1. Lyk opgewek
Fnuik ’n dowwe, moeë vel en meng ’n produk wat glans gee by jou onderlaag. “Sit ’n bietjie onderlaag in jou hand en meng ’n paar druppels YSL Top Secret Flash Radiance daarby.” – David White van YSL.
2. Selfvertroue & helder lippe
Daar is tye wanneer vroue ’n kragtige ek-is-in-beheer indruk wil skep. Moenie huiwer om in hierdie geval byvoorbeeld ’n dieper lipkleur te gebruik nie. Dit is een van die bevindinge van ’n studie wat onderneem is waarin grimering mense se persepsies beïnvloed. Uit die studie het dit ook geblyk dat vroue wat grimering dra, betroubaarder en meer bevoeg voorkom. Aliza Lich, ’n aanhanger van rooi lipstiffie en skrywer van Leave Your Mark: Land your dream Job, Kill it in your Career: Rock Social Media het bevind dat 91,6% van 460 proffesionele vroue meen rooi lipstiffie is reg vir werk. Sowat 78% van die vroue het gesê rooi lipstiffie straal selfvertroue uit. Dra gerus rooi of selfs pienk lipstiffie werk toe, veral as jy in ’n kreatiewe omgewing werk, en veral op daardie dae wanneer jy ’n hupstoot nodig het.
3. Die regte snit vir jou hare
’n Goeie snit verg minder stileertyd – ’n bonus vir daardie tye wanneer jy moet jaag om by die werk te kom. Kies ’n styl wat by die tekstuur van jou hare pas. ’n Langer bob kan lekker werk, so vra jou stilis om jou hare so te sny dat dit steeds vasgemaak kan word.
4. Sonskerm, elke dag
As jy dink jy het nie sonskerm nodig nie omdat jy net werk toe en terug ry en die res van die dag in die kantoor sit, dink weer. Google ’n bietjie “truck driver” en “sun damage” om te sien watter erge sonskade jy in ’n voertuig kan opdoen. ’n Gekleurde sonskerm gee ligte dekking en kan tyd spaar as jy nie elke oggend sonskerm wil aanwend nie. Dit maak heraanwending deur die dag ook makliker.
5. Vinnige droogblaas wenke

Foto: ghd
Andrew Young, nasionale opleidingsbestuurder vir ghd Suid-Afrika, weet presies hoe jy jou hare vinnig en suksesvol met ’n ghd Air-haardroër (R1 899) kan droogblaas.
• Vir kroontjies
Blaas jou hare in die teenoorgestelde rigting van die kant waarheen dit moet lê wanneer dit droog is. Kam jou hare reg en laat dit afkoel.
• Vir reguit hare wat beweging en vorm nodig het
Knoop jou nat hare in afsonderlike bossies en blaas elke bossie met die hitteverspreider op jou haardroeër. Laat afkoel. Maak die knope los en laat die bossies hare ondertoe val. Die hare sal natuurlike golwe vorm (dink seegolwe).
• Vir volheid en tekstuur
Stel jou haardroër op matige hitte. As jou hare ’n natuurlike krul het, sal die laer hitte die krulle beklemtoon. Warm, vinnige hitte maak jou hare reguit. Verdeel jou hare in ses gedeeltes. Draai elke stukkie agtertoe – en skep ’n sogenaamde Zoeloe-knoop.
• Vir lang, swaar hare
Gebruik ’n groot, ronde borsel en blaas jou hare bossie vir bossie droog. Spuit elke bossie met haarsproei, rol op en steek met ’n knippie teen die kopvel vas. Laat die hare afkoel voor jy die knippies uithaal. Pluiskam nou die kopvel-gedeelte van elke bossie.
6. Bollas BO
’n Bolla bly een van die maklikste maniere vir ’n mooi haarstyl. Dit is maklik en effektief en perfek as jy ’n gesofistikeerde glansvoorkoms in ’n kits wil hê. Die winter kan wreed met ons hare wees en veroorsaak dikwels dat jou hare droog voel én lyk met gesplete punte. Dit kan ook heeltemal te veel tyd neem om jou hare te vertroetel en vir ’n spesifieke styl te stileer wanneer jy dalk net daardie ekstra 10 minute se slaap wil kry en dan nie later tyd het vir sukkel nie. As jy jou hare dié winter moeiteloos mooi wil laat lyk, is die bolla ’n fantastiese styl om te probeer.
7. Goed georganiseerd

The Beauty Box Mini Organizer (R599) thebeautybox.co.za
Wanneer jou grimering en skoonheidsprodukte georden is, sal alles vinniger en makliker gaan as jy soggens jou grimering moet aanwend. Hou die grimering wat jy elke dag gebruik in ’n klein houertjie.
8. Yl wenkbroue
As jy sukkel met wenkbroue wat min, fyn of baie ligte haartjies het, is “micro-blading” iets wat jou lewe kan verander. Dit is ’n vorm van tatoeëring: ink word met ’n tatoërpen onder die vel ingeplant. Dit word met veerligte strepies aangewend om soos jou wenkbrouhaartjies te lyk.
Lisa Telo, eienaar van The Urband Beauty Lounge verduidelik wat die micro blading-proses behels:
1 Jou wenkbroue sal eers afskilfer en kleurloos word, amper asof die pigment verdwyn het.
2 Ná vier weke het jy nog ’n sessie nodig om dit te vervolmaak. Sommige van die lyntjies moet meer opsigtelik gemaak word, of jy het dalk meer definisie nodig.
3 Dit is semi-permanent en kan op ouer velle tot drie jaar hou en sowat ’n jaar op jong velle.
9. Gekleurde wimpers
Geen tyd vir oogskadu nie? “Gebruik ’n gekleurde maskara om jou oogkleur te beklemtoon. Persblou vir groen oë en blou maskara vir bruin oë,” sê David White, verkoop- en bedryfsbestuurder van L’Oreal Luxe.