie aarde is onteenseglik, en na jy die voëlspesies van De Hoop klaar afgetik het, kan jy begin werk aan jou aftiklys vir fynbos. Die 1 500 plus inheemse grasse, erikas en proteas kan jou nog ’n leeftyd lank besig hou.

’n Bonus geheim

As jy vir drie of meer dae hier oorbly, kan jy op ’n gratis begeleide vlei-staptog van sowat 8 km gaan. Doen dit gerus omdat die gids jou baie meer sal wys as wat jy op jou eie sal raaksien en jou verras met feite soos dat babaflaminke vaal is, en nie pienk nie.

Wat maak flaminke pienk? Die kos wat hulle eet. Sekere alge en krewels is propvol karetenoïede (die stof wat wortels en beet kleur gee). Die kleurpigment word afgebreek in hul lewer en dan in hul snawels, vere en bene neergelê. Hoe ouer ’n flamink raak, hoe pienker raak hy.

Die Cloetes se spoke

Die sappigste geheim draai om die Cloetes, die kleurryke nasate van die oorspronklike Cloetes van Groot Constantia … en hul spoke. Maar dan moet jy die personeel aan die praat kry.

Die eerste plaaslike Cloete, Pieter Lourens, se huis staan al van 1872 langs De Hoop-vlei. Hy het vir sy seun aan die oorkant van die vlei ’n ware herehuis laat bou wat ’n presiese kopie is van ’n lank vergange Scottish manor house. Ene Bean was die bouer. Die huis – ’n pragwerk van klipsteen met ’n rietdak – het járe geneem om te voltooi.

Dit was ’n tydsame proses want die sandsteen is in De Hoop gemyn en per ossewa na Caledon gery, waar die treinspoor destyds gestop het. Hier is dit per trein Kaap toe, waar dit gekap is … en dan die hele roete terug, vir Bean om mee te bou. En toe die huis klaar is, hang Bean himself op aan ’n balk in een van die kamers. Hoekom? Was daar ’n onbeantwoorde liefde? ’n Geldskandaal? Of was ’n lewe weg van Melkkamer se mooiheid doodeenvoudig ondenkbaar vir hierdie Engelsman? Die ou dagboeke van die Cloetes verklap nie daardie geheim nie. Die personeel hoor egter soms Bean se voete deur die ou opstal stap …

In die Cloetes (hulle het hulself die Cloeties genoem: hulle was immers na hul mening in ’n heel ander klas as die gewone soort Cloete), se heyday het mense geld uit een van twee bedrywe gemaak: resiesperde en volstruise. Die Cloeties het altwee beoefen. Hul stalle het maandeliks 4, 5 wenners vir die Kaapse perderesies opgelewer, en onder andere die perd York wat die 1904 Met vir sy eienaars gewen het. By hook or by crook? Of dalk maar net omdat hulle briljante perdetelers en –afrigters was? Of omdat De Hoop se grond ideale teelaarde is? In elk geval – die perdestalle staan nog en is vandag ’n gesogte venue vir troues van tot 200 gaste.

Gepraat van trou. Die Mevrou Cloete, vrou van die seun vir wie die Skotse herehuis gebou is, het op haar huweliksnag aan ’n reuseoester verstik. Twee weke later het die gebroke bruidegom selfmoord gepleeg. Gaste en personeel sien haar nou nog gereeld. Sy’s blond, sy is in wit geklee en sy lag. Die bruidegom rus egter.

En dan is daar waterkrane wat loop – waar daar geen waterkrane is nie. Ons bly in Pelikaan, en Vrydagaand, nog voor ek van dié stories hoor, hoor ek op ’n stadium water soos in ’n stort buitekant loop. Die geluid is so werklik dat ek venster toe gaan om te kyk of dit dan skielik begin reën het. Maar buite flonker die Suiderkruis en g’n windjie ritsel nie. En die stort word toegedraai. Ek dag ek het my dit verbeel, tot ek hoor dat die personeel self gereeld dieselfde ervaar …

De Hoop is oop

Die laaste geheim wat ek bereid is om te deel, is om te vertel presies waar De Hoop is want dié plek is goed weggesteek. Geen groot borde op die N2 by Caledon of Swellendam sê jou hier, draai híér af nie. Jy sien op Google dit is anderkant Bredasdorp. Kaapse kant van Malgas. Skipskop van Sonja Heroldt se gelyknamige liedjie lê aan die suidwestelike hoek. Lekkerwater, die staatspresidente en eersteministers se oud-toevlugsoord, staan hier reg voor op die see. Dit is in 1984 onteien as toetsterrein vir missiele en ander militêre prototipes.

Dus verbode terrein in die volksbewussyn. Ja, maar dit was tóé. Vandag is De Hoop is ’n doodgewone natuurreservaat wat deur Cape Nature as die bewaringsarm en die De Hoop Collection as die toerisme-arm bedryf word.

Jy kan …

• Deurry vir ’n daguitstappie see se kant toe, en swem, stap of walviskyk. Of klein konferensies vir 10, 20 mense of groot spogtroues vir 200 gaste hier hou. Jy kan in ’n werklik lekker restaurant eet of jou room service in jou blyplek tot 16 km hiervandaan laat aflewer. Of jou eie vleisie op jou eie kole gooi.

• Jy kan rondom jou Landy kamp opslaan of jou Jurgens insleep. Jy kan in rondawels met net opelug storte bly. Of bly in een van die Cloeties se lieflik luukse herehuise, met hemelbeddens, knus donskomberse, kaggels, koperpotte, kandelare, kelims en ou geelhouttafels.

• Jy kan 4×4 of fietsry. Jou kamera gaan hier onophoudelik klik, en jou verkyker gaan net soveel werk hê. Jy kan reël dat die plaaslike bobbejaan- en slanggids jou op ’n uitstappie neem. Of jy kan op jou eie gaan stap, tennis speel of sommer net lees.

• Die kinders kan vry rondhardloop maar jy kan ook ’n baba-oppasser of ’n aktiwitieitsprogram vir hulle laat reël, sodat jy tyd het om self die ander geheime te gaan uitsnuffel …

Pak in

Vir ’n wintervakansie in De Hoop
• Laag-op-laag klere
• ’n Windjekker
• Sonskerm, sonbril, sonhoed
• Verkyker en kamera
• Al jou eie kos – jy kan uiteet maar nie bestanddele en items soos brood koop nie, en Bredasdorp is 38 km ver
• Stapskoene en ekstra kouse

Vir ’n somervakansie in De Hoop
• Swemgoed – die see is aan dié kant van die Kaap warm genoeg vir swem, al is dit nie Durban se watertemperature nie
• Duikbrille en snorkels vir die kleingoed
• Plus die gepaste items op die winterlys

Te doen

• Huur fietse en ry self rond
• Bespreek ’n begeleide vierwielrit of bergfietsrit
• Gaan saam met die plaaslike bobbejaankenner na hul grot en beleef hulle van naderby
• Stap die twee vleiroetes op jou eie of reël ’n gids
• Stap ’n deel van die driedag De Hoop Staproete.
• Kyk walvisse (September en Oktober is die beste, mits jy kan plek kry, want die Duitsers het lankal De Hoop ontdek)
• Bederf jouself met ’n topgehalte maal of twee by die Wild Fig
• TV in die restaurantkroeg
• Speel tennis of boulles
• Swem in die swembad of see

Besoek www.dehoopcollection.co.za vir meer besonderhede en besprekings, of bel 0861 33 4667 / 021 422 4522. Jy kan ook ’n e-pos stuur aan info@dehoopcollection.co.za of res@dehoopcollection.co.za

Foto’s: De Hoop Collection Nature Reserve Facebook-blad.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

11 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.