Deur Maryke Roberts. Foto’s: Gys Loubser
Die span by Momentum Aardklop het Vrydag die beste van die beste by vanjaar se fees by ’n toekenningsgeleentheid in die Kaap vereer. Hoewel die fees nie ’n kompetisie is nie – kuns is immers grensloos – is dié pryse tog jaarliks bedoel as aansporing vir die land se kunstegemeenskap om aan te hou kuns, dikwels te midde van uitdagende omstandighede.
Soos die feesdirekteur, Alexa Strachan, in ’n brief aan vanjaar se kunstenaars sê: “Ons wil uit ons harte die grootse dankie van alle dankies aan ’n ieder en elk van julle rig – elke tegnikus, van kabel-joggie tot verhoog- en venue-bestuurder, sonder julle is die kunstenaars se werk bloot onmoontlik; elke voorportaler; elke kaartjieverkoper; elke skrywer; elke vervaardiger en produksiebestuurder; elke kunstenaar, in watter genre ook al. Júlle is die rede vir Aardklop se bestaan. Dis vir júlle wat ons jaar ná jaar aanhou om ’n platform te bly skep.”
- Alexa Strachan, Michelle Pretorius en Deon Lotz.
- Gary de Klerk, Ierephaan Abrahams en Elzabé Zietsman.
- Jurg Human, Margit Meyer-Rödenbeck, Frank Opperman, Esmarie Meyer, Deon Lotz en Michelle Pretorius.
Die fees-aanbod was oudergewoonte uitstekend en het ’n groot verskeidenheid ingesluit. Dit het gesorg dat die beoordelaarspaneel se taak nie ’n maklike een was nie.
“Vanjaar se Aardklop-fees was ‘n lewendige vertoonkas van teater, musiek en kuns, met ’n reeks produksies en uitstallings wat aan uiteenlopende smake voldoen het,” sê die paneel in ’n verklaring. “Die klassieke-musiekprogram het uitgestaan vir sy uitsonderlike gehalte, wat die skepping van ’n nuwe kategorie – Beste Uitvoering: Klassieke Musiek – tot gevolg gehad het. So ook is die UitKlop-toekenning ingestel om produksies te vereer wat durf en oorspronklikheid getoon het.
“Met diepe dankbaarheid teenoor alle kunstenaars, deelnemers en borge wens die paneel julle sterkte toe met alles wat julle in die volgende jaar gaan aanpak.”
- Robert Kruger en Minke Marais.
- Rolanda Marais en Marie Vogts.
- Alexa Strachan, Hana Yim-Wahl en Tiisetso Mashishi.
- Jana Hattingh en Egbert de Waal.
Vanjaar se groot wenner is Seun, wat met ’n allemintige vyf toekennings wegstap: Beste Akteur (Wilhelm van der Walt), Beste Regisseur (Nico Scheepers), Beste Aanbieding: Toneel, Beste Algehele Aanbieding én Hartsvriende Beste Produksie.
Oor dié eenmanstuk, wat gegrond is op die skrywer Dana Snyman se gelyknamige boek, sê Scheepers: “Baie dankie, Aardklop. Dankie dat julle die vure van kuns en Afrikaans steeds laat brand, en vir die platform om werk te skep wat durf en waarheid vra.
“Seun is gebou op diep vertroue en enorme toewyding – veral van Wilhelm van der Walt, wat sy hele wese kom gee het. En dankie aan (die vervaardiger) Leftfoot vir jul leiding en onwrikbare steun. Dana Snyman, dat jy jou verhaal so eerlik en skroomloos met die res van ons gedeel het. Ek’s ongelooflik trots op hierdie span, en dankbaar dat julle hierdie storie raakgesien het.”
Scheepers het ook vir Dana Snyman as die skrywer vir sy storie bedank, en vir die voorreg om dit met gehore te kan deel.

Frank Opperman, Esmarie Meyer, Wilhelm van der Walt, Elsa de Bruyn en Alexa Strachan.
Die wenners in elke kategorie is:
- Beste Aktrise: Elzabé Zietsman vir Routrip
- Beste Akteur: Wilhelm van der Walt vir Seun
- Beste Regisseur: Nico Scheepers vir Seun
- Beste Algehele Aanbieding: Seun
- Toekenning vir Grensverskuiwende Werk: The Scullery Quintet: Stir-fried Sonatas
- Visuele Kuns: Beste Uitstalling: Corpus Naturae, Jaco van Schalkwyk
- Beste Musiekgedrewe Produksie: Amanda Strydom: The incredible journey of Tinkerbell van Tonder
- Beste Klassieke Musiek-uitvoering: Road Trip Rhythms
- Beste Musiekgedrewe Uitvoering: The Scullery Quintet
- Hartsvriende Beste Produksie: Seun
- Beste Nuutgeskrewe Afrikaanse Teks: Nataniël vir NATANIËL + CHARL = 25
- Beste Aanbieding: Toneel: Seun
- UitKlop Toekenning: Alfred Adriaan: Positive Strokes
- Ekstra Myl: Riaan Rademan (Tegniese projekbestuurder vir Blond Productions)

Riaan Rademan, Alfred Adriaan,Amanda Strydom, Elzabé Zietsman, Magdalena de Vries, Wilhelm van der Walt, Jaco van Schalkwyk, Hana Yim-Wahl, Tiisetso Mashishi en Coenraad Rall.
Momentum Aardklop het ook die se datums vir 2026 bekend gemaak: 29 September tot 4 Oktober. Die fees val oudergewoonte weer saam met die September-skoolvakansie. Volg hulle intussen by aardklop.co.za en op sosiale media om op hoogte te bly.
Lees ook: Margaret uit Hollywood: Brad Pitt, die charismatiese rolprentster







