Dit lyk of die spanning hierdie Mei in Gemoedsdrif gaan oorkook. Die middelpunt van die storm in Skemergrond is die gevaarlike kat-en-muis-speletjie tussen Hazel en Christine – ’n stryd wat dreig om alles in sy pad te vernietig.
Hazel vs Christine: ’n Gevaarlike speletjie raak buite beheer
Die genadelose magspeletjie tussen Hazel en Christine raak al hoe meer intens. Vasgevang in Christine se web van manipulasie en afpersing, word Hazel tot op die rand gedryf met die druk wat van alle kante toeneem. Wanneer Ice haar betrokkenheid by onwettige bedrywighede ontbloot, word Hazel gedwing om al hoe meer desperaat op te tree. Met haar geheime – veral dié wat met Fabian verband hou – wat dreig om op die lappe te kom, besef Hazel haar tyd raak min. Sy weier om langer ’n pion te wees en span saam met Lily in ’n gewaagde poging om die kaarte te herskommel. Hazel kry dit reg om Christine tot ’n brose wapenstilstand te dwing. Maar hoe lank sal dit hou?
Die blommemark: ’n Plan loop skeef
Ruan en die Louws span saam om Christine finaal vas te trek met ’n hoë-risikoplan wat by die blommemark afspeel. Wat bedoel was as Christine se ondergang, neem egter ’n skokkende wending ná ’n noodlottige misverstand. Die traumatiese nagevolge hiervan ruk Gemoedsdrif, maar selfs dit bring nie onmiddellik ’n einde aan Hazel se nagmerrie nie – die afpersing hang steeds swaar oor haar kop.
Kirby en Tyler: Die verlede weier om begrawe te bly
Kirby word al hoe dieper ingetrek in ’n raaisel wat haar nie wil los nie. Haar soektog na antwoorde oor Tyler lei tot meer vrae as duidelikheid, met doodloopstrate en verborge waarhede wat haar pad bemoeilik. Net toe dit lyk of die spoor koud raak, keer Tyler dramaties terug na Gemoedsdrif – vasbeslote om klaar te maak waarmee hy begin het.
Nuwe én bekende gesigte bring nog meer spanning
Dirk Maritz daag onverwags weer in Gemoedsdrif op, wat vir Tillie onkant vang en vrae laat ontstaan oor wat hom teruggebring het. Terselfdertyd maak Zander Conradie (Adrian Steyn) sy verskyning, wat ’n nuwe dinamika bring en dinge beslis gaan omkrap.
Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Wen ’n R5 000-geskenkbewys van American Swiss om ’n geskenk vir Ma te kies!

