kategorieë: Bekendes

Anne Hathaway: As drome waar word

Anne Hathaway is ’n wulpse skoonheid: ivoorkleurige vel, swart lokke, nie hare nie, lókke wat in welige golwe oor haar skouers tuimel en perfekte tuitlippe wat lyk of sy oorgehaal is om ’n borrel te blaas. En sy is nog slim ook.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Voorheen het haar vinnige antwoorde soms verdedigend en gedwonge geklink – so asof sy besluit het sy gaan iets snaaks sê om te bewys dat sy haarself nie te ernstig opneem nie. Dit het soms ’n afstand geskep.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ons het onlangs in New York gesels oor haar fliek One Day wat nou in teaters wys. Anne was baie gemakliker, meer tegemoetkomend en nie so oorgretig om haarself te bewys nie. Sy is nie meer skaam om haar ware kleure te wys nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar niemand het ooit aan haar talent getwyfel nie. In Brokeback Mountain was sy broos, braaf en pragtig. Al het sy ’n klein rolletjie gehad, het ’n mens besef daar steek meer in haar as romantiese komedies. Ná The Princess Diaries het sy haar babavet en ongetemde haarstyl verloor en in The Devil Wears Prada as ’n mode-ikoon ontluik. En so het sy almal van ons laat glo dat ons ook ’n metamorfose kan ondergaan. In Get Smart het sy bewys dat sy snaaks kan wees. Rachel Getting Married was resensente se droom en in Alice in Wonderland het sy as die Wit Koningin ’n leëkoppie gespeel, maar met haar kreatiwiteit daarin geslaag om die gehoor deel van die grap te maak. In Love and Other Drugs het sy vir die eerste keer naak voor die kamera verskyn – fisiek en emosioneel.

Elke fliek het ’n nuwe faset van Anne na vore gebring en in One Day word haar verskillende talente saamgetrek. Dis die reis van ’n vrou wat haarself ontdek, foute maak, haarself verloor, die waarheid erken en stappe doen om te kom waar sy wil wees. Anne het in New Jersey grootgeword. Haar pa was ‘n prokureur en haar ma ’n aktrise. Sy wou Anne se talent ontwikkel en het haar na die indrukwekkende Barrow Group Theater Company in New York gestuur toe sy ’n tiener was. Anne se loopbaan het op 18 met The Princess Diaries vlam gevat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Maar as jy met haar gesels, besef jy dat professionele sukses nie noodwendig beteken jy is gelukkig nie. ’n Mens kry die idee dat sy al werklik seergekry het. Dit was waarskynlik vir haar pynlik en vernederend toe dit aan die lig kom dat die man van haar drome, Raffaello Follieri, ’n swendelaar is en glad nie ’n skatryk Italiaanse eiendomsontwikkelaar nie. Sy was altyd baie oop oor haar gevoelens vir hom, en toe die skandaal op die lappe kom, het die media haar op publisiteitstoere met moeilike vrae gepeper. Maar sy het dié moeilike tydperk dapper en met grasie hanteer. En daar is ’n nuwe liefde aan haar sy: die juweelontwerper Adam Shulman met wie sy getroud is. In ‘n oranje-blou-en-room Gucci-rok en Alexander McQueen-skoene het Anne my vrae aandagtig en met ’n tikkie humor beantwoord.

Glo jy aan geesgenote?
Ja, maar ek glo nie daar is net een spesifiekte mens vir elkeen nie. Daar is wel een spesiale mens wat jou siel meer as die ander verlig.

Wat het jy by jou karakter in One Day geleer?
Ek het sagter geword, en ek het anders begin dink.

Hoeveel van Emma (die karakter) sien jy in jouself?
Ek wens daar was baie meer van haar in my. Ek het lief geword vir haar, sy het my geïnspireer. Sy is so skerp en snaaks, dis moeilik om nie van haar te hou nie. Sy is eerlik en getrou aan haarself en ek streef daarna om meer soos sy te wees. Ek kon my ook daarmee vereenselwig dat sommige mense langer neem om te ontluik en tot hul reg te kom. Ek was nes Emma ’n late bloomer.

Hoekom sê jy jy was ’n late bloomer?
(lag) Ek glo daaraan om altyd professioneel te wees. Ek gesels al met jou sedert ek 18 is, en ek dink ek het soms ‘n selfvertroue en selfwaarde probeer weergee wat ek nie regtig gehad het nie. Maar die afgelope ruk voel ek om verskeie redes gemakliker in my vel en gelukkiger met die keuses wat ek maak. Geluk en saligheid het eers later oor my pad gekom.

Jou karakter is onseker oor haar talent. Het jy al aan jouself getwyfel?
Glad nie, ek is perfek! (lag). Natuurlik was ek al dikwels onseker. Dis deel van die lewe.

Waaroor voel jy onseker?
’n Mens voel maklik op ‘n gegewe oomblik onseker. Jy wonder of jy aantreklik is, nie noodwendig fisiek nie, maar ook oor jou intelligensie en geloofwaardigheid. Soms sal ek in ’n gesprek skielik dink: sjoe, ek het nou die onnoselste ding gesê. En al wat gebeur het, was dat my gespreksgenoot vir ‘n rukkie stilgebly het en toe kruip die twyfel in. Wanneer die mens dan iets sê soos: “Wow, ek het nog nooit so daaraan gedink nie, dis interessant!” voel ek so ontsettend verlig. My onsekerheid spruit seker maar uit ‘n gebrek aan selfvertroue.

Wat moet elke vrou in haar kas hê?
Dit hang van die vrou af. Ek dink ’n wit knopieshemp met ’n goeie snit is ’n belegging. Maar my woord is nie wet nie. Maak jou kas oop en vra: “Wat sou Audrey (Hepburn) gedra het?” En natuurlik ’n kort swart rokkie.

Wat van dekor? Van watter kleure hou jy?
My ma is besig met die teaterweergawe van die gewilde fliek Steel Magnolias en die versoeking is groot om te sê (in ’n suidelike aksent): “My colours are blush and bashful” (’n bekende sin uit die fliek wat Julia Roberts bekend gemaak het). Ek is besig om my huis in Los Angeles op te knap, en moet dit doen terwyl ek aan Batman werk. Ek het besluit om ’n binneversierder te kry om my te help. Ek het baie pret, maar het nog nie ’n kleurskema nie.

Het jy ’n gunstelingkleur?
Fuchsia-pienk. Ek kan nie genoeg daarvan kry nie. My huis in New York, wat ek self gedoen het, is amper klaar. Ek hou daarvan om mooi goed huis toe aan te dra. Ek het nie agtergekom alles is helder pienk nie totdat ek dit bymekaargesit het. Ek is mal oor kleur, en verskillende style wat saam gebruik word. Minimalisme is nie vir my nie. Dis baie eklekties en ’n bietjie boheems, met ’n tikkie glamour daarby.

Hoe sal jy jou modestyl definieer?
Ek kry dit nooit reg as ek myself moet “klassifiseer” nie. Ek het altyd probeer om reg vir die geleentheid aan te trek. Deesdae het ek meer pret. Ek hou van klere wat slim is en goed gemaak is; iets wat vroulik is, maar met ’n tikkie punk daarby. Ek is mal oor Vivienne Westwood en Isabel Marant se klere. Ek hou nie van ‘n vulgêre styl nie, maar ek gee nie om om ’n paar grense te verskuif nie. Ek hou daarvan om te waag.

Het jy ’n gunsteling-kledingstuk in jou kas?
Ek het ’n pragtige Rick Owens-leerbaadjie wat ek gekoop het nadat ons The Devil Wears Prada voltooi het. Dis die mooiste ding wat ek besit en raak net beter hoe ouer dit word. Ek het dit onlangs na Valentino se modevertoning aangehad. Ek het ook ’n swart kantrok uit die 1820’s gekoop en is versot daarop.

Hoe broos is jy in ’n verhouding?
’n Mens moet baie sterk wees om broos te wees. Dis makliker om met ’n renostervel deur die lewe te gaan. Dis maklik om ’n muur om jou hart te bou en nie goed te ervaar nie. Dis moeilik om jouself bloot te stel en te bly hoop, en dit verg dapperheid. Ek streef daarna. Ek wil nie eendag wakker word en jammer wees oor iets wat ek nie gedoen of gesê het nie. Maar ek is net ‘n mens.

Stel jy jou bloot in ’n verhouding?
Ek druk hulle in die sandboks vas tot hulle sê hulle is lief vir my (lag). Die lewe hou iets van alles in. Soms dra ek my hart op my mou, en as die ou iets simpels sê, sit ek weke lank in my kamer en huil terwyl ek na Adele luister. Ander kere werk dinge baie beter uit as waarop jy ooit kon hoop. ’n Mens moet net aanhou probeer.

Het jy ’n toevlugsoord?
Ek het ’n paar. Ek het onlangs een van my gunstelingplekke met my man gedeel. Ek het hom na Positano in Italië geneem en vir hom ’n plek gaan wys wat ek ’n paar jaar tevore ontdek het. Ons het die Amalfi-kus saam ontdek. Dit was pragtig en het gevoel soos ’n droom wat waar word. My gesin hou al sedert my kleintyd op ’n sekere plek vakansie. En wanneer ek my batterye moet herlaai, en my kop weer reg aangeskroef moet kry, gaan ek soontoe. Ek ry kaalvoet met my fiets strand toe, en kuier saans saam met my gesin op die stoep. Dis baie eenvoudig, maar perfek.

Leef jy in die hede?
Ek doen nou. Ek het eenkeer ’n dokter gaan spreek en hy het vir my gesê: “Jy’s ’n baie goeie aktrise.” Ek sê: “Dankie!” En hy sê: “Nie jou werk nie.” Interessant, dink ek. “Jy lyk kalm en ontspanne en jy maak oogkontak, maar jy het nog nie eenkeer asemgehaal sedert jy hier ingekom het nie.” Ek het toe besef ek het geen verhouding met my asem nie, en hoe kan jy in die hede leef as jy nie asemhaal nie? Ek het toe my lewe begin verander. Dis ’n goeie begin: leer hoe om asem te haal.

Waaraan bestee jy te veel geld?
Moontlik aan reis. Ek moet altyd probeer om na ’n plek toe te gaan waar daar nie te veel mense is nie en wat goeie sekuriteit het. Soms word ek gepla as ek reis, en dan moet ek ekstra voorsorg tref wat duur kan wees. En skoene, ek is ‘n skoen-meisie. Ek is seker baie vroue sal verstaan wat ek bedoel. En vir my huis is dit Carrara-marmer. Dis seker die duurste van alles.

Hoeveel pare skoene het jy?
Nie so baie nie. Ek het al artikels gelees waar die vrou praat van tweehonderd paar Louboutins. Ek sou haar graag wou vra waarheen sy al daardie skoene dra. Dis absurd. Ek het seker so dertig of veertig paar. Ek hersirkuleer en gee gereeld goed terug. Ek hou niks vir baie lank nie. Ek dwing myself om eerlik te wees. As ek iets vir ’n ruk nie gedra het nie, gee ek dit weg.

Waarmee bederf jy jouself?
Ek hou van ‘n goeie massering. Dit maak my gelukkig. Of om ’n goeie bottel wyn met vriende te deel. Ek drink nie die hele bottel alleen op nie. Nie elke aand nie (lag).

Was daar ’n dag wat jou lewe verander het?
3 Augustus was die dag toe The Princess Diaries uitgereik is. Op daardie dag het my lewe verander en my drome waar geword. Almal het my toe gevra of ek ooit daarvan gedroom het om ’n prinses te wees. Niemand het my geglo toe ek “nee” gesê het nie. Ek wens ek het toe gesê – wat die waarheid was – dat ek eerder Catwoman wou wees (lag). Die eerste keer toe ek daardie katpakkie aantrek, het nog ’n droom waar geword. Ek het onverskrokke, stout, baie gelukkig en nogal sexy gevoel.

Wat was die grootste wysheid wat jy nog gehoor het?
Die dag toe my joga-instrukteur sê “Jy kan reg wees, of jy kan vry wees,” het my kop ontplof. Dit was pragtig. Ek is van toe af in ’n goeie bui.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

4 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

5 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.