Verskaf deur kykNET
Ná hul eerste samewerking agter die skerms op Wyfie, deel Anya Human en Ruan Wessels nou vir die eerste keer die skerm as ‘n dinamiese broer-en-suster-paar op kykNET se gewilde Diepe Waters. Hul karakters, Katinka en Fouché, bring nie net ‘n vars energie nie, maar ook ‘n goeie dosis drama en onvoorspelbaarheid na die skerms.
Katinka: Sarkasties, reguit en sonder ‘n filter
Wanneer Theresa (Mandi du Plooy-Baard) se klein niggie, Katinka (gespeel deur Anya Human), in Boskruin opdaag, verwag ‘n mens miskien dieselfde vriendelike eienskappe. Maar Katinka stap op ‘n traak-my-nieagtige wyse haar familie se lewe binne.
“Sy het sover ‘n rowwe lewe gehad en moes vroeg die rol van ‘n ouerlike figuur aanneem. Haar ma is vroeg oorlede en haar pa was ‘n afwesige alkoholis wat onlangs oorlede is,” verduidelik Anya. “Aan die begin het ek en die regisseurs aan haar gewerk en besef ek as persoon lean in, maar Katinka lean back. Sy vou haar arms en kyk jou op en af.”
Anya, wat onlangs vanaf die Kaap na Johannesburg geskuif het en in haar vrye tyd van rotsklim en skilderkuns hou, geniet die uitdaging om ‘n meer ingewikkelde karakter te vertolk:
“Katinka is nogal baie sarkasties en sê ‘n ding soos sy dit voel. Sy kan nooit net likeable wees nie, want sy kom in as ‘n bietjie van ‘n booswig. Maar ‘n mens moet ten volle commit.”
Anya praat ook vol lof oor haar ervaring op stel saam met Mandi du Plooy-Baard, by wie sy baie oor die telenovela-medium geleer het.

Anya Human vertolk die rol van Katinka. Foto: Verskaf
Fouché: ‘n Nuwe voorkoms en moeilikheid op pad
Kykers wat reeds vir Katinka ontmoet het, kan hulself nou voorberei op die koms van haar broer, Fouché, vertolk deur die gesoute akteur Ruan Wessels.
Fouché wurm hom vinnig in Karla se lewe in en laat mense dadelik wonder wie hy werklik is. Ruan het sy voorkoms spesiaal vir die rol verander — met ‘n nuwe haarstyl, snorretjie, soul patch en oorbelle.
“Dit is elke dag uitdagend om te sien wat Fouché vandag aanvang. Dit is glad nie wie ek is nie,” lag Ruan. “Hy tree soms nogal onbeleefd op en is altyd reg om sy vuiste te swaai of moeilikheid te maak. Is hy ‘n krimineel? Nee, maar hy gaan beslis vir ‘n paar interessante gebeure sorg.”

Ruan Wessels vertolk die rol van Fouché. Foto: Verskaf
Paaie kruis weer
Vir Anya en Ruan is die samewerking op Diepe Waters ‘n besondere mylpaal. Die twee het voorheen saam aan die Showmax-reeks Wyfie gewerk — Ruan as akteur en Anya as deel van die grimeringspan.
“Dit was lekker om vir die eerste keer saam met haar die vloer as akteurs te deel en ‘n vriendskap te bou,” sê Ruan.
Anya stem saam: “Katinka en Fouché het ‘n interessante dinamika; hulle is al deur baie saam en daar is baie geskiedenis. Dit was heerlik om saam met Ruan te werk.”
Wanneer Ruan nie voor die kameras is nie, stof hy sy skryfwerk af. Sy nuwe gedig, “Highway Hartseer”, word binnekort vrygestel tesame met sy eie skilderye en fotografie.
Met Katinka wat geen filter het nie en Fouché wat gereed is om amok te saai, gaan die broer-en-suster-duo die dinamika in Boskruin deeglik skud. Kykers kan uitsien na ‘n gelaagde blik op twee karakters wat deur ‘n rowwe verlede gevorm is, terwyl hul ingewikkelde geskiedenis en onverwagse keuses vir groot drama, skuurplekke en onvoorspelbare wendings gaan sorg. Een ding is seker: Boskruin gaan nooit weer dieselfde wees nie.

Anya Human en Ruan Wessels se karakters bring nie net ‘n vars energie nie, maar ook ‘n goeie dosis drama en onvoorspelbaarheid na ‘Diepe Waters’. Foto: Verskaf
Lees ook: Righard is ná ‘n jaar weer ‘Diepe Waters’ se geliefde Tommie
