kategorieë: Ons menseBekendes

Zetske van Pletzen: die groot avontuur

Ek hou haar ongemerk dop. Gedurende ons onderhoud is Zetske van Pletzen se hande heeltyd beskermend om haar swanger magie gevou. Af en toe vryf sy ingedagte daaroor, haar gesig die ene verwondering oor die geskop van haar ongebore babaseuntjie. Dit lyk nie asof sy eens bewus is daarvan dat sy dit doen nie, en dis duidelik dat sy heeltemal bekoor is deur die nuwe lewetjie wat aan die begin van Oktober sy opwagting moet maak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Dis vir my die heel lekkerste om hom te voel beweeg – hy is nogal besig,” vertel sy. En, vervolg sy met ’n glimlag, dit voel soms of hy ’n paar bokshandskoentjies ingesmokkel het soos wat hy tekere gaan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Aanvanklik was hy maar skaam as hy Altus se stem gehoor het, of as Altus sy hand op my maag gesit het, maar nou gaan hy lekker tekere as sy pa naby is.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Een van die onlangse 4D-sonarfoto’s het juis gewys die kleinman gaan waarskynlik baie na sy pa, die Getroud met Rugby-akteur Altus Theart, lyk. “Kyk net as jy die sonarfoto langs ’n foto van Altus sit,” wys sy. En sowaar, as jy die foto’s vergelyk, is die trekke tussen pa en seun onmiskenbaar.

Zetske kan nie uitgepraat raak oor haar swangerskap nie. “Dit was regtig van die begin af lekker en gaan hopeloos te vinnig verby. ’n Mens dink jy het nog hope tyd tot jy skielik besef dis amper verby.” Sy was geseënd met ’n maklike, voorspoedige swangerskap.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek was aan die begin so ’n bietjie naar, maar regtig nie te erg nie. Die moeilikste was seker maar die moegheid van die eerste trimester. My magie het eers in die derde trimester begin wys. Dit het aanvanklik eintlik net gelyk asof ek gewig aangesit het,” skerts sy.

Sy wou nog altyd ’n ma wees, vertel die beeldskone donkerkop. “Ek het van kleins af ’n vreeslike sterk moedersinstink gehad. Ek is ’n baie rustige mens en hoop maar ek is ’n net so ’n easy going-ma. Ek besef dat ’n baba ’n mens se hele lewe verander – ek dink nie ek sal heeltemal so georganiseerd kan wees soos wat ek daarvan hou nie.”

Gelukkig sal dit nie haar eerste ervaring van ’n babatjie wees nie. Twee jaar ná matriek het sy ’n jaar lank in Frankryk as ’n au pair vir ’n gesin gaan werk.

“Hul babatjie was ses weke oud toe ek daar begin het en nadat sy ma my so ’n bietjie touwys gemaak het, is sy terug werk toe. Ek moes daardie eerste jaar alles vir hom doen.”

Zetske en Altus, met wie sy in Januarie 2012 getroud is, ken mekaar al nege jaar en het mekaar ontmoet toe hulle saam in die TV-reeks Kruispad gespeel het.

“Nie een van ons was op soek na ’n ernstige verhouding nie – dit het net spontaan gebeur. Ons het beplan om so twee jaar ná ons troue met ’n gesin te begin, maar dit was nie altyd so maklik met twee vryskutakteurs se inkomste nie. Toe ons weer sien, is dit al vier jaar.

Toe Altus hoor dat Getroud met Rugby nou ’n daaglikse sepie word – wat ’n vaste inkomste beteken – het ons gevoel die tyd is reg vir ’n baba. Ons is nou lekker ge-settle in ons huwelik, en het mekaar nou al ’n paar jaar lank net vir onsself gehad. Altus is agt jaar ouer as ek – ons kon ook nie eintlik veel langer wag nie.”

Sy het geen twyfel dat Altus ’n wonderlike pa gaan wees nie.

Vyf vrae vir Altus oor pa-wees

1 Hoe voel jy daaroor om pa te word?

Baie opgewonde, maar ook lekker op my senuwees vir die onbekende wat voorlê! Ek sien uit na al die nuwe avonture. Ek is so ’n bietjie benoud oor die vuil doeke (lag).

2 Watter soort pa wil jy wees?

Ek wil ’n fun pa wees en ’n goeie vriend vir my seun. En ek wil vir hom ’n goeie voorbeeld stel. Ek wil kan jammer sê wanneer dit nodig is, kan raas wanneer ek moet, maar ook kan troos.

3 Waarna sien jy die meeste uit?

Om sy lyfie vir die eerste keer vas te hou en in sy ogies te kyk! Maar eintlik sien ek uit na die hele reis saam met hom, om te sien hoe hy grootword, en om nuwe fasette van my en Zetske deur hom te leer ken. En natuurlik sien ek baie daarna uit om saam hom te gaan motorfiets ry en gholf en rugby te speel.

4 Hoe ervaar jy Zetske se swangerskap?

Sover is dit ’n wonderlike reis, selfs deur al die hormonale wanbalanse. Zetske is ’n yster en ’n trooper! Ek het altyd geweet sy’s ’n ongelooflike sterk vrou, maar sy verbaas my steeds elke dag! Sy is nou vir my mooier as ooit! Ek weet sy gaan ’n sagte, liefdevolle ma wees, vol drukkies en soentjies, maar ook een wat sal weet wanneer om streng te wees.

5 Watter drome het jy vir jou seuntjie?

Dat hy sal gelukkig wees in alle aspekte van sy lewe, dat hy sy volle potensiaal sal bereik en dat hy eendag ’n goeie man sal wees.

“Ek dink hy gaan baie hands on wees. Hy is ’n ekstrovert, baie ontspanne, en lief vir kinders. Ons vriende en familie se kinders is gek na hom. Hy sien veral baie uit na al die spelery. Ek moet hom net keer, want hy wil nou al motorfietsies en sulke goed koop.”

Hulle het nog nie op ’n naam besluit nie. *Die egpaar het na die geboorte op die naam Alexander besluit.

Die dag ná ons onderhoud het die Thearts in hul nuwe, ou huis in Westdene ingetrek. Die huis is ideaal geleë en net ’n paar kilometer van die stel van Getroud met Rugby. Hulle het die laaste paar weke behoorlik geverf en gewoel om alles gereed te kry vir die intrek. Nou wag nog net die baba-kamer.

Zetske het aan die Hoërskool Pro Arte Alpenpark in Pretoria gematrikuleer met drama, Frans en ballet as van haar vakke. Sy het al in haar matriekjaar in haar akteurouers, Pierre van Pletzen en Elzette Maarschalk, se voetspore gevolg met ’n rol in die TV-reeks Hart van Staal. Deur die jare was sy te sien in reekse soos 7de Laan, Kruispad en meer onlangs in Bloedbroers.

Sy glo nie aan stilsit nie en het die afgelope ses jaar hard gewerk aan ’n B.A.-graad in sielkunde en Frans deur Unisa. Sy skryf juis in Oktober haar laaste vak.

“Ek het nie gedink dit gaan só moeilik wees nie. Ek kan Frans praat, maar dis ’n gans ander saak om die Franse letterkunde te bestudeer, en dit terwyl ek nog moes werk ook. Ek het dikwels gewonder hoekom ek dit doen. My deursettingsvermoë irriteer my soms,” sê sy laggend.

Haar kennis van Frans het haar al heelwat Franse stemwerk besorg, en sy sal graag met hul baba ook wil Frans praat.

Zetske berei haar voor op ’n water-geboorte by ’n kliniek wat nie net op die ma en baba fokus nie, maar op die nuwe gesinnetjie.

“Hulle het sulke wonderlike gesinskamers met ’n koningsgrootte bed sodat pa’s ook kan oorslaap. Die baba word ook nie in die nag weggeneem nie, maar bly by julle in die kamer. Dis ’n wonderlike plek waar almal rustig aan mekaar gewoond kan raak.”

Gelukkig is daar genoeg grootouers om soms met die nuweling hand by te sit. Altus se ouers, Lorinda en Bertie, asook Zetske se pa, Pierre en sy aktrisevrou Sandra Vaughn, woon in Pretoria. Haar ma Elzette, wat met die akteur en sanger Joseph Clark getroud is, woon ook in Pretoria.

“Hulle kan, net soos ons, nie wag om ons seuntjie te ontmoet nie!”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

11 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.