GROOTfm-omroeper sluit aan by Fiësta as veldaanbieder: ‘Ek is ’n geesdriftige feesganger’
Toe sy as jong tiener ’n toneelstuk van Wessel Pretorius sien, het sy in trane uitgebars. Nie omdat die stuk soseer hartseer was nie, maar omdat dit vir haar só mooi en inspirerend was. “Die teatergogga het sommer baie vroeg al gebyt,” vertel Anelma van Heerden, die nuutste veldaanbieder om by die gewilde kykNET-program Fiësta (Sondae om 18:00) aan te sluit. “Ek is ’n geesdriftige feesganger. Ek gaan na alle feeste toe wat ek kan,” vertel sy.

Anelma is ’n gewilde omroeper op GROOTfm en mede-aanbieder van die middagprogram Route326 met Francois en Anelma wat weeksdae van 15:00 tot 18:00 uitsaai. “Dis die enigste ding wat missing is in my radiowerk . . . die kamera,” lag Anelma as sy oor haar nuwe geleentheid as veldaanbieder van Fiësta gesels.
Dié program loer weekliks by ’n wye verskeidenheid van Suid-Afrikaanse feeste regoor die land in, en bring ’n interessante blik op wat elkeen só uniek maak. En dit is juis dié uiteenlopendheid van die feeste wat Anelma so opgewonde maak. “Geen fees kan werklik vergelyk word met ’n ander fees nie. Elkeen het ’n ander energie, ander mense, ander dinge wat hulle aanbied. Dit gee ook ’n ander energie aan die episode wat ons maak”, verduidelik Anelma.
In haar eerste episode as aanbieder, besoek sy die Bloemskou in Bloemfontein. “’n Mens moet gewoond raak aan die pas waarteen ons werk. Jy gryp ’n koffie en dan moet jy jou skakels ken, onderhoude doen en oomblikke van die fees vasvang,” sê Anelma. “Dit is wel vir my verskriklik lekker. Toe ek ’n klein kind was, het my ma altyd vir almal gesê: ‘Sy is op haar gelukkigste as sy op haar besigste is’.”

Anelma is in Pretoria gebore, waarna sy drama by die Universiteit Stellenbosch geswot het. Tussendeur haar radiowerk, is sy ook lief daarvoor om op die verhoog in teaterstukke te speel, te oefen en om gehaltetyd saam met haar man en honde te spandeer. Hoewel sy al ’n geruime tyd in die vermaakbedryf werk, was sy tog baie verbaas toe die vervaardiger en regisseur Marius van de Wall haar bel om te hoor of sy vir Fiësta sal oudisie.
Anelma kon nie vinnig genoeg “ja” sê nie, en was in die “sewende hemel” toe sy vroeër vanjaar die nuus kry dat sy die werk gekry het. “Fiësta is ’n wonderlike program, want dit fokus nie net op een enkele ding nie. Dit het iets vir almal. Ek kan iets van alles sien én deel,” verduidelik Anelma. “As aanbieder kan jy wees wie jy is. Ek is die feesganger, terwyl ek vir die kykers van die fees vertel”, sê sy.

Wanneer sy aan haar heel eerste fees terugdink, hoor ’n mens hoe borrel die opgewondenheid en heimwee in haar stem. Dit was die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn. “Ek was nog baie klein, ek weet nie eers hoe oud nie. Ek het skaars ’n begrip gehad van wat alles om my aangaan. Maar ek onthou daar was ’n klomp volstruise en daar was stalletjies en my ma-hulle het my teater toe gevat,” vertel Anelma. “Daar het ek al absoluut verlief geraak op ’n fees.”
Fiësta wys Sondagaande om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook beskikbaar op DStv Stream.
Lees ook: ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’ se Griki Lubbe skrik vir niks
