kategorieë: OuerskapJou lewe

Wat om te doen as jou kind in ’n slegte verhouding is

Wat om te doen as jou kind in ’n slegte verhouding is deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Milan Popovic vir Unsplash

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Slegte verhoudings? Keer so …

Die gesegde lui dat ’n mens die boompie moet buig terwyl hy nog jonk is, en dis volgens Karen Young, ’n bekende Australiese sielkundige, nooit te vroeg om jou kind te leer hoe gesonde verhoudings behoort te lyk nie.

Young sê dis belangrik om jou kind van kleins af te leer hoe om toksiese mense te hanteer, want hulle duik een of ander tyd in almal van ons se lewe op. Of jou kind deurloop onder katterige maats of ’n volwassene (soos ’n onderwyser of afrigter) wat op haar pik, jy kan jou kind help om dit beter te hanteer. Terselfdertyd gee jy die kind ook ’n bloudruk vir die hantering van toekomstige verhoudings – ook liefdesverhoudings.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die heel eerste stap, volgens Young, is om seker te maak die kind is nie dalk net oorsensitief vir kritiek nie. Maak ook seker – veral in die geval van klagtes oor ’n onderwyser of afrigter – dat die onderwyser se optrede nie dalk geregverdig is nie. Het jou kind nie dalk wel iets verkeerd gedoen nie? Dis baie belangrik dat kinders besef dat ander se kritiek wel soms regverdig is en dat ons dikwels daarby kan baat vind.

Lees ook: Mede-afhanklikheid: Vernietig jou liefde jou?

Wat om te doen as jou kind slagoffer is van toksiese gedrag – 9 dinge wat jy as ouer moet weet

Sodra jy seker is dat jou kind wel die slagoffer is van toksiese gedrag, takel dit so:

1. Onttrek jou ondersteuning aan die volwassene (of maatjie).

Die meeste van ons is grootgemaak met ’n gesonde (maar soms ook amper oordrewe ontsag) vir ouer mense en gesagsfigure. Maar as jy agterkom ’n grootmens se gedrag is skadelik vir jou kind se selfbeeld of selfvertroue, maak seker jou kind verstaan dat jy nie die persoon se gedrag ondersteun nie.

Lees ook: Jy kan ’n goeie selfbeeld kweek

2. Leer jou kind van gesonde grense.

Dis raad wat ’n mens dikwels kry, maar waar begin jy? Young gee praktiese raad: “Grense is die lyn tussen wat ek is en wat ek nie is nie, die grens tussen wat ander mense dink en wat ek dink.”

Wanneer ’n kind gesonde grense het, sal hy ook aanvaar dat wat ander mense dink/voel/sê/doen nie beteken dat hy dieselfde moet doen nie.

Om die konsep vir ’n kind te verduidelik, gebruik gerus Young se voorbeeld. Sy vergelyk ’n grens met ’n onsigbare kragtige kring (“forcefield”) om elkeen van ons. Leer jou kind dat dit daar is om ons te beskerm teen mense wat ons laat sleg voel oor onsself, of wat lelike dinge oor ons sê. Leer jou kind dat hy ten volle in beheer is van daardie kring – hy kan besluit wanneer om dit “aan” te skakel, en wanneer nie. Maak dit baie duidelik dat dit haar besluit is wie binne daardie kring mag kom, en wie buite moet bly. “Sê duidelik dit is haar keuse en sal altyd wees,” is Young se raad. “Hy of sy moet ook weet dat, hoewel dit baie belangrik is om ander te respekteer, dit net so belangrik is om jouself te respekteer. Deur sekere mense buite jou kring te hou, beskerm jy jouself.” Leer jou kind dat ons geen beheer oor ander se optrede het nie, maar beslis oor ons eie.

Lees ook: Hoe om gesonde grense te stel

3. Komplimenteer jou kind wanneer hy dit wel regkry om ’n toksiese mens uit sy lewe te sny.

Om jou teen ander te beskerm verg dikwels baie meer moed as om net toe te laat dat die stroom (of groepsdruk) jou meesleur.

Lees ook: Bou jy of breek jy jou kind se selfbeeld?

4. Leer jou kind dat toksiese gedrag dikwels outomaties is en niks te doen het met wat sy gedoen of gesê het nie.

Die ander mens besef nie eens hoe seer sy optrede of woorde maak nie. Dis nie ’n verskoning nie, maar dis belangrik dat jou kind besef die ander mens se optrede is ’n weerspieëling van hom of haar, en nie van jou kind nie. Dieselfde beginsel geld ook in afbrekende volwasse verhoudings – die man wat sy vrou mishandel, is die een met die probleem, nie die vrou nie. Sy “verdien” dit nie omdat sy op ’n sekere manier optree nie.

Lees ook: 10 dinge wat jy nooit vir jou tiener moet sê nie

5. Leer jou kind kleintyd al om “nee” te sê.

“Nee” is een van die kragtigste woorde wat jy jou kind kan leer. Praat ook met jou kind oor daardie binnestemmetjie wat jou teen sekere situasies of mense waarsku, en leer haar om dit te vertrou. Verseker haar ook dat jy haar sal ondersteun wanneer sy nee gesê het vir iets omdat ’n mens of situasie haar ongemaklik laat voel.

Lees ook: Leer hoe om “nee” te sê

6. “Moenie toelaat dat ander jou verander nie.”

Natuurlik is daar by almal van ons ruimte vir verbetering. Maar sodra iemand wil verander wie jy is, hoe jy lyk, waarin jy glo, of wat jy sê, is dit nie meer aanvaarbaar nie. Dit is van die waardevolste raad waarmee jy jou kind die lewe kan instuur. Nie net wys jy dat jy haar liefhet vir die mens wat sy is nie, maar jy versterk ook haar selfwaarde en bemagtig haar sodat sy hopelik nie die prooi in ’n aftakelende verhouding sal word nie.

Lees ook: Vroue, ons selfbeeld en ons geluk

7. Leer jou kind dat haar geluk nie afhang van ander se mening nie.

Dis veral belangrik in ’n era waarin kinders dikwels hul selfwaarde meet aan die kommentare en hoeveelheid likes op sosiale media. Iemand met ’n swak selfbeeld sal makliker in die strik van toksiese verhoudings trap.

Lees ook: Die oorsake van ’n negatiewe selfbeeld

8. Dis soms beter om weg te stap.

Leer jou kind van kleins af dat dit soms die heel beste is om iemand uit jou lewe te sny. Nie alle vriendskappe of verhoudings is bedoel om lewenslank te duur nie. Soms bly jy in ’n vriendskap of verhouding (of huwelik) omdat jy verplig voel, al geniet jy dit lankal nie meer nie. Dis piekfyn om eerder plek te maak vir iemand anders wat jou beter oor jouself gaan laat voel of meer gaan waardeer.

Lees ook: Leer jou dogter om ’n goeie selfbeeld te hê

9. Dit gaan nie oor hoeveel vriende jy het nie, maar oor die soort vriende.

As ’n kind dit van kleins af leer, is die kans ook skraler dat sy in ’n slegte verhouding (en later huwelik) gaan bly net om te kan sê sy het darem ’n kêrel/man. Jou kind moet weet daar is niks fout daarmee om soms alleen te wees nie.

Lees ook: Ridder of rower – 10 dinge wat jy oor swendelaars en manipuleerders moet weet

Herken die tekens: Wanneer is jou kind in ’n slegte verhouding betrokke?

’n Ma het dikwels ’n gevoel dat haar kind ongelukkig is, maar hier is ’n paar rooi ligte wat jy nie durf ignoreer nie.

  • Jou kind se maat probeer haar lewe beheer, of dit nou is deur voorskrifte oor kleredrag, of gedurige navrae oor waar sy haar bevind en saam met wie. Verduidelik dat daar ’n verskil is tussen verlief wees en om iemand te probeer beheer en isoleer. Dis jou plig om te verduidelik dat so iemand in die proses haar onafhanklikheid en selfbeeld gaan ondermyn. Beklemtoon dat gesonde verhoudings gegrond is op vertroue en openlikheid en dat jaloesie nie ’n goeie teken is nie.
  • Sy sukkel skielik met ’n slegte selfbeeld: Toksiese verhoudings vernietig iemand se selfbeeld en selfvertroue. Gryp dadelik in en kry professionele hulp indien nodig
    as jou kind skielik buitengewoon emosioneel, depressief of aggressief is.
  • Wees bedag op fisieke tekens. Moet nooit blou kolle of ander tekens van moontlike geweld ignoreer nie. Dan moet jy ’n reguit gesprek met jou kind hê, al is dit hoe moeilik.

Bronne:

www.heysigmund.com; www.verywellfamily.com; www.parentinfo.org

Wat om te doen as jou kind in ’n slegte verhouding is

Dis makliker om in te gryp by ’n tiener se verhouding, maar selfs as jou kind ’n volwassene is, is daar tog ’n paar dinge wat jy kan doen.

  • Hou die kommunikasiekanale tussen julle oop.
    Jou kind moet weet jy is daar vir haar, ongeag wat die uiteinde van die verhouding is.
  • Maak seker jou kind weet hoe ’n gesonde verhouding lyk.
    Beklemtoon hoe belangrik gesonde kommunikasie, wedersydse respek en vertroue is. Verduidelik hoekom jaloesie en pogings om haar gedrag te beheer onaanvaarbaar is.
  • Waarsku jou kind teen onbehoorlike druk.
    Ja, nuwe verhoudings kan ’n mens op ’n positiewe manier uitdaag en aanspoor om nuwe dinge te probeer (soos ’n restaurant of ’n sportsoort) maar waarsku jou kind teen druk oor dinge waarmee sy ongemaklik is, soos seks of kaalfoto’s. Weereens, hou die kommunikasiekanale oop. Verseker haar dat sy oor enige iets met jou kan praat, en dat jy nie kwaad sal word nie. En al is dit hóé moeilik, móét jy daarby hou, want as jy nie doen nie, gaan jou kind jou nie weer vertrou nie. Luister, en moenie oordeel nie. Gee raad waar jy kan, maar moet ook nie huiwer om professionele raad in te win nie.
  • Beklemtoon dat gedurige aggressie en geweld nie aanvaarbaar is nie.
    Dis normaal dat mense verskil, maar as haar maat haar veiligheid bedreig, moet jy ingryp. Kry ’n interdik indien nodig.
  • Praat oor jou eie foute in verhoudings.
    Onthou dat jou eie kommunikasiestyl en verhoudings – romanties en andersins – jou kind se voorbeeld is en haar besluite kan beïnvloed. Maak seker sy weet dis menslik om soms op die verkeerde mens verlief te raak, maar dat dit in orde is om so ’n verhouding te beëindig en dat daar mense is wat vir haar omgee en haar sal bystaan.
  • Fokus op die dade waaroor jy besorg is, en nie die persoon nie.
    Sê byvoorbeeld dit bekommer jou dat haar kêrel die hele tyd wil weet waar sy is, maar moenie hom verkleineer nie, want dan sal sy hom waarskynlik verdedig. (Dit is ’n mens se eerste instink, want jy is te trots om te erken jy het dalk ’n fout gemaak.) Verduidelik hoekom dit jou bekommer en hoe ’n normale verhouding behoort te wees.
  • Maak reëls en stel perke.
    Dis binne jou reg as jou kind nog ’n tiener is. Nooi die maat na julle huis toe eerder as dat hulle heeltyd by ander plekke kuier. Stel perke op die gebruik van selfone indien nodig. Stel belang in die verhouding, maar sonder om dit te laat lyk asof jy jou neus in hul sake wil steek.
  • Moenie ultimatums stel nie (veral nie as jy dit nie kan deurvoer nie).
    Dit kan veroorsaak dat jy jou kind in die ander persoon se arms in dryf. Bly ondersteunend.
  • Wanneer die verhouding verby is, wees daar vir ondersteuning.
    Laat sy met ’n professionele persoon gaan praat indien nodig.

Lees ook: Voel jou tiener eensaam? Hier is raad

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.