kategorieë: Bekendes

Aan Nigella se tafel

Soms kry ’n mens ’n wonderlike oproep, so wonderlik dat jy dit nie kan glo nie. Toe die South African Council of Shopping Malls my uit die bloute bel om te hoor of ek met Nigella Lawson ’n onderhoud wil voer, was ek doodseker iemand is nou besig met ’n poets! Niemand het eens geweet die bekende glanskok kom Suid-Afrika toe nie, en hier nooi hulle my om ’n eksklusiewe onderhoud met haar vir rooi rose te voer!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ek is ’n toegewyde aanhanger en natuurlik het ek die geleentheid aangegryp. Nigella se kookboeke en programme begeester my al van my studentejare by die sjefskool af. Haar unieke, eenvoudige kosaanslag en haar kenmerkende sexy en beskrywende TV-aanbieding, het haar wêreldberoemd gemaak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Nigella sê sy is ’n “foodie”, beslis nie ’n sjef nie, en eerder ’n “eater”. Sy skryf haar sukses en groot aanhang aan haar eenvoudige aanslag toe.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Dit is omdat ek ’n huiskok is wat daarvan hou om vinnig en maklik kos te maak. Geregte wat jy in een kastrol maak, is mý manier van kook; jy gooi enigiets van hoender tot groente saam en oor ’n uur het jy aandete. Ek vereenvoudig die meeste resepte waarop ek afkom, want kos maak moet plesierig wees en nie noodwendig baie tyd in beslag neem nie.”

Nigella het ’n meestersgraad in moderne en Middeleeuse tale aan Oxford verwerf (slimkop, boonop!), en dis geen wonder ons hang aan haar lippe wanneer sy kos so sensueel beskryf nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Kos is dalk in haar gene, want haar oupa aan moederskant, Barnett Salmon, was mede-eienaar van die bekende J. Lyons and Co-koffiehuis-, hotel- en restaurantgroep. En miskien is haar
sakevernuf ook aan gene te danke. Haar pa, lord Nigel Lawson, was immers die Britse minister van finansies in Margaret Thatcher se kabinet.

Ná haar studie het sy as joernalis begin werk en haar liefde vir kos ontdek toe sy as restaurantresensent vir The Spectator begin skryf het. Sy het haar eerste boek, How to Eat: The Pleasure and Principles of Good Food, in 1998 geskryf nadat sy ’n gasvrou in trane gesien het oor ’n platgevalde crème caramel. Die boek het kroekgoed en wenke bevat wat onthaal maklik maak, en ’n merkwaardige 300 000 kopieë is verkoop. Dit is ook as een van die belangrikste kookboeke van die eeu bestempel. In 2000 het sy How to be a Domestic Goddess geskryf en binne net vier maande het ’n rekordgetal van 180 000 boeke van die rakke af gevlieg. Ons het haar in 2001 die eerste keer op die kassie gesien in Nigella Bites. Die wêreld was onmiddellik verlief op die sensuele kosaanbieder en kon nie genoeg van haar kry nie.

Tussen haar suksesse deur, was daar ook hartseer. Haar eerste man, John Diamond, is in 2001 aan keelkanker oorlede. Haar ma en suster is ook albei aan kanker oorlede. En toe trou sy met die bekende kunsversamelaar en advertensie-agentskap-eienaar, Charles Saatchi. Die huwelik was redelik stormagtig en het in ’n smerige en baie openbare egskeiding geëindig.

Haar gewildheid het by die dag toegeneem. Sy het al byna drie miljoen kookboeke verkoop, en as sy iets in een van haar kosprogramme gebruik het, was dit die volgende dag uitverkoop. In 2006 het sy byvoorbeeld eendvet as ’n noodsaaklike item vir die Kersete aangeprys en die verkope daarvan het verdubbel! Sy is waarskynlik een van die invloedrykste kosskrywers op aarde.

Nigella daag soos ’n ware celeb by die onderhoud op – met ’n hele entourage met tweerigtingradio’s en al.

Sy is baie kleiner as wat ek haar voorgestel het en is fyn uitgevat in ’n stylvolle rooi rok. Terwyl ons op die video-opname wag, gesels sy land en sand oor haar mooi rokkie, haar kinders, Cosima (23) en Bruno (21), en hoe sy daarvan hou om vir hulle te kook.

Kamera, ligte, aksie! En ons almal is tjoepstil toe Nigella Lawson oor kos begin praat.

Jy sluip mos graag laatnag kombuis toe vir ’n middernaghappie. Wat is jou gunsteling-snoephappie?

“Ek het ’n verleidelike, gesoute sjokoladetert uit een van my boeke wat my altyd roep as dit in die yskas is. My ander gunsteling is ’n goeie, sterk bloukaas! Enige gereg met bloukaas in sal
my ná middernag yskas toe lok. Ek hou ook baie van ’n krakerige suurdeegbrood-toebroodjie met wat ook al in die yskas is daarop.”

Kos het die afgelope paar jaar baie verander. Wat sou jy sê is die nuwe “gesonde” kos?

“Ek glo in matigheid, en ek wil my van niks weerhou nie. As ek ’n lekker skyf sjokoladekoek wil eet, doen ek dit. Ek glo as jy jou van iets weerhou, gaan jy jou net later daaraan ooreet. Ek wil nie graag iemand wees wat net van chia-poeding leef nie, maar net so wil ek ook nie net van steak en tjips leef nie. Ek is gek na avokado’s en geniet iets soos krulkool (kale), maar dis omdat dit lekker is en nie noodwendig omdat dit goed vir jou is nie.”

Jy het die afgelope paar maande baie gewig verloor. Wat is jou geheim?

“Ek het ’n operasie gehad. Nie die soort waaraan jy dink nie, ’n voetoperasie! Ek kon nie so baie loop nie. Dit is nie dat ek nie vir iemand kon vra om vir my ’n stukkie koek in die yskas te gaan haal nie, ek kon net nie vir hulle vra om ’n tweede stukkie ook te gaan haal nie! So, my geleenthede om te eet het aansienlik verminder. Ek doen ook drie keer per week ’n rustige vorm van joga wat tot die gewigsverlies bygedra het.”

Daar is so baie resepte aanlyn beskikbaar, dink jy kookboeke is nog relevant?

“Ja, vir seker. Ek is steeds mal oor die gevoel van ’n kookboek in my hande en verkies om van bladsye af te kook. Die meeste bloggers wat ek ken, wil baie graag ’n kookboek publiseer, en dit sê eintlik vir my alles. Ek gebruik ook die Internet om resepte te soek. Ek het gewoonlik reeds ’n idee in my kop en vergelyk dan net al die verskillende opsies met mekaar. Ek vereenvoudig die meeste van die tyd al die resepte en skep my eie geurkombinasies.”

Sonder watter bestandele kan jy nie in die kombuis klaarkom nie?

“Sonder ’n goeie olyfolie en suurlemoene kan ek nie. Ek gebruik die sap én skil van suurlemoene in soet en sout geregte. En natuurlike seesoutvlokkies, wat ek ook in soet en sout geregte gebruik.”

Bronne: express.co.uk

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.