Deur Rachel Jonker
“Vir twee harte om mekaar te vind, moet daar so min as moontlik onbeantwoorde vrae tussen die boer en sy pasmaat lê,” het die aanbieder Reandi Grey aan die begin van die episode gesê.
En daar was beslis vrae.
Ná Jack van Hermanus verlede week vir Lené huis toe gestuur het, het die fokus hierdie week op Arno, JD en Willie se verhoudings geval. Met plaaswerk, individuele gesprekke en die onvermydelike kennismaking met familie en vriende, het die drie boere al hoe nader aan ’n besluit beweeg – al stem hul hart en kop dalk nog nie so lekker ooreen nie.
Arno se pa het reeds ’n besluit gemaak
Vir die 28-jarige bosbouer Arno in Tzaneen was dit ’n dag om sy twee pasmaats, Joanè en Rosanne, ’n bietjie dieper in sy leefwêreld in te nooi. Onder sy leiding het hulle hul eie bome geplant – maar dit was die gesprekke daarna wat ’n groot indruk gelaat het.
Arno het oor sy grootste vrese en sy verwagtings van ’n toekomstige vrou gepraat. Hy is glo die bangste vir haaie, maar wanneer dit by die liefde kom, lyk dit asof hy minder gespanne is vir wat voorlê. Hy erken immers dat hy al hoe meer potensiaal vir die toekoms sien.
Toe was dit tyd om die mense te ontmoet wat hom die beste ken.
Arno sê hy laat hom nie maklik voorskryf nie, maar hy weet ook dat sy familie en vriende se menings tel. Sy pa het selfs erken hy het reeds besluit wie hy dink die beste by sy seun pas.
Een pasmaat se oë het besonders helder geblink en sy het duidelik gevoel sy weet waar sy hoort. Maar gaan dit so bly?
Uiteindelik is dit natuurlik Arno se hart wat die finale sê moet hê.
JD kan eenvoudig nie kies nie
Op JD se plaas in Reitz was Lara en Leonè gou deel van die plaaslewe gemaak – en moes hulle help om die Bonsmara-kudde te voer.
Hulle het heel gemaklik gelyk en daar was heerlik gelag. Maar JD het erken dat hy in twee geskeer is, en die individuele gesprekke het nie sake vir hom makliker gemaak nie.
“Altwee is so blêddie oulik,” erken hy. En juis dít maak die keuse so moeilik.
Namate die groot besluit nader kom, raak die spanning nie minder nie. JD erken hy het nog nooit sulke mooi meisies na ’n braai toe geneem nie. Maar wie sal hy weer wil nooi?
Willie is terug op koers
Tayla se onverwagse vertrek het nuwe hoop na Willie se plaas op Harrismith gebring. Lezelle en Madelé het saam met hom op die mielielande gewerk om swamme te bekamp – gelukkig met ’n hommeltuig byderhand om te help.
Met Tayla uit die prentjie het dit gelyk asof die twee oorblywende vroue uiteindelik kans gekry het om die “ware Willie” beter te leer ken.
En dit het gewerk.
Een van die twee erken haar gevoelens verdiep, terwyl Willie self steeds op die briek trap. Hy erken dat hy nog nie seker is oor wie sy hart die sterkste voel nie.
Maar een ding is seker: Dit is hoog tyd dat Willie ’n maat vind.
Tyd sal leer
Soos Reandi dit gestel het: “Stap vir stap begin elkeen hul mure laat sak en hul harte oopmaak. Elke tree op pad na die liefde is ingewikkeld, maar die einddoel? Iets waarna elkeen van ons hunker. Net tyd sal leer of hierdie gesprekke genoeg aan elkeen se harte kon raak om ’n besluit te kan neem.”
Daar is immers geen resep vir die liefde nie. Soms weet jy onmiddellik; soms vat dit tyd. En soms moet jy eers deur ongemaklike gesprekke, familie se insette en heelwat plaaswerk gaan voordat jy weet wie langs jou hoort.
Vir Arno, JD en Willie kom daardie oomblik al hoe nader.

Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream beskikbaar.








































