Wees swembroekslim deur Bea Lingenfelder en Susra Matthee. Hooffoto: Pixabay
Valle
Valle is ’n bekende tegniek om ongewenste rolletjies te verbloem, maar jy kan dit ook tot jou voordeel gebruik om ’n spesifieke bate te beklemtoon of te “vergroot”.
Moenie skrik nie!
Ons bedoel: Mense met ’n peerliggaamsvorm (swaarder heupe) kan ’n swembroek aantrek met valle om die skouers wat die illusie van ’n uurglasfiguur skep. Moenie dit te dramaties maak nie, hou by een val wat eenvoudig en vleiend is.
Wanneer moet jy valle vermy? As jy ruim bates of kurwes, soos borste of heupe het. Hoewel valle kan verbloem, skep dit ook volheid wat kurwes groter kan laat lyk.
Voue
Hierdie tegniek is ’n subtieler manier om te verbloem, maar die hoofdoel is om eerder vorm te gee. Dit manipuleer die vorm van jou liggaam en skep kurwes. Hierdie tegniek is gewild vir vroue wat nie baie kurwes het nie. Die voue is meestal diagonaal om ’n verslankende voorkoms te skep, of word uit een hoek oor jou lyf versprei. Die tekstuur van voue is wat die wegsteekwerk doen – ’n gladder tekstuur wys dikwels baie meer ongelykhede, waar voue die buitelyne van jou silhoeët wel “gladder” laat voorkom.
Lees ook: Storm in ’n swembroekkoppie
Halslyne
Halslyne is seker een van die belangrikste kenmerke van ’n swembroek. Dit skep jou liggaam se raamwerk. Die gewilde V-nek bly ’n wenner, maar hierdie snit kom ook nie meer net in sy standaardvorm voor nie. ’n Mens kry nou baie lae lyne, ’n breër V-lyn of dié wat selfs met hekelwerk gelas word.
Nog ’n voordeel van hierdie halslyn is dat die bandjies nie om jou nek vasbind nie. Bandjies om jou nek kan ongemaklik raak, veral as jy ’n swaarder bolyf het. Identifiseer eers die doel van jou swembroek – is gemak boaan jou lysie, of wil jy ’n eenvoudige snit hê wat jou nie snaakse patrone laat brand nie? As jy groter borste het, kan ’n dieper halslyn jou slanker laat lyk. Indien jy hierdie snit kies, maak seker jy kan jou halslyn toeryg vir ’n gemakliker en selfversekerde voorkoms.
Lees ook: Beste wenke vir selfverbruining
Patrone
Wie hou nie van vrolike patrone in die somer nie? Hoewel die klassieke swart en effekleurige swembroeke altyd die veilige keuse sal bly, is dit nou tyd om ’n bietjie uit jou gemaksone te klim – jy sal verbaas wees hoe kleure en patrone jou voorkoms, gemoed én selfvertroue ’n hupstoot kan gee!
Kyk watter kleure kom die meeste in jou klerekas voor, dit gee ’n goeie aanduiding waarvan jy hou en wat vir jou werk. Blom- en tropiese patrone bly gewild, maar slim lyne kan net so vleiend en vroulik lyk. Nes voue is patrone ’n minder opvallende manier om te verbloem. Maar maak seker die motiewe of patrone is nie baie groot nie. Groot blomme, blare of figure kan nog groter op jou liggaam lyk en kan jou ongebalanseerd laat lyk.
Lees ook: Rokke wat jy nou moet dra
Die rokkie
Ons almal ken hierdie snit – ’n gewaarborgde verbloemer, maar dit is ook een van die moeilikste snitte om baas te raak. Jou lengte en nie jou liggaamsvorm nie, is die bepalende faktor. Die doel van die uitklokromp is om die selluliet op jou heupe, agterstewe en bobene te toe te maak, nie om die grootte van jou bates te verbloem nie. Vroue maak dikwels die fout en kies die rokkie wanneer hulle groot bates wil wegsteek. Soos reeds gesê: valle skep volume. Maak seker jy kies ’n swembroek met ’n rompie wat vir jóú lengte gepas is. Die beste is wanneer die A-lyn bo jou heupbene begin, en net onder jou agterstewe eindig.
Lees ook: 16 maniere om geld op jou klerekas te spaar
Algemene wenke
Omhels jou liggaamsvorm – moenie dit probeer verander nie.
Fokus eerder op die bates wat jy wil beklemtoon, eerder as om te verbloem.
Jý moet goed en gemaklik daarin voel.
Die “veilige” swart swembroek is nie altyd beter nie.
Dink aan die doel – ’n snit waarin jy kan lê en lees, of een waarin jy die branders kan aandurf.
Dra dit met tonne selfvertroue!