10 dinge waaroor elke paartjie moet praat vir ’n gelukkiger verhouding

10 dinge waaroor elke paartjie moet praat vir ’n gelukkiger verhouding deur Anet Schoeman.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hier is tien gesprekke wat jou verhouding kan red.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Praat hieroor

Goeie gesprekvoering is ’n fyn kuns. En pak jy sensitiewe onderwerpe verkeerd aan, eindig dit maklik in trane en frustrasie. Soms beland mense in ’n skaakmatposisie en dit kan selfs die einde van ’n verhouding beteken.

Ons het twee verhoudingsterapeute, Kobus van der Merwe Imago-terapeut, en Stefan Blom, kliniese sielkundige en skrywer van The Truth about Relationships, gevra hoe jy jou verhouding met sinvolle gesprekke kan verdiep – eerder as om dit rotse toe te stuur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Lees ook: Leer hoe om beter met jou lewensmaat te kommunikeer

1. Konflik

Stefan sê die meeste paartjies weet nie hoe om van mening te verskil nie.

“Hulle sukkel om te aanvaar dat dit oukei is om te verskil. Die meeste mense baklei om reg te wees, maar dit behoort nie die dryfveer te wees nie. Jy moenie probeer om noodwendig saam te stem nie; jy moet eerder probeer om eerlik te sê wat jy dink en voel. Dit is eintlik verbasend hoe min mense eerlik kan sê hoe hulle voel, en dis gewoonlik te wyte aan die reaksie wat hulle kry. In ’n gesonde huwelik weet mense dat hulle kan verskil. Dit beteken jy moet leer om te luister eerder as om jou teenargument voor te berei. Jy moenie verdedigend wees nie, sit terug, stel belang en luister met aandag.”

Moenie probeer saamstem nie, gebruik eerder jul energie om mekaar se verskillende waarhede te verstaan.

Kobus meen ook die groot geheim van konflikoplossing lê  in die luister en nie in die praat nie. “Niemand wil regtig luister nie, almal wil graag praat. Praat gereeld en sorg dat albei ’n spreekbeurt kry. As jy met volle aandag luister, kan dit baie konflik oplos.”

Lees ook: Dis hoe jy meer selfgeldend kan wees

2. Grense

“Grense is uniek vir elke paartjie en dit kan in elke fase van ’n verhouding verander,” sê Kobus. “Vroeg in ’n verhouding kan jou maat woedend wees wanneer jy vir iemand glimlag. Ná dertig jaar kan dit vir julle aanvaarbaar wees om goeie vriende van die teenoorgestelde geslag te hê. Dit is belangrik om gereeld te gesels oor wat nóú vir julle aanvaarbaar is.”

Stefan meen grense het baie met vertroue te doen. “En dit hoef nie groot dinge soos ’n affair te wees nie, maar eerder die kleiner troubreuke wat daagliks gebeur, soos wanneer die een vertroulike gesprekke oor geldsake of intimiteit met die familie of vriende deel. Selfs wanneer julle lelik met mekaar praat, knou dit vertroue en respek.”

Lees ook: Dis hoe jy van emosionele bagasie ontslae kan raak

3. Geldsake

Dit het uit navorsing geblyk dat tot 25% van egskeidings aan geldkwessies toegeskryf kan word. Stefan sê jou verhouding met geld is dikwels ’n weerspieëling van wat op ’n emosionele vlak in ’n verhouding gebeur.

“Ek sien gereeld ondemokratiese prosesse wanneer dit by geldsake kom en dat dubbele standaarde geld, soos dat die een wat die meeste geld verdien die meeste sê in die verhouding het. Die man besluit om ’n boot te koop, maar die vrou moet toestemming vra om duisend rand te bestee. Dit is ongelukkig steeds baie relevant in ons Suid-Afrikaanse samelewing.”

Dis noodsaaklik dat paartjies oop kaarte oor hul finansies speel en dit maak dit veel makliker as julle saam ’n finansiële beplanner gaan sien wat die gesprek kan lei en die ongemaklike vrae kan vra.

4. Kinders

Paartjies gebruik baie exits, soos godsdiens, troeteldiere, werk en veral kinders, om nie aandag aan die verhouding te gee nie, sê Kobus. Dit kan so erg word dat dit die “affair” word wat die verhouding vernietig.

Wanneer jy heeltyd op die kinders fokus, verwaarloos jy jou maat, en wanneer die kinders die nes verlaat, het julle min om vir mekaar te sê.

Stefan sê ouerskap is ’n weerspieëling van hoe ons grootgemaak is en dit verskil van mens tot mens. Mense se agtergronde kan verskil, en hulle het dalk ook verskillende idees oor iets soos dissipline of grense. Dit kan ’n bron van konflik wees, maar dit is ook ’n wonderlike geleentheid vir mense om te leer hoe om te kommunikeer.

Dan is daar die kwessie of julle wel kinders wil hê. “Dis ’n belangrike gesprek, maar dis net so belangrik om vas te stel wat die motivering is,” sê Kobus. Dalk wil een nie kinders hê nie omdat kinders so seerkry in ons wêreld, of wil jy bloot nie jou vryheid prysgee nie? As julle daaroor gesels, is die kanse beter dat julle helderheid kan kry. Kobus haal ’n waarheid in ou Joodse geskrifte aan: “As daar twee opsies is, kies die derde een.”

“Mense moenie gesprekke hê om mekaar van hul standpunte te oortuig nie, maar eerder dat hulle met elkeen se bydrae tot ’n beter slotsom kan kom. As jy genoeg praat, word jy nuuskierig oor die ander standpunt en leer jy meer oor mekaar se wêreld, wat tot iets kreatiefs kan lei.”

Lees ook: Gaan jou huwelik ’n baba oorleef?

5. Behoeftes in die verhouding

Kobus meen ons is soms so gefokus op wat verkeerd in ons maat is dat ons nalaat om te dink wat ons eie behoeftes is.

“Dis vir paartjies moeilik om die taal aan te leer om te verwoord wat hulle nodig het. By werkwinkels vra ons paartjies wat fout met jou maat is. Dan is daar vinnige reaksie en ’n lang lys. Maar vra ons ‘Wat het jy nodig?’sukkel mense om woorde te kry en is dikwels so vaag dat die maat nie werklik weet wat om te doen nie.”

Hy vertel hoe sy vrou hom een keer gevra het om haar te ondersteun met ’n eksamen wat sy die Maandag skryf. Hy verkies stilte en vrede in sulke omstandighede, en reël toe dat hy en die kinders die naweek gaan kampeer sodat sy tuis kan studeer. Sy was in trane en het hom verwyt dat hy nie daar was om haar te ondersteun nie. Dit wys net dat ons almal unieke behoeftes het en dat ’n mens dit spesifiek moet bespreek.

Stefan sê vir hom is die definisie van geluk wanneer twee mense in ’n verhouding weet wat mekaar se behoeftes is, en daarin deel. “Dit verbaas my telkens in terapie dat mense nie bereid is om in mekaar se behoeftes te deel nie, veral as dit nie buitensporig is nie en nie werklik veel verg nie.”

6. Vrese

“Ek ervaar dat mense se vrese uiteindelik hul werklikheid word omdat hulle so daarop fokus,” sê Kobus.

“As jy bang is jy gaan jou maat se liefde verloor, maak dit jou clingy wat uiteindelik jou maat gaan wegdryf en jou vrees bewaarheid. Negentig persent van vrese kom uit jou kinderdae en jy kan eerder met jou maat ’n gesprek hê oor ‘Wat is seer in my’ as ‘Wat is my vrese oor my maat’.”

“Gesprekke oor jou vrese kan tot ’n magstryd lei, terwyl ’n gesprek oor jou seer tot empatie en genesing kan lei.”

Lees ook: Dit is moontlik om jou huwelik te red

7. Seks

Kobus sê die meeste pare spartel wanneer hulle oor seks praat, want die kwessie handel eintlik oor identiteit en nie soseer oor seks nie.

“Dus: hoe mense vóél, eerder as wat hulle tydens seks dóén. Mense wil uniek voel en raakgesien word. Hulle wil gekoester en veilig voel, en die manier om dit reg te kry is deur warm en betroubare aanraking en kontak. Dit het meer waarde om oor die gehalte van die verhouding te praat. As dít verbeter, sal die seks ook verbeter. Moenie op die orgasme en tegnieke fokus nie, maar fokus op jou maat en wat hom/haar gekoester laat voel. Dit help as jy jou maat vra wat hom/haar sal bevredig, en dit kan help as jy deur die dag klein goedjies doen, of drukkies uitdeel om jou maat gekoester te laat voel.”

Lees ook: Wat vroue by mans oor seks wil weet

8. Familie en vriende

Kies jy altyd jou ma se kant? Betaal jy jou broer se rekeninge? Bring jy eerder tyd saam met vriende as met jou gesin deur?

“In ’n huwelik of verhouding moet mense doelbewus besluit dat hulle mekaar kies en die emosionele band met die familie verbreek,” sê Kobus. “Dit is ’n bewuste keuse dat die huwelik jul prioriteit is, anders word die familie ’n exit wat fokus uit die verhouding neem en dit kan later ’n ‘affair’ word wat die verhouding vernietig. Kom uit die driehoek van ek, jy en jou ma. Julle moet as ’n verenigde front en as paartjie familiekwessies hanteer. Dis veral belangrik oor die feestyd wanneer familiewrywing baie spanning kan skep.”

Stefan sê die invloed van familie en vriende word gereeld in terapie bespreek. “Onthou, familie en vriende moet deel van die ondersteuningsnetwerk van ’n verhouding wees en moenie iets by die verhouding wegneem nie. Maak dit jou prioriteit om jou te omring met mense wat gesond is vir jou verhouding, en maak jou verhouding die fokuspunt.”

Lees ook: Die beste raad vir ongesonde vriendskappe

9. Eie tyd

“As jy ’n behoefte aan meer alleentyd het, probeer vasstel of jy net alleen wil wees om stil te word, en of jy uit die verhouding probeer vlug,” sê Kobus. “Vir jou maat kan dit klink asof jy nie saam met hom/haar wil wees nie. Jou maat moet ook uitwerk hoekom dit angstigheid skep as jy alleentyd wil hê. Maak seker jy is op alle vlakke teenwoordig en betrokke wanneer julle wel bymekaar is. So bevredig jy jou maat se behoefte aan jou nabyheid.”

Lees ook: Wat jy moet weet as jou maat (dalk) Aspergers het

10. Verdeling van take

“Balans beteken nie ’n 50/50-verdeling nie,” sê Stefan. “Dit beteken die gevoel van balans waar niemand onvergenoegd of ongelukkig oor die verdeling voel nie. Dis belangrik dat paartjies baie duidelik hieroor praat, anders skep dit wrokkigheid. Ek sal aanbeveel dat hulle ’n lys maak van alles wat hulle in ’n maand doen, want elkeen kan heelwat ‘onsigbare’ takies in die huis en administrasie verrig wat die ander een nie noodwendig raaksien nie.”

Kobus sê mense kan obsessief oor huistakies word omdat dit ’n manier is om minder tyd aan die verhouding te bestee. “Onthou, dis ’n huis waar mense leef. Ek ervaar mense is minder gepla oor die huiswerk wat hulle doen as die feit dat hulle nie waardeer word daarvoor nie. Sê dankie vir wat die ander een doen. As jou maat nie genoeg help nie, gee duidelike opdragte, soos ‘ek sal solank die skottelgoed was, hang jy die wasgoed op’.”

Drie geheime wapens waaroor elke gelukkige paartjie beskik

Hier is drie geheime wapens wat kommunikasie met jou maat makliker sal maak.

Leer hoe om met mekaar te praat

Stefan Blom, skrywer van The Truth about Relationships, sê paartjies sukkel om reg met mekaar te gesels.

“Dis belangrik dat hulle weet hoe om ’n gesprek te voer. Paartjies baklei nie soseer oor wát gesê word nie, maar hóé dit gesê word. Mense raak verdedigend, of voel seergemaak. Dit is so belangrik om verhoudingsvaardighede te hê om te weet hoe om ’n gesprek te hanteer wanneer dit buite beheer raak.

Wees spesifiek

Kobus van der Merwe, Imago-terapeut, sê die oorsaak van spanning tussen paartjies lê dikwels in gebeure van lank gelede.

“Dis baie keer onopgeloste kwessies uit jou kinderdae wat pyn veroorsaak en spanning skep. Paartjies verkeer ook onder die wanindruk dat as hulle mekaar liefhet, die een outomaties sal weet wat die ander een se behoeftes is. Dit werk nie so nie. Jy moet spesifiek wees.”

Hanteer stres

“Stres is een van die grootste oorsake van konflik in ’n verhouding en maak dit moeilik om goeie gesprekke te voer,” sê Stefan. “Ons voer ons beste gesprekke uit ’n plek van ruimte en ontspanning en sal enige kwessie dan beter hanteer.

Die intensiteit van konflik is meestal ’n aanduiding van die hoë vlakke van stres in ’n verhouding. Dit is so belangrik dat paartjies maniere aanleer om hul spanning te hanteer.”

Lees hier: Gee jou huwelik ’n tweede kans

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.