kategorieë: Blogs

Wanneer ’n af-hand oral wil hand bysit

Presies twee weke gelede het my wederhelf uitgevind die hand wat hy die vorige dag by die werk beseer het, is gebreek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Nou kyk, ’n been-af man, het ek al agtergekom, is ’n vreemde spesie. So, ek was nogal angstig oor wat ’n af-hand man aan’t huis sou behels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die gebreekte hand is dieselfde dag deur die ortopeed gespalk en Meneer moes eers langnaweek hou met die seer hand voor sy teaterbesoek die Dinsdagmiddag.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sal dit nie sommer hardop erken nie, maar ek het die arme af-hand man sommer baie jammer gekry, want hy was nog nooit sedert hy sy verstand gekry het (ons sal nie nóú in hierdie debat betrokke raak nie), in die hospitaal nie – wat nog onder die mes.

Na ’n senutergende naweek waar hy hardkoppig – maar, weliswaar nie hardhandig nie – steeds daarop aangedring het om motor te was en al sy gewone huishoudelike dinge te doen, het die dag van die operasie aangebreek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hy was kalm. Ek het gemaak of ek kalm is.

Want, sien, ek was in my lewe al so ’n stuk of 13, 14 keer in die teater. En ek wéét dis baie minder senutergend as dit jyself is wat met daai onbetaamlike blou jurkie teater toe gestoot word. As dit ’n geliefde is, is dit veel, veel erger. Mens voel so magteloos en die bekommernis fladder soos ’n lastige spreeu op die krop van jou maag.

Na skool het ek en die kinders in die hospitaalkamer gaan sit en wag. Die prosedure het toe ’n anderhalfuur langer geduur as deur die ortopeed voorspel en my senuwees en die kinders se geduld was op.

Gelukkig het alles voorspoedig verloop en Manlief is met ’n nóg groter spalk reeds dieselfde aand ontslaan.

Almal met kinders weet dat só ’n dag uit roetiene sy tol eis en ons is almal vroeg bed toe – een met sterk pynmedikasie en een met ’n glas verwerkte wingerdsap vir die senuwees.

Ek het nog gegiggel oor die boodskappe van simpatie wat ék gekry het, want “almal weet mos hoe ’n siek man is”. Maar, ek moet erken dat die pasiënt onder my dak glad nie só iesegrimmig was soos ek en almal voorspel het nie. Ook glad nie kleinserig nie. Hy het sy pille gesluk en gaan rus as hy pyn het en verder was hy nie vreeslik veeleisend nie.

Dis net dat sy inherent iesegrimmige verpleegster nogal gesukkel het om gewoond te raak daaraan dat daar soggens skielik iemand in haar lewensruimte en hardop dinkspasie is.

Waar ek voorheen soggens die kinders by die skool gaan aflaai het en teruggekeer het na ’n stil huis waar ek eers ’n stil sug van verligting kon slaak voor ek my Franse popmusiek of lafsôngs kliphard kon speel, was daar nou iemand anders om in ag te neem.

As ek my rug draai om iets te gaan haal, is die ketel wat ek sopas gekook het, drooggeskink in sý koffiebeker. Die koerant wat ek op die skoolroete gekoop en sopas neergesit het om te lees, het skielik voete gekry.

Selfs die twee ou bejaarde katte se roetine was versteur en al het hulle geen besware daarteen gehad dat die bed nie meer so gereeld opgemaak en hulle afgeboender word nie, het hulle met tye miaauend deur die huis gedwaal.

Ek het soms gevoel om te deel in die kattekoor.

Daar was ook skielik kommentaar oor hoeveel waspoeierkapsules ek gebruik, hoe gereeld ek die skottelgoedwasser aanskakel… Alles dinge waaroor ’n onwillige huishoudster nie nog boonop verslag wil lewer nie.

Die kersie op die koek was egter toe ek voor die stoof weg geskouer is sodat hy in die potte kan loer en speserye na sý voorkeur byvoeg en mý gereg roer soos hý dink nodig is.

Tóé het twee weke siekverlof sy vervaldatum bereik en die komplimente oor my kos was mosterd na die maal.

En, nou is Meneer vanoggend na twee weke weer terug werk toe – harrekwas, want hy is eintlik ses weke afgeboek. Tien minute ná hy gery het, het ek my skootrekenaar in sy sak gepak en koers gekies na ’n koffiewinkel om te kom sit en werk.
Want, die huis is skielik net té stil.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.